Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Vlamme jaag hasie reguit in redder se hande

Die klein hasie was so verskrik toe hy vir sy lewe deur die vlamme bars, dat ’n jong brandslaner net sy hand kon uitsteek en die verbykomende bondeltjie gegryp het.

“Ek het eers gedink dis ’n rot wat in ons rigting uit die vlamme uithardloop. Toe besef ek dis ’n baba-haas.

Die hasie, wat amper die wip in sy neus teruggekry het, kort nadat hy van ’n vlammedood gered is.

“Hy was gebrand en ek het net gegryp. Hoe kon ek hom los?” vertel Duan Bezuidenhout (20).

Hy en sy kollega Carel van Bosch van die Sinoville-brandbestrydingsvereniging, ’n vrywillige organisasie sonder winsbejag, het Saterdag gaan help toe ’n veldbrand op die hoewes naby Doornpoort, Pretoria, eiendomme bedreig het.

Bennie Bezuidenhout, Duan se pa en ondervoorsitter van die vereniging, sê die Sinoville-polisie het hulle gebel om te gaan kyk hoe groot die risiko is.

“Ons werk baie nou saam met die Tshwane-brandweerdiens, veral die Wonderboom-stasie. Omdat ons uit vrywilligers bestaan, sal lede wat op ’n gegewe oomblik beskikbaar is, gaan hand bysit,” sê hy.

Duan en Carel was Saterdag dié twee beskikbare helpers.

Duan vertel dat hulle nog die een oomblik vlamme doodgeslaan het toe hy die vlugtende bondeltjie uit die vlamme sien kom, lang ore laag getrek.

Duan Bezuidenhout (20) waak by die toegedraaide hasie.

“Ek het my hand uitgesteek en die diertjie gevang. Hy was effens gebrand op sy kop en lyf en die pels was geskroei. Ek het hom teen my vasgehou en kon voel sy asem jaag so bietjie,” sê Duan.

Hy het ’n handdoek by een van die inwoners gevra, ’n bottel water nader getrek en die handdoek natgemaak voordat hy die haas daarin toegedraai het om die diertjie af te koel.

“Die hasie het nie eens gespartel of probeer weghardloop nie. Hy het net doodstil bly sit, eers in my arm en toe op my skoot. Ek het hom baie jammer gekry,” sê Duan.

Roetbesmeer met skroeikolle, pels plek-plek in klosse saamgesmelt en grootoog, het die haas op sy skoot gery na “iemand wat iemand ken” by die South African Wildlife Rehabilitation-sentrum.

Carel van Bosch op die toneel waar die hasie gered is.

Die hasie, sê Leanne Hezlett, die rehabiliteerder wat hom gestabiliseer en toe na die sentrum in Springs geneem het, is net ’n paar weke oud.

“Hy drink nog melk, so klein is hy. Ons probeer sy oorpunte red wat gebrand het, maar gelukkig het hy nie enige diep velwonde nie en die pels sal teruggroei.

“Sy korneas het hitte-skade opgedoen van die vuur en hy kry antibiotika daarvoor. Maandag gaan hy na ’n diere-ooghospitaal om seker te maak dat sy ogies nie groot skade opgedoen het nie,” sê Hezlett.

Vir die trauma wat die hasie moes deurmaak, vaar hy egter heel goed, troos sy.

“Hy het tot begin gewig aansit,” sê sy trots en voeg by: “En sy naam is nou Smokey”.

* Duan is ook die man wat verlede jaar September ’n man wie se bakkie in ’n brand naby die Dinokeng-reservaat in vlamme omhul was, uit die vuur gehaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.