Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
US-doktor se tegnologie help stryd teen stropery

Renosterstropery is ’n baie ernstige probleem in Suid-Afrika, met meer as 1 000 renosters wat volgens die internasionale organisasie Save the Rhino per jaar doodgemaak is in die tydperk 2013 tot 2017.

En hoewel teenstropingstrategieë bydra tot ’n effense afname hierin, het natuurbewaarders en ander rolspelers steeds ’n tekort aan intydse data oor renostergedrag wat belangrike inligting oor dreigende stropergevaar kan verskaf.

Só sê dr. SP le Roux, wat onlangs sy doktorsgraad in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Le Roux se studieleiers vir sy navorsing was prof. Thomas Niesler en dr. Riaan Wolhuter van die US se departement elektriese en elektroniese ingenieurswese.

Dr. SP le Roux

Hy het sy navorsing in die digitale seinverwerkingslaboratorium in dié departement gedoen, waar die projek steeds aan die gang is.

Le Roux is geesdriftig oor natuurbewaring asook die gebruik van tegnologie en kunsmatige intelligensie om oplossings vir groot uitdagings te vind. Daar is ’n behoefte aan tegnologie wat natuurbewaarders kan help in hul stryd teen renosterstropery, sê hy in ’n verklaring.

Hy sê aangesien geen teenstropingstrategie suksesvol op sy eie aangewend kan word nie, moet ’n verskeidenheid strategieë saamgevoeg word ten einde ’n voorsprong bo die stropers te kry.

As sy bydrae tot hierdie stryd, het Le Roux ’n outomatiese gedragsklassifikasiestelsel wat op die dier gedra word, ontwikkel om intydse inligting oor renostergedrag te verskaf en sodoende met teenstropingspogings te help.

Le Roux sê gewoonlik word dieregedrag aanlyn geklassifiseer nadat die data opgeneem is en verskaf dit nie intydse dataontleding nie.

“Om intydse ontleding moontlik te maak, moet data per radiosein na ’n seinontvanger gestuur word. Dié proses benodig energie. Weens die bronbeperkings van huidige biotelemetrie-toestelle, is gedragstudies tipies van korte duur, wat van net dae tot weke wissel.”

Die biotelemetrie-plaatjie is klein en liggewig. Dit sal dus nie die dier seermaak of ongemak veroorsaak nie.

In teenstelling hiermee, behels die stelsel wat Le Roux ontwikkel het ’n intydse masjienleermodel ingebed in die mikroverwerker van ’n biotelemetrie-plaatjie wat aan die dier vasgeheg is. Hy het hierdie plaatjies gebruik om inligting oor renosters in ’n private reservaat te bekom.

Die plaatjie monitor die data van ’n driedimensionele versnellingsmeter (’n instrument wat die versnelling van ’n bewegende of vibrerende liggaam meet), waarna dit kenmerke onttrek en uiteindelik die sensordata in verskillende klasse van gedrag, soos staan, loop, hardloop, wei of lê, klassifiseer voordat dit die resultaat na ’n ontvangstoestel stuur.

Die gedragsklassifikasiestelsel kan waardevolle inligting aan natuurbewaarders, gedragsekoloë en boere verskaf.

“Die stelsel bepaal ook die dier se ligging deur middel van ’n GPS en wanneer dit met die gedragsinligting gekombineer word, word waardevolle insigte oor die dier se gedrag en waar die dier hierdie gedrag toon, verkry.

“Wanneer dit aan ’n renoster gekoppel word, verskaf die stelsel elke 6,5 sekondes bygewerkte inligting oor waar die renoster hom bevind en of dit staan, loop of lê.”

Le Roux sê die insameling van sulke inligting oor lang tydperke skep geleentheid vir die opstel van tydgekoppelde hittekaarte van dieregedrag, byvoorbeeld oor waar hulle graag slaap, staan of loop.

“Dit sal ons in staat stel om buitengewone of abnormale gedrag te bespeur deur vrae soos ‘waarom lê die renoster langer as gewoonlik – is dit beseer?’, of ‘hoekom loop dit skielik in ’n ongewone rigting, of hoekom hardloop die dier skielik?’

“ ’n Renoster se gedrag is ’n kernaanwyser van sy stresvlakke en die intydse bywerking van inligting kan as ’n vroeë waarskuwing van stropers in die omgewing dien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.