Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Verstrengelde walvis tussen Knysna en Plet gesoek
’n Walvis wat in toue verstrengel is, is in Knysna se kusgebied gewaar. Foto: Facebook/Plett Beach Watch

Die publiek word gevra om op die uitkyk te wees vir ’n oënskynlik beseerde walvis wat in toue verstrengel is en van Knysna in die rigting van Plettenbergbaai in die Suid-Kaap geswem het.

Volgens die Facebook-blad Plett Beach Watch is die walvis Maandagoggend in Knysna gesien waar dit in die rigting van Plettenbergbaai geswem het.

Die walvis het beseer voorgekom en was verstrengel in toue.

Teen Dinsdagmiddag het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Plettenbergbaai nog geen oproep oor die walvis ontvang nie.

Mense wat die walvis gewaar, kan die NSRI by 082 990 5975 of die Plett Stranding Network by 079 463 4837 bel.

Saterdag is ’n walviskalf in die Simonstad-gebied deur die Suid-Afrikaanse walvisontstrengelingsnetwerk (SAWDN) uit visvangtoue bevry.

Vrywilligers van die NSRI in Simonstad het Saterdag om 08:32 met twee reddingsbote, die Spirit of Safmarine III en die Spirit of Surfski II, na die Millerspunt-gebied tussen Simonstad en Kaappunt gegaan nadat berig ontvang is van ’n walvis wat in visvangtoue verstrengel was, sê die SAWDN in ’n verklaring.

Hulle het ’n boggelrugwalviskalf aangetref waarvan die lyf en vinne in die toue verstrengel was, so erg dat die kalf aan die seebedding geanker was. ’n Groter walvis wat vermoedelik verwant is aan die kalfie, was daar naby.

Die SAWDN-span het die toue met gespesialiseerde toerusting weggesny. Volgens die SAWDN het dit tien tot 12 snye geneem voordat al die toue verwyder is.

Die walvis het gesond gelyk en het vinnig saam met die groter walvis weggeswem.

Meer oor:  Knysna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.