
Cristoff Koekemoer het hierdie foto van die Vanderkloofdam geneem waarvan die sluise Saterdagmiddag oopgetrek is. Foto: Christoff Koekemoer/SA Reënval Verslae
Die Vanderkloofdam, wat Vrydag begin oorloop het, se sluise is Saterdag oopgetrek en water word teen 449 kubieke meter per sekonde (kumek) uit die dam losgelaat.
Die vlak van die Oranjerivier in die Noord-Kaap het, nadat dit vandeesweek net mooi begin daal het nadat water sowat twee weke gelede uit die Bloemhofdam losgelaat is, weer sedert Saterdag begin styg.

So het dit gelyk toe die Vanderkloofdam Vrydag begin oorloop het. Foto: Orania-beweging
Die vlak van die Oranjerivier het Sondag by Prieska tot by 2,653 m gestyg en ook vroeg Sondag by Groblershoop begin styg. Die Oranjerivier vloei tans teen ’n tempo van 793 kumek by Prieska.
Volgens syfers van die departement water en sanitasie was die Vaaldam teen Sondag 75,4% vol, die Bloemhofdam 109,2%, die Gariepdam 103,3% en die Vanderkloofdam 101,9% vol.
Water word tans teen 784 kumek uit die Gariepdam losgelaat terwyl die invloei 486 kumek beloop. Die invloei by die Vanderkloofdam is 793 kumek.
Volgens ’n vooruitskatting van die departement kan die uitvloei van die Vanderkloofdam binne die volgende week tot 700 kumek toeneem.