Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Vaalrivier 'vuiler as ooit’

Die Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) neem die leisels vir die rehabilitering van die besoedelde Vaalrivier op 1 Desember oor.

Die herstel van die Vaalrivier is ’n massiewe projek wat jare gaan duur, het ’n woordvoerder van die nutsmaatskappy Dinsdag gesê.

Daar is ook nog nie genoeg geld om die projek ten volle te finansier nie, sê die woordvoerder. “Erwat is wel gereed vir die uitdaging.”

In een van die eksklusiewe woonbuurte van Vereeniging het inwoners ’n baksteenkeerwal in die pad gebou om rioolvuil in ’n stormwater-kanaal te lei. Dié situasie het etlike maande nie verander nie. Foto’s: Johann Tempelhoff

Netwerk24 het dié inligting bekom nadat Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie en menslike nedersettings, Maandag gesê het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het aan die Vaalrivier onttrek.

Kol. Andries Mahape, bestuurder van die SANW se Vaalrivier-projek, het Dinsdag met “skok” op die minister se aankondiging gereageer en sê hy weet niks daarvan dat die soldate gaan onttrek nie.

Mahape sê hy het nog geen opdrag van sy lynhoofde ontvang om te onttrek nie.

“Onthou, ek is ’n gewone soldaat. Ek kry opdragte van die weermag se hoofkantoor. Ons is almal nog hier, maar verrig die afgelope vier maande net administratiewe take.”

Volgens hom is 430 soldate in die Vaaldriehoek ontplooi om die Vaalrivier reg te ruk.

Die toestand van die Vaalrivier is nou skokkender as ooit, sê Mahape.

“Ons kan niks meer doen aan die herstel van die Vaalrivier nie omdat ons geld op is.”

Njabulo Mthembu, ’n student wat lid is van die NWU-navorsingspan oor Emfuleni se rioolkrisis, by die rioolvuil wat inwoners van Peacehaven in Vereeniging na ’n dam in ’n park gekanaliseer het.

Die SANW het volgens Sisulu nie onttrek oor geld nie, maar omdat die soldate reeds “alles gedoen het wat hulle moes”.

Sy sê die departement gaan nou self die herstel van die Vaalrivier behartig.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het Dinsdag gesê die SANW se kontrak verstryk Donderdag, 31 Oktober.

“Hulle is net vir ’n jaar aangestel. Hul kontrak het nou tot ’n einde gekom,” sê Ratau.

Maureen Stewart, woordvoerder van Save The Vaal, sê die soldate het wel heelwat werk gedoen, soos om blokkasies skoon te maak en het veral ook die infrastruktuur beskerm. Hulle het ook werk by die Sebokeng-rioolaanleg gedoen en die verdampingsdam skoongemaak en herstel.

“Ons is regtig ontsteld omdat die Vaalrivier nooit tot ramp­gebied verklaar is nie,” sê Stewart­.

Verskeie belanghebbendes het Dinsdag hul kommer uitgespreek oor die infrastruktuur – dít wat wel nog funksioneer – en sê plunderaars kan nou maklik daarop toeslaan.

Ratau sê die soldate se onttrekking is geleidelik en die infrastruktuur sal steeds beskerm word. Netwerk24 het betroubaar verneem “ ’n hoëvlak-polisiespan” gaan nou die rioolinfrastruktuur beskerm.

Die Emfuleni- plaaslike owerheid het Maandag ook aansoek gedoen om ’n hofbevel dat niemand buiten die werknemers binne 500 m van die Sebo­keng- rioolaanleg mag kom nie.

Die ou enkelkwartiere van die destydse Yskor in Sebokeng is in huisvesting vir gesinne omge­skep. Rioolvuil spoel dikwels by die huise in.

Die sabotasie van dié aanleg vroeër het daartoe gelei dat dit gedeeltelik oorstroom en onklaar geraak het.

Miljoene liter rioolvuil loop sedertdien in die Rietspruit en daarna in die Vaalrivier by Lochvaal in.

Stewart sê honderde visse het ook die laaste paar dae in die rivier doodgegaan. Die dooie visse lê in hope in die Loch-gebied by die Barrage-brug.

Die herstel van die Vaalrivier gaan sowat R1,1 miljard beloop.

Volgens Mahape het die soldate R80 miljoen gekry vir bedryfskoste. Dít is die geld wat nou opgeraak het.

Stewart sê die inwoners van die Vaaldriehoek hou duim vas dat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy mediumtermyn-begrotingsrede, wat vandag gelewer word, genoeg geld vir die herstel van die Vaalrivier sal begroot.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Omgewing  |  Rioolvuil  |  Rehabilitasie  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.