Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
UV-sentrum kry R5 m. om landelike wolboere te help
Dr. Jan Swannepoel by ’n lammetjie.Foto: Verskaf

’n Inisiatief deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) sal wolboere in landelike gemeenskappe in staat stel om binnekort internasionaal te kan meeding.

Die inisiatief van die UV se sentrum vir volhoubare landbou, landelike ontwikkeling en uitbreiding (Censarde) beoog om ’n waardevolle ketting vir wolproduksie onder Vrystaatse gemeenskapsboere te kweek.

Luidens ’n verklaring is dit een van ’n hele rits projekte wat daarop fokus om armoede te bestry en ’n volhoubare leefwyse in Vrystaatse gemeenskappe te vestig.

Censarde het ’n aksieplan opgestel om die wolproduksie van gemeenskapsboere in ’n winsgewende, volhoubare en hernubare onderneming te ontwikkel en sodoende die lewensgehalte van wolboere te verhoog.

Censarde moes die aksieplan aan die Ruforum (Regional Universities Forum for Capacity Building), ’n netwerk van 46 universiteite in Afrika wat kapasiteit in die landbousektor ontwikkel, voorlê. Ná die goedkeuring van hul projek is ’n toelae van $300 000 (sowat R4,9 miljoen) vir die ontwikkeling daarvan toegeken.

Dr. Jan Swanepoel, senior dosent en navorser by Censarde, sê die wêreld is aan die ontwikkel en beweeg van ’n plaaslike en nasionale handelsmark na ’n globale handelsmark.

“Dit beteken dat gemeenskapsboere wat op kleinskaal boer, met internasionale nywerheidsboerderye kan begin meeding.”

Hy sê daar is toenemende druk op boere van ontwikkelende lande om hul boerderye te kommersialiseer.

“Om boerderye suksesvol te kommersialiseer, moet nuwe vaardighede ontwikkel word om boere as beter entrepreneurs op te lei.

“Boere moet gehelp word met die bou van infrastruktuur. Hul behoeftes, soos toegang tot die handelsmark, moet geïdentifiseer word en aandag geniet,” sê Swanepoel.

Swanepoel benadruk dat die landbousektor op elke moontlike manier gehelp moet word om die fokus van blote bestaansboerdery te verskuif.

Betrokkenes by die Universiteit van die Vrystaat se wolprojek. Foto: Verskaf

“Die konsep van bestaansboerdery is algemeen in baie dele van die wêreld. As ons die skuif na kommersiële boerdery kan doen, kan ons die lewensgehalte van miljoene mense verbeter.”

Die wolbedryf is een van die bedrywe in die landbousektor in Suid-Afrika wat nog baie kan uitbrei.

“China is die grootste verskaffer van Suid-Afrikaanse wol. Weens die inperking kon geen wol versprei word nie, wat ’n skerp daling in die wolprys tot gevolg gehad het.

“Maar sedert die grense weer oop is en internasionale verspreiding weer toegelaat is, het die verkoop van wol ten volle hervat en is daar ’n geleidelike toename in die wolverkope.”

Censarde se projek het ook waarde vir studente.

Volgens Swanepoel vind 15 studente regstreeks by die projek baat. Onder hulle studeer twee vir ’n doktorsgraad, en drie ander werk aan hul meestersgraad.

Die ander belanghebbendes in die projek is die Dohne-merinogenootskap, ander wolbemarkingsagentskappe, kommersiële boere en die Vrystaatse departement van landbou.

“Ons glo die projek sal alle betrokkenes toerus om as winsgewende en mededingende wolboere op te tree wat ’n verskil in die globale wolmark maak,” sê Swanepoel. – Saamgestel deur Linkie Bessinger

Meer oor:  Wolboere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.