Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Oorstromings, nóg reën in Gauteng, Noordwes

Nog oorstromings het Maandagoggend in dele van Noordwes en Gauteng voorgekom, terwyl groot dele van die noordelike dele van die land nog reën ervaar.

Lesers het video's en foto's gedeel.

Hierdie video is op 'n kleinhoewe in Carlswald, Midrand afgeneem.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Sondagmiddag ’n waarskuwing uitgereik van oorstromings in Noordwes en Gauteng, sowel as swaar reën en moontlike oorstromings in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Mpumalanga, dele van Limpopo en die Vrystaat en in die oostelike dele van die droogtegeteisterde Noord-Kaap.

Verskeie paaie was Sondagmiddag onbegaanbaar in Gauteng en Noordwes weens reën wat sedert laat verlede week uitsak.

Die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp is omstreeks 16:00 vir verkeer gesluit nadat voertuie deur ’n bruin watermassa moes ry.

In Potchefstroom is tussen 68 mm en 75 mm reën Sondag gemeet.

James Beeslaar, ’n inwoner in Van der Hoffpark in Potchefstroom, het Sondag 68 mm reën gemeet.

Ander dele in Noordwes waar dit gereën het, is in Zeerust, Swartruggens en Vryburg.

In Johannesburg was die M1-hoofweg, noord en suid, Sondagmiddag ook onder water. Dele van die R21 wat na die O.R. Tambo-lughawe lei, is ook deur die swaar reën geraak.

Sr.supt. Wayne Minnaar van die Johannesburgse metropolisie het motoriste gewaarsku om uiters versigtig op die nat paaie te bestuur.

In Pretoria het die Apiesrivier sy walle oorstroom by die laagwaterbrug in Capital Park. Die brug is onbegaanbaar.

Charles Mabaso van die Tshwane-nooddienste het gesê die laagwaterbrug op die hoek van Rabie- en Endstraat in Centurion is ook weens oorstromings vir verkeer gesluit.

Die Hennopsrivier in Centurion het ook sy walle oorstroom.

Hennopsrivier
Die Hennopsrivier in Centurion het sy walle oorstroom. Foto: Sarel van der Walt

Mabaso het ’n beroep op die publiek gedoen om nie laagwaterbrûe in die stad in hul voertuie of te voet te probeer oorsteek nie.

Die departement van water en sanitasie het op sy Twitter-blad ’n video gedeel van hoe die sluise van die Roodeplaatdam oorloop.

Die reën is nie alleen ’n welkome verligting ná die versengende hittegolf verlede week in Gauteng, Noordwes, Limpopo, die Vrystaat, die Noord-Kaap en Mpumalanga nie, maar is ook broodnodig omdat die land onder ’n droogte gebuk gaan.

Luidens die jongste inligting van die departement van water was Limpopo se damme verlede week slegs 49% vol en in Noordwes was die algehele stand van damme 53%. Mpumalanga se damme is 55% vol.

Die SAWD voorspel dat dit tot Woensdag oor groot dele van die binneland sal reën.

Meer oor:  Noordwes  |  Gauteng  |  Oorstromings  |  Vloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.