Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Vleie ‘in gevaar’ oor dié myne

’n Tweede ondergrondse steenkoolmyn in die Noord-Vrystaat, langs Seriti Coal se beoogde reuse- ondergrondse myn naby die Vaalrivier, het vandeesmaand goedkeuring gekry.

Netwerk24 het  Dinsdag berig Seriti Coal het pas goedkeuring gekry om die New Vaal-steenkoolmyn buite Vereeniging met sowat 34 400 ha uit te brei.

Lefa Mining is van plan om onder 200 kleinhoewes en “twee of drie groot plase” steenkool uit te haal.

Die departement van minerale bronne en energie se kantoor in Welkom in die Vrystaat het die myn se omgewingsimpakstudie goedgekeur.

Japie Coetzee, ’n geoloog en eienaar van Lefa Mining, sê die beplande steenkoolmyn sal “hopelik” steenkool aan die Lethabo-kragstasie verskaf. Dié kragstasie sou oor sewe jaar uit diens gestel word, maar sy leeftyd is met sowat twee dekades verleng.

Luidens die goedkeurings­dokument het verskeie belanghebbendes teen die voorgestelde myn appèl aangeteken, maar dit is “verwerp”. Onder die belanghebbendes is Willow Creek, ’n luukse ontwikkeling aan die oewer van die Vaalrivier. Die verskille tussen Lefa en Willow­ Creek is in vertroulike onderhandelinge bygelê, sê Coetzee.

Sasol het ook appèl aangeteken omdat sy gaspypleidings oor die myngebied loop, waarna Lefa sy mynplan aangepas het.

Volgens Coetzee sal die steenkool, wat van ’n baie swak gehalte is, moontlik per vervoerband na Lethabo vervoer word. Lefa sal dus nie nodig hê om die provinsiale pad, die R716, te gebruik nie.

Seriti se ondergrondse myn, wat moontlik die Metsimaholo-myn sal heet, sal na verwagting dié pad gebruik om sy steenkool na die Grootvlei-kragstasie te bring.

Coetzee benadruk boerderybedrywighede in die myngebied sal nie geraak word deur die ontginning van die steenkool nie. Alle mynboubedrywighede gaan baie diep onder die grond plaasvind.

“Ons gaan tot selfs 80 m onder die grond steenkool uithaal.”

Boere wat onder meer met graan, vee, mielies, sonneblomme en sorghum boer, sal dus ongestoord met hul werk kan voortgaan, sê hy.

Daar is ook geen moontlikheid dat die myn sal inmekaarsak nie. “Dít is waarom daar mense soos mynbou-ingenieurs is,” sê Coetzee.

Hy sê die aansoekproses vir ’n waterlisensie vir die myn en ’n mynreg het reeds ver gevorder. “Ons behoort albei permitte binne drie maande te kry.”

Volgens studies wat deur Elemental­ Sustainability, ’n groep omgewingskonsultante, onderneem is, is daar twee vleie op die grond en kan die produksie van steenkool die watergehalte in die vleie nadelig raak.

Albei vleie dreineer in die Vaalrivier.

Volgens die hidrologiese studie kan die vlakke van boere se boorgate in die omgewing daal sodra die myn in produksie is.

Die omgewingskonsultante sê die bogrondse gebied is veral weens boerdery in ’n swak toestand.

Minstens drie skaars voëlsoorte, die sekretarisvoël, die grootgoudsnip en die spotlewerik, kom in die gebied voor.

Omdat verskeie myne in die gebied bedrywig is, is dit noodsaaklik dat die kumulatiewe impak op die fauna en flora in ag geneem word.

Die myngebied is sowat 3 000 ha groot, maar steenkool sal in net meer as 2 000 ha ondergronds uitgehaal word.

  • Lefa het R28,5 miljoen vir rehabilitasie opsygesit en Seriti Coal meer as R65 miljoen.
  • Volgens Eskom se webwerf word steenkool van die swakste gehalte ter wêreld by Lethabo verbrand. Sowat 1,6 miljoen ton steenkool word per maand by Seriti se New Vaal-myn gemyn. Wanneer Lefa in produksie is, sal 300 000 ton steenkool per maand uitgehaal word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.