Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Verbod op seekat-vissery in Valsbaai opgehef

Die tydelike verbod op seekat-vissery in Valsbaai, wat sedert einde Junie geld, word op 15 November opgehef.

Dit is egter onderhewig aan streng voorwaardes wat daarop gemik is om die walvisbevolking in Valsbaai te beskerm.

Die tydelike verbod is ingestel nadat minstens twee walvisse vroeër vanjaar gevrek het toe hulle in die toue van seekatfuike verstrengel geraak het.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het die verbod opgehef ná konsultasies met die wetenskaplike gemeenskap sowel as belanghebbendes in die bedryf.

Lees ook: Seekat-vissery in Valsbaai kry skuld vir walvisvrektes

In die konsultasies is data oor die verstrengeling van walvisse in fuike bekyk, asook data oor walvisgedrag en biologiese inligting. Daar is hoofsaaklik gefokus op moontlike verbeterings aan die fuike om te voorkom dat walvisse daarin verstrengel raak.

Die opheffing van die tydelike verbod is onderhewig aan die onmiddellike toepassing van hierdie maatreëls, wat onder meer behels:

  • Die onderste lyn moet eksklusief uit sinktoue bestaan;
  • Die ketting aan die boeilyn moet van die bokant van die lyn na die onderkant geskuif word;
  • Die boonste 2 m van die boeilyn moet met PVC-pype bedek word; en
  • Die boei moet aan die bodem geanker wees met ’n tydbeheerde ontsluitingsmeganisme.

Die werkgroep beveel ook aan dat as daar binne drie maande twee of meer suidelike noorkappers of boggelrugwalvisse in die fuike verstrengel raak, seekatvissery gestaak of heeltemal beëindig moet word.

Dieselfde geld as daar net een Bryde-walvis in die fuike verstrengel word. As net een walvis van enige van dié spesies vrek, sal seekatvissery in Valsbaai beëindig word.

“Dit is noodsaaklik dat alle betrokke partye hul bes doen om nie net die sukses van seekatvissery te verseker nie, maar ook die welstand van die omgewing waarin die vissery werk,” sê Creecy in ’n verklaring.

Meer oor:  Valsbaai  |  Seekat-Vissery  |  Walvisbevolking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.