Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Uitgestorwe’ plant ná 200 jaar in Wes-Kaap gekry

Een van die eerste bekende plantspesies wat vermoedelik reeds in die 1800’s weens bosbou- en landboubedrywighede in die Wes-Kaap uitgesterf het, is herontdek.

Psoralea cataracta is ná meer as 200 jaar herontdek. Foto: Verskaf

Psoralea cataracta, ’n soort fonteinbos van die ertjie-familie, is deur Brian du Preez (26), ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit van Kaapstad (UK), herontdek. Hy het toevallig op ’n groep van die plante langs ’n voetpaadjie naby ’n rivier op ’n plaas in die Tulbagh-omgewing afgekom, luidens ’n gesamentlike verklaring van die Universiteit Stellenbosch (US) en die UK.

P. cataracta was tot dusver slegs bekend danksy ’n enkele voorbeeld wat in 1804 by die Tulbagh-waterval gevind is. In 2008, ná vele vrugtelose soektogte, is dit amptelik in die rooi datalys van Suid-Afrikaanse plante as “uitgestorwe” verklaar.

Du Preez het onmiddellik geweet watter vonds dit was, aangesien hy as vrywilliger reeds lid was van vorige soekpogings in die omgewing van die Tulbagh-waterval saam met Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (Crew), ’n organisasie wat hom beywer vir die bewaring van skaars en bedreigde veldblomme.

“Toe ek daardie delikate garingagtige blomstele sien, het ek gewéét dis Psoralea cataracta,” sê Du Preez.

Prof. Charles Stirton van Brittanje, Du Preez se medepromotor en ’n internasionaal erkende kenner van die genus Psoralea, het sedertdien bevestig dat hy inderdaad die lank verlore spesie herontdek het.

Stirton sê vir hom is die uitstaande kenmerke die merkwaardige steunblaartjies, baie lang draadvormige steeltjies en die unieke blomkleur.

Die blom van Psoralea cataracta. Foto: Verskaf

“Dit is ’n baie belangrike vonds aangesien dit wys hoe die Kaap se bergagtige gebiede steeds relatief min nagevors is. Gegewe die feit dat baie van die Kaapse flora slegs ná brande opkom en ’n kort leeftyd het, en dat hierdie brande soms ongereeld voorkom, is die kans om op die regte tyd in die regte omgewing te wees redelik skraal,” het Stirton in sy gelukwense aan Du Preez gesê.

Die verskillende dele van Psoralea cataracta. Foto: Verskaf

Ismail Ebrahim, projekbestuurder van Crew, beaam dat dit ’n uitsonderlike vonds is: “Dit is werklik baie ongewoon om ’n spesie te vind wat al vir so lank as uitgesterf beskou is; iets wat vir donkiejare nie gesien is nie.”

In 2016 het Du Preez as honneurstudent in plantkunde aan die US twee spesies van die ertjiefamilie, Polhillia ignota en Aspalathus cordicarpa, herontdek. Ook hulle is as uitgesterf beskou nadat hulle laas in onderskeidelik 1928 en die 1950’s gesien is. Hierna het hy ook in 2017 sy MSc-graad aan die US behaal met navorsing oor Polhillia.

Vanjaar het hy reeds nuwe spesies van Aspalathus ingesamel wat op sandduine op die walle van die Rietrivier in die Swartruggensberge noord van Ceres groei.

Hy is tans haastig om die spesie te beskryf, aangesien hierdie gebied van die Rietrivier geoormerk is vir boorduitbreiding.

“Ons kan slegs beskerm wat ons reeds beskryf het. Slegs spesies wat formeel beskryf is, kan rooidatalysstatus verkry, wat dit dan wetlik beskerm teen ontwikkeling, afhangend van die bewaringstatus,” sê Du Preez.

Brian du Preez het toevallig op ’n groep van die plante afgekom en onmiddellik besef watter belangrike vonds dit is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Psoralea Cataracta  |  Wes-Kaap  |  Plant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.