Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Vol Vaaldam ‘iets om oor te juig’
Die Vaaldam was Maandag vir die eerste keer sedert einde 2017 100% vol. Foto: Deaan Vivier

Die Vaaldam bars uit sy nate en dit is iets om te vier, maar dit kom ook met die waarskuwing dat Suid-Afrika ’n waterskaarsland is.

Die Vaaldam was Maandag vir die eerste keer sedert einde 2017 tot vroeg in 2018 verby die 100%-kerf, sê Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie.

“Begin Desember was die watervlak sowat 20% tot 25% en ons was baie bekommerd oor die afname. Vir die dam om binne so ’n kort tydperk te herstel, is iets om oor te juig,” sê Ratau.

“Dit is ’n teken dat die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, wat die Vaaldam en 13 ander damme insluit, baie goeie reënval in die opvangsgebiede gekry het en daarom is die invloei so merkwaardig.”

Swaar reën het Dinsdag naby Vanderbijlpark uitgesak. Foto: Deaan Vivier

Die Vaaldam lewer water aan meer as 12 miljoen mense in Gauteng, dele van Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat. Die Vaaldam en die Vaalrivier verskaf ook water aan nywerhede en Eskom.

Tussen einde 2017 en nou het die Vaaldam se watervlakke gewissel tussen onder en net bo 50%, so dit was nie stabiel nie, sê Ratau.

Volgens Maureen Stewart, ondervoorsitter van Save the Vaal, is hierdie 100%-watervlak beslis iets om te vier, maar dit moet ook met versigtigheid benader word.

“Suid-Afrika is ’n waterskaarsland en die Vaaldam is die hoofdam in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, waaruit Gauteng deur Rand Water van water voorsien word. Wanneer die Vaaldam se watervlak laag is, soos dit onlangs was, dan moet water van voerdamme af gepomp word.

Die dam sal nie lank vol bly nie.

“Ons watergebruik uit die dam is baie, baie hoog, want mense is oor die algemeen nie waterbewus nie. Ons kan nie water as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Hulle sien hoe styg die water
’n Boom staan in die water in die Vaaldam ná die onlangse hoë reënval in die opvangsgebiede. Foto: Deaan Vivier

Tiaan Bredenkamp van Oranjeville het ’n houthuisie langs die Vaaldam, waar hy elke naweek deurbring, en het redelik rekord gehou van hoe die water ingekom het.

“Dit was nogal mooi om te sien.”

Met sy besoek drie weke gelede was die dam sowat 64% vol en in daardie stadium het hy nog gehoop dat die Vaaldam ten minste voor die winter vol sal wees.

“Ek gaan elke Saterdag deur soontoe, so ek kon definitief die verskil (in die damvlak) sien,” sê Bredenkamp.

“Die naweek wat ons nou daar was, het hy oornag seker met so 4 m opgestoot. Sondag voordat ek daar gery het, het dit seker met nog so 7 m opgestoot. Dit is ongelooflik om daardie klomp watermassa te sien.”

Bredenkamp moes sy visstokke die laaste ruk gedurig skuif soos die watervlakke gestyg het.

Hy het die dam in 2018 laas vol water gesien.

Martin van Vuuren, bestuurder van die Voortrekker Jeug-kampterrein, sowat 6 km vanaf Oranjeville langs die Vaaldam, het ook aanskou hoe die dam se vlakke die laaste ruk gestyg het.

Hy woon die afgelope ses jaar hier.

Die Vaaldam is uiteindelik weer vol water ná die onlangse buitengewone reënval. Foto: Deaan Vivier

“Dit het die laaste twee weke 3 m per dag gestyg. Ek het die diepste water hierso – myne styg stadig. Die ander plekke het baie vinniger gestyg as myne.”

Van Vuuren sê die water was so drie maande gelede 138 m van die wal af, terwyl dit nou teen die wal is.

In daardie stadium was die Vaaldam minder as 29% vol.

“Ons het baie reën gehad in die opvangsgebiede in Volksrust, Standerton en Frankfort – dit is waar ons (daardie gedeelte van die Vaaldam) ons water vandaan kry. Dit help nie dit reën in Vereeniging nie, want daardie water gaan na die Bloemhofdam.”

Hy sê die Vaaldam was einde 2017 laas só vol gewees.

Ander damme in die noorde meer as 100% vol

Damvlakke wat volgens die departement van water en sanitasie se jongste data meer as 100% vol is, is die Nooitgedachtdam in Mpumalanga (101,9%), die Grootdraaidam naby Standerton in Mpumalanga (108,4%), die Bloemhofdam op die grens tussen Noordwes en die Vrystaat (103,1%), die Bronkhorstspruitdam in Gauteng (102,7%), die Loskopdam in Mpumalanga (102,4%) en die Glen Alpine-dam in die Blouberg-distrik van Limpopo (114,6%).

Weervoorspelling vir die week

Volgens Kumsa Masizana, ’n weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), kan die noorde van die land grootliks sy normale donderbuie vir die res van die week verwag.

Verspreide donderbuie word Woensdag verwag langs die oostelike platorand wat die binneland van Mpumalanga en KwaZulu-Natal insluit.

Die SAWD het ook ’n waarskuwing uitgereik vir moontlike swaar donderbuie in dié gebiede.

Vir die res van die week (Donderdag tot Sondag) word verspreide donderbuie vir die noordelike provinsies verwag.

Warm temperature word vir die res van die week voorspel vir Gauteng, Noordwes en KwaZulu-Natal, maar dit sal baie warm wees oor die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo, asook die westelike Bosveld van Limpopo.

Meer oor:  Vaaldam  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.