Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Waarskuwing: Swaar reën in dié gebiede verwag

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n rooi vlak 10-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat Sondag en Maandag in sowel die oostelike dele van Limpopo as Mpumalanga sal uitsak weens die tropiese sikloon Eloise, wat intussen afgegradeer is na ’n laagdrukstelsel.

Dié waarskuwing is die hoogste waarskuwing wat die SAWD kan uitreik vir uitermatig baie reënneerslae. Volgens die weerdiens is ’n rooi vlak 10-waarskuwing vir hoogs waarskynlike weerstoestande wat ernstige skade kan aanrig.

Inwoners van dié gebiede is gemaan om uiters versigtig te wees. Die verwagte swaar reën gaan druk op die nooddienste plaas.

Intussen het die departement van samewerkende regering in Gauteng aangekondig hulle is op ’n gereedheidsgrondslag om hulp te verleen in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal indien nodig.

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering en behuising in Gauteng, het gesê ’n spesialis- soek-en-reddingspan wat deur die provinsiale rampbestuursentrum beheer word, sal hulp verleen.

Die Tshwane-nooddienste het Sondagmiddag ook ’n waarskuwing uitgereik dat die noordelike en noord-oostelike dele in die stad “op ’n hoë waarskuwingsvlak” geplaas is vir Maandag.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê “ontwrigtende reën” kan vloede in laagliggende dele veroorsaak.

Swaar reën sak sedert Saterdagaand uit in die verre noordoostelike dele van Limpopo, dele van die Krugerwildtuin en Mpumalanga.

Inwoners van Tshakuma buite Thohoyandou in die Vhembe-distrik in Limpopo moes Sondagoggend kniehoogte deur bruin water strompel om uit hul oorstroomde huise te kom. Dit is veral modderhutte in landelike gebiede wat deur die reën verwoes word.

In die Krugerwildtuin is verskeie laagwaterbrûe in die Punda Maria- en Shingwedzi-kampe oorstroom en grondpaaie is verspoel.

Die Mapungubwe Nasionale Park en wêrelderfenisterrein in Limpopo is as voorsorg vir besoekers gesluit.

Die rooi waarskuwing van die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Foto: SAWD
Mense in Tshakuma buite Thohoyandou moes uit hul oorstroomde huise padgee. Foto: VERSKAF

Teen Sondagmiddag is daar al 80 mm reën in die park gemeet.

Natasja Fourie, wat op ’n plaas buite Musina bly, sê dit het Sondag gereën, “maar hier is nie sterk wind of stormweer nie”.

Op die R71-pad in Magoebaskloof het ’n boom Sondagoggend omgewaai en die pad versper.

Matome Moremi Taueatsoala, woordvoerder van die departement van vervoer in Limpopo, het gesê die R528-pad in George’s Valley tussen Polokwane en Tzaneen is ook onder water.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, wat ’n plaas in George’s Valley het, sê dit reën onophoudelik. “Die Tzaneen-dam se vlak sal nou kan styg.” Die dam is slegs 21% vol.

Die R528 in George’s Valley in Limpopo is Sondag vir verkeer gesluit. Foto: VERSKAF
'n Boom het Sondag in Giyani in Limpopo omgewaai. Foto: VERSKAF

Reën val sedert Saterdagmiddag ook in Hoedspruit in Limpopo en swaar reën het Sondagoggend vroeg in Polokwane uitgesak. Volgens die weerdiens is daar teen Sondagmiddag 56 mm reën in Hoedspruit gemeet.

Inwoners in Polokwane het tot 30 mm reën gemeet. Die stad gaan gebuk onder erge watertekorte omdat die Ebenezerdam in Haenertsburg, wat een van die stad se waterbronne is, slegs 24% vol is.

Die weerdiens het Sondag video’s op hul Twitter-blad geplaas van bruisende riviere in die Vhembe-distrik. Dit is veral Levubu (76 mm) en die Thohoyandou-gebiede (63 mm) wat goeie reënneerslae het.

Die weerdiens voorspel nog swaar reën en sterk wind vir Maandag in Musina, Thohoyandou, Louis Trichardt, Malamulele, Giyani, Phalaborwa en Polokwane.

Basikopo Makamu, LUR vir samewerkende regering in Limpopo, het mense in veral landelike gebiede gemaan om nie riviere te probeer oorsteek nie en in hul huise te bly.

In Mpumalanga is die Graskop Gorge Lift Sondag tot Dinsdag gesluit weens die swaar reën hier. 

In Nelspruit is meer as 70 mm reën Sondag gemeet. Bome het op die pad tussen Sabie en Witrivier omgewaai.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Limpopo  |  Oorstromings  |  Swaar Reën  |  Eloise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.