Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Vrou wil ten bate van bewaring rekord opstel

’n Vrou van Port Elizabeth gaan probeer om vir 101 dae elke dag 22 km vir die bewusmaking van renosterbewaring te draf.

Sou dié poging suksesvol wees, sal Sharon Jessop (50), ’n entrepreneur en drawwer, ’n Guinness-wêreldrekord opstel vir die vrou wat die meeste agtereenvolgende halfmarathons voltooi het.

Toe Jessop verlede week op Wêreldrenosterdag weggespring het, was die plan om 62 dae te voltooi, aangesien die rekord toe op 50 agtereenvolgende dae gestaan het.

Dit het egter aan die lig gekom dat die rekord tot 75 dae verbeter is en nog ’n vrou is besig met ’n rekordpoging van 100 agtereenvolgende dae.

Sharon Jessop, ’n entrepreneur en drawwer van Port Elizabeth, Sondag op dag ses van die 101 dae waartydens sy sal poog om elke dag ’n halfmarathon te hardloop. Foto: Facebook, Run Wild With Sharon

Sonder om twee keer te dink het Jessop haar poging tot 101 dae aangepas, wat op 31 Desember sal eindig.

“Op die oomblik het ek soveel pret, dit is amper onwettig,” het Jessop Maandag hoorbaar energiek gesê nadat sy dag sewe voltooi het.

“Maar dit gaan nie oor die rekord nie. Dit is die boodskap wat belangrik is en dit neem gewoonlik ’n epiese uitdaging om die aandag te vestig op die boodskap of doel.”

Sy hoop dié uitdaging sal geld inbring vir die plaaslike gemeenskapskas, asook die One Land Love It (Olli)-stigting, wat met die bewaring van renosters bemoeid is.

Hoewel sy haarself al jare lank as ’n kampvegter vir wild- en natuurbewaring beskou, het sy besluit dit is tyd om tot aksie oor te gaan vir meer bewusmaking.

Die aanvanklike plan vroeër vanjaar was dat sy van die Mosambiekgrens na Port Elizabeth sou draf, ’n soortgelyke roete wat Wayne Bolton, stigter van Olli, al voorheen op sy fiets aangepak het, maar toe kom die inperking.

Sharon Jessop staan by die One Land Love It (Olli)-stigting se lewensgrootte veselglas-renoster. Die stigting is een van die begunstigdes vir Jessop se veldtog. Foto: Facebook, Run Wild With Sharon

Deur haar aangepaste strategie het Jessop besluit sy sal daagliks ’n halfmarathon aanpak, aangesien sy 22 km in drie uur kan voltooi. Hoewel ’n halfmarathon se afstand 21,1 km is, voltooi sy 22 km om te verseker dat daar nie later ’n dispuut oor haar rekord is nie.

Op die oomblik het Jessop 12 roetes in Port Elizabeth waarvan elkeen amptelik deur die betrokke owerhede gemeet word. Die roetes begin by verskeie klein en middelslagondernemings wat deel is van die veldtog en hierdeur blootstelling geniet.

“As ’n entrepreneur is ek moeg om te sien hoe die kleiner ondernemings hul deure moet sluit en ek hoop deur ’n klein bietjie blootstelling kan hul bedrywighede gestimuleer word.”

Sy erken die eerste vyf weke van die inperking, wat alle oefening buite die huis verbied het, het met haar oefenprogram ingemeng, maar sy het volgehou met twee uur se oefening daagliks wat kragoefeninge ingesluit het.

Ná die eerste week sê sy haar lyf voel reeds sterker en glo sy ná die aanvanklike 62 dae sal sy die res van die dae, tot op Oujaarsdag, bykans toe-oë kan doen.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Stropers  |  Bewaring  |  Renosters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.