Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Van Eskom-tyd na stryd

As ywerige kampvegter vir die omgewing was dr. Wessel Swart ongelooflik beïndruk deur die wyse waarop Elise Tempelhoff, omgewingskrywer, onlangs die volle omvang van die Vaal­rivier-besoedelingskandaal in Beeld oopgevlek het.

Wessel Swart op sy lap grond aan die Wes-Rand waar hy met ayrshire-melkkoeie boer. Foto: Ilse Bigalke

Haar beriggewing het daartoe gelei dat Tito Mboweni, minister van finansies, terstond gereël het dat die weermag gestuur word om die krisis weens tonne onverwerkte rioolvuil wat die Vaalrivier binnevloei as gevolg van omliggende munisipaliteite se gebrekkige rioleringstelsels, op te los.

“Elise verdien ’n toekenning,” sê Swart, wat al jare lank self met die Mogale City-munisipaliteit stoei oor gebrekkige riolering by ’n ontwikkeling wat aan sy plaas grens. Die pompstasies by die Pinehaven-kompleks in Krugersdorp is ontoereikend en veroorsaak rioolvloei na die drie vleilande onderkant die N14-hoofweg tot in die Steynsvleidam en stroomaf na die Krokodil­rivier. Soms vloei die rioolvuil selfs byna oor dié hoofweg.

“Dieselfde scenario as dié in die Vaalrivier speel af in die Krokodilrivier, met rioolvuil wat weens gebrekkige stelsels en onvoldoende geriewe in informele nedersettings daarin beland. Talle van die toeriste-uithangplekke moes gevolglik gesluit word.

“Die verskil is dat jy dit by die Vaalrivier kan sien omdat die visse doodgaan, maar bakterieë en patogene is nie sigbaar nie.”

Volgens Swart is die derde regeringsvlak in Suid-Afrika hopeloos en onbevoeg omdat hulle toegelaat het dat dienste en infrastruktuur in duie stort. “Hulle doen niks reg nie en burgers moet die aandag daarop vestig soos wat tans gebeur met protesoptogte oor dienste.”

Ons gesels op Swart se plaas, Rietvallei, ’n entjie anderkant die Cradlestone-winkelsentrum in Muldersdrift aan die Wes-Rand. Hy woon manalleen in ’n houthuis met ’n indrukwekkende sonpaneelstelsel. Eskom-krag is merkbaar afwesig.

Buite blom die jakarandas en woel ’n verskeidenheid van voëlspesies in die vaderlandswilge, soetdoring- en kareebome, witstinkhoute, wattels en bloekoms. ’n Klompie ganse in die plaasdam is Swart se een “alarmstelsel”. Later kom die paar ayrshire-melkkoeie en hul kalwers waarmee hy boer en “aan ’n paar mense suiwer plaasmelk lewer” gedweë aangestap.

Hulle doen niks reg nie en burgers moet die aandag daarop vestig soos wat tans gebeur met protesoptogte oor dienste.

Swart het sy lewe lank aan die Wes-Rand gebly en is ’n fontein van kennis oor die ryk geskiedenis van die omgewing. Hy vertel van vroue en kinders wat in die Anglo-Boereoorlog “langs Muldersdrift se poskoetspad oor Roodekrans opgejaag is” en van wie sowat 800 in die Krugersdorpse begraafplaas lê. Hy rits die name van die destydse Randse goud­myne af, vertel van Krugersdorp se ontstaan en hoe stedelike ontwikkeling stadig maar seker sy droom gekelder het om ’n boer net buite die stad te word.

Hy was van jongs af ’n ywerige koerantleser.

“As seun in st. 2 aan die Laerskool Genl. De la Rey het ek Die Transvaler, destyds onder redakteurskap van dr. H.F. Verwoerd, reeds voor skool klaar gelees.” Die Transvaler was destyds ’n oggendkoerant en die Vaderland die middagkoerant.

