Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Vaal ‘erger as ooit’ en soldate sít

Terwyl die Vaalrivier se toestand “skokkender as ooit” is, het die weermag sy werk al in Junie gestaak omdat sy geld opgeraak het.

Van die soldate bewaak wel steeds stukkende rioolpompstasies – wat hoofsaaklik weens plundering buite werking is.

Kol. Andries Mahapa, die weermag se projekleier in die Vaaldriehoek, sê die soldate werk onder moeilike omstandighede.

Kol. Andries Mahapa Foto: johann tempelhoff

Hy sê hul werkplek “ruik baie sleg”, maar dat hulle nie sommer sal oppak en loop nie. “Ons is hier met ’n doel,” sê hy.

Miljoene liters onverwerkte rioolvuil loop steeds daagliks deur die huise van inwoners van Sebokeng en ander woonbuurte tot binne-in die Vaalrivier.

Dit stroom ook in sommige strate van Vereeniging af tot in die Vaalrivier.

Die woonbuurt Peacehaven loop veral erg deur, asook die skouterrein langs die abattoir en die ou begraafplaas.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê R1,1 miljard is begroot vir die herstel van die rioolinfrastruktuur en die departement besef die soldate werk in onhigiëniese toestande.

Volgens hom kan géén ontwikkeling in die Vaaldriehoek gebeur voordat die Vaalrivier skoon en die infrastruktuur herstel is nie.

Die East Rand Water Care Company (Erwat) is onlangs aangestel om met die herstel van die infrastruktuur te help, maar dit is nog onbekend wanneer Erwat daarmee sal begin.

Maureen Stewart, woordvoerder van die organisasie Save the Vaal, beskryf die Vaalrivier se toestand as “skokkender as ooit”.

Volgens Stewart grawe mense nou slote om die rioolafvalwater uit die woonbuurte weg te lei na die rivier. Sowat R151 miljoen is in Erwat se rekening betaal sodat hy die soldate kan help met die herstelwerk.

Stewart het gister getwiet: “Ons het nou optrede nodig. Die een departement beskuldig die ander een. Hou op met hierdie speletjie en begin tog net werk.”

Volgens haar is die syfers wat genoem word erg verwarrend.

Daar was vroeër sprake van R341 miljoen wat vanjaar vir die herstelwerk begroot is. Kort daarna het die departement van water en sanitasie ’n bedrag van R241 miljoen genoem.

“Waar het die ander R100 miljoen heen verdwyn?” vra sy.

Rosemary Anderson, voorsitter van die Emfuleni-toerisme-vereniging, sê minstens R5,5 miljard is nodig vir die herstelwerk aan aanlegte, netwerke en pompstasies. Volgens haar hoor die mense heeltyd van R1,1 miljard wat begroot is, maar niemand weet waar dié geld is nie. “Dit is die heeltyd net beloftes en ’n gepraat. Die waarheid is dat die besoedeling van die Vaalrivier en sy sytakke nou erger as ooit tevore is.”

’n Regeringsafvaardiging onder leiding van adj.pres. David Mabuza het einde verlede week op ’n besoek aan die Sebo­keng- rioolaanleg gewaarsku die inwoners van die Vaaldriehoek is “opstandig” oor die voortdurende besoedeling van die Vaalrivier en dat hulle nou “daadwerklike optrede” wil sien.

Mabuza, wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is as die voorsitter van die interministeriële komitee oor dienslewering, sê hy kom oor twee weke terug om te sien of daar gevorder word met die herstel van die rioolinfrastruktuur.

Hy sê “dinge vorder te stadig” en dat onverwerkte rioolafval steeds in die Vaalrivier inloop. Hy beskryf die situasie as “ondraaglik”.

Buang Jones, kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), sê by navraag die verslag van die MRK oor die besoedeling van die Vaalrivier is nou by die kommissie se regsafdeling.

Hy het belowe dit sal binnekort uitgereik word.

Die aanvanklike datum waarop die verslag uitgereik sou word, was einde Junie.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Vaaldriehoek  |  Omgewing  |  Rioolvuil  |  Herstelwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.