Twee vermeende renosterstropers is dood in ’n skietgeveg in die Hluhluwe-iMfolozipark in KwaZulu-Natal.
Nomusa Dube-Ncube, LUR vir omgewingsake, het gister gesê van die park se werkers, wat “dapper werk in moeilike omstandighede verrig”, het op 6 Maart op drie vermeende stropers afgekom.
Twee is noodlottig gewond en op die toneel dood. Een van hulle was ’n “bekende hoëvlak-stroper” wat in 2017 skuldig bevind is weens die onwettige besit van renosterhoring.
Hy was glo verantwoordelik daarvoor om groepe stropers uit Mpumalanga te organiseer om die Hluhluwe-iMfolozipark te teiken.
Die derde een het ontsnap.
Die polisie het beslag gelê op ’n grootkaliber-jaggeweer en messe wat volgens Dube-Ncube gebruik word om renosterhorings te verwyder.
28 renosters is al vanjaar in die park gestroop, sê Dube-Ncube.
Hommeltuie word in die park gebruik om renosters te beskerm.
Die park gebruik ook infrarooi-kameras wat in verbinding is met ’n operasionele sentrum om moontlike stropery betyds te identifiseer.
Dit is met dié tegnologie dat die drie vermeende stropers op 6 Maart betyds geïdentifiseer kon word.
’n Reaksie-eenheid is toe na die toneel gestuur.
Hulle het die vermeende stropers gekonfronteer en ’n skietery het uitgebreek. – News24