Dié tradisie het hy as volwassene voortgesit.

Hy gee vandag steeds wenke aan Beeld se verslaggewers oor kwessies wat hom na aan die hart lê. ’n Onlangse berig in Metro-Suid het gegaan oor die Johannesburg-metroraad se planne vir inklusiewe hoëdigtheidsontwikkeling, wat “ ’n reuseghetto sal veroorsaak, parke sal verminder en só mense se geestesgesondheid nadelig sal raak”. Hierdie stelling is onlangs gestaaf met navorsing in ’n aantal Amerikaanse stede.

Swart het ’n graad in chemiese ingenieurswese aan Wits verwerf en het ná jare by multinasionale maatskappye van 1985 tot sy aftrede in 2007 by Eskom gewerk. Terwyl hy daar was, is hy as handelsbestuurder aangestel. Belas met sowat 6 000 kontrakte van die verskillende kragstasies het hy besef hy kort dringend ’n regsagtergrond en het toe ’n regsgraad aan Unisa gepak. Dit is met ’n doktorsgraad in sy eerste liefde, chemiese ingenieurswese, by Stellenbosch opgevolg.

Hy vertel hoe hy as “een van die laaste Mohikane” by Eskom een van ’n groep ingenieurs was wat letterlik al Eskom se kragstasies help bou het, ook Koeberg.

“Toe ek aftree, was die hele lot weg. Dit het gegaan oor regstellende aksie en kaderontplooiing. Daar was 5 000 ouens in die ingenieursgroep wat almal die skip verlaat het en ander werk moes kry.”

Daarna was hy nog agt jaar lank ’n trustee van die Eskom-pensioenfonds en hy “karring steeds” oor goed in Suid-Afrika wat hom pla, soos onteiening sonder vergoeding. Hy het onlangs ’n voorlegging daaroor aan die parlementêre Grondwet-hersieningskomitee gedoen.

Hy het Rietvallei in 1980 gekoop en destyds daarvan gedroom om ’n vark- en beesboer te word op dié lap grond naby die Walter Sisulu- Botaniese Tuin met sy bekende witkruisarend-broeipaar. Sy grond word ook begrens deur die oorspronklike plase Paardeplaats, Honingklip en Roodekrans.

Gaandeweg het stedelike bekruiping en die ontwikkeling van landgoedere, soos Featherbrooke en Pinehaven (die “groot pyn”), hom ingehaal.

Maar ek stel baie belang in die geskiedenis van my voorsate vanaf 1684, Suid-Afrika en alles wat hier gebeur. Ek wil dit beslis nie net agterlaat nie!

Hy het desnoods self ontwikkeling op sy grond oorweeg en al die nodige geotegniese en ander verslae daarvoor by die departement van omgewingsake en die munisipaliteit ingedien, maar die gebrekkige rioolstelsel in die gebied en die munisipaliteit se geldtekort om dit reg te stel het ook ’n stokkie dáárvoor gesteek.

“Die fonteine en vleilande in die area moet reg bestuur word, maar weens swak beplanning staan van die huise in Pinehaven vensterhoogte vol water wanneer dit reën omdat hulle op ’n vleiland gebou is,” sê hy.

Dan is daar plaasaanvalle, gemelde onteiening sonder vergoeding en die planne vir hoëdigtheidsbehuising – alles dinge wat sy toekoms op Rietvallei bedreig.

Wat hou die toekoms derhalwe in?

“My een dogter, Ilse, is in Nieu-Seeland en ek het al emigrasie oorweeg, al is dit baie duur vir iemand in sy goue jare.

“Maar ek stel baie belang in die geskiedenis van my voorsate vanaf 1684, Suid-Afrika en alles wat hier gebeur. Ek wil dit beslis nie net agterlaat nie!”

Meer oor:  Eskom  |  Dr. Wessel Swart  |  Vaalrivier  |  Omgewing  |  Riool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.