Water van die Gariepdam vloei nou teen 1 000 kubieke meter per sekonde (kumek) deur die Eskom-turbines hier.
Amogelang Moholeng, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê luidens ’n verslag wat Maandag deur die departement uitgereik is, is die Gariepdam nou 104,8% vol.
“Die water wat nou uit die Gariepdam deur die Eskom- turbines vloei, wek bykomende krag op en vloei na die Van der Kloof-dam.”
Volgens Moholeng is die uitvloei van water uit die Van der Kloof-dam tot 47,1 kumek verminder om druk op die Benede-Oranjerivierstelsel te verminder.
Na verwagting sal die Van der Kloof-dam binne die volgende drie tot vier dae begin oorloop.
Die huidige invloei na die dam is 948 kumek en die dam is tans 94,5% vol.
Intussen het die watervlak van die Bloemhofdam Dinsdag tot 110,1% gestyg. Dit was Vrydag op 102,4% nadat die sluise sowat ’n week vantevore oopgetrek is. Van die sluise is intussen toegemaak om die druk stroomaf te verminder.
Die invloei na die dam beloop tans 398 kumek en die uitvloei is tot 99 kumek verminder.
Volgens Moholeng is die Vaaldam nou 73,5% vol en styg die watervlak steeds met ’n invloei van 289 kumek.
Die Spitskopdam se vlak is nou op 124,7% en loop oor teen 96,8 kumek nadat 14 mm reën Sondag in die dam se opvangsgebied geval het.
Die Vaal- en Oranjerivier se vlakke het sedert die naweek begin daal.
By Schmidtsdrift in die Noord-Kaap is die hoogte van die Vaalrivier nou 1,917 m en dit vloei teen ’n tempo van 268,46 kumek.
By Prieska het die hoogte van die Oranjerivier van 3,166 m Vrydag na 2,231 m Dinsdag gedaal.
By Upington het die Oranje van 3,622 m Saterdag na 3,185 m Dinsdag gedaal.
By Blouputs, wat na die Augrabieswaterval langs die Oranjerivier geleë is, het die rivier tot ’n hoogte van 2,05 m gestyg.