Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Verlamde pikkewyn ‘loop’ weer
Die eens verlamde pikkewyn het met behulp van sy spesiaal gemaakte loopraam herstel en is weer beweeglik. Foto’s: Verskaf

Dit het ’n spesiale loopraam en drie keer per dag se swemlesse gekos, maar ’n eens verlamde Afrika-pikkewyn kan weer, sonder hulp, waggel.

Te midde van dié pikkewyn se rehabilitasie-suksesverhaal by die Suider-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (Sankub) in St. Francisbaai, is daar besluit om hom ’n permanente inwoner te maak. Die publiek moet nou net help om ’n naam vir hom te gee.

Ek het trane in my oë gekry toe ek die pikkewyn vir die eerste keer sien.
Eric Stewart

Nada Manengela, Sankub se bemarkingskoördineerder, sê die publiek moet die “unieke storie” van die pikkewyn in gedagte hou wanneer hulle vir hom ’n naam voorstel.

Die pikkewyn is in Desember 2015 verlam op ’n strand in Buffelsbaai aangetref en is vir rehabilitasie na Sankub gebring.

Juanita Raath, rehabilitasiekoördineerder, sê die pikkewyn het geen sigbare beserings gehad nie en daar is vermoede dat die oorsaak van sy toestand ’n harde stamp teen die kop óf ruggraat was.

Raath het die pikkewyn deur fisioterapie geneem, wat daagliks drie swemlesse ingesluit het.

Die publiek kan vir dié pikkewyn ’n naam gee. Hy kan voortaan by die Suider-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (Sankub) in St. Francisbaai gesien word.

Tydens sy reis na beterskap, het hy ook die aandag van ’n plaaslike inwoner, Eric Stewart, wat ’n paar jaar gelede weens ’n beroerte ook weer moes leer loop, gevang.

Toe het die idee van ’n spesiaal gemaakte loopraam by Stewart vir dié “hartedief” posgevat.

’n Kleuterloopraam met wiele is blitsig omskep om die pikkewyn aan ’n miniatuur harnas vas te hou en hom só te help loop.

“Ek het trane in my oë gekry toe ek die pikkewyn vir die eerste keer sien. Ek het dadelik geweet ek wil iets doen om te help,” sê Stewart.

Binne die eerste maand met sy loopraam het die pikkewyn tekens van versterkte spiere getoon.

Ná etlike maande is die loopraam afgeskud en vandag waggel hy plesierig op sy eie rond.

Volgens Manengela het die pikkewyn weens die soort rehabilitasie en daaglikse hantering, mak geword en is daar besluit om hom vir oorlewing eerder ’n permanente inwoner by Sankub te maak.

Die pikkewyn se geslag moet nog vasgestel word.

’n Prys wag op die persoon wat die beste naam voorstel. Voorstelle kan aan nada@sanccob.co.za gestuur word. ’n R20 donasie word per voorstel gevra.

Meer oor:  Omgewing  |  Pikkewyne  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.