Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Walvis met toue om stert gedraai spoel by PE uit
Die toue en kreefstrikke wat om die walvis se stert gedraai was. Foto: Facebook

Daar word ’n beroep gedoen op strenger beheer oor vislyn en kreefstrikke nadat die karkas van ’n massiewe bultrugwalvis op die rotse by Seaview in Port Elizabeth uitgespoel het.

Die seereus is Vrydag gevind met toue van kreefstrikke styf om haar stert gedraai.

Die sowat 10-12 m lange walvis is volgens Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog van die Bayworld-oseanarium, ’n volwasse walviskoei.

Sy was die 17de walvis wat vanjaar deur toue en/of hengeltoerusting verstrengel aan die Suid-Afrikaanse kus uitgespoel het, het Mike Meyer van die Suid-Afrikaanse netwerk vir die red van walvisse uit toue (SAWDN) gesê.

Hofmeyr het die karkas Vrydagmiddag besoek en sê dit lyk of die toue sowat sewe keer om die walvis se stert gedraai is.

“Dit is nog onduidelik wat gebeur het, maar daar is ’n moontlikheid dat die toue ’n rol gespeel het in die walvis se dood,” sê Hofmeyr, wat tydens laagwater monsters van die karkas sou gaan neem.

Meyer sê egter hy is bykans seker die walviskoei is deur die toue verstrengel en dit hou direk verband met haar dood.

Die vermoede is tans dat die walvis in die toue met strikke en moontlik nog meer voorwerpe onder water vasgevang was en nie op kon swem om asem te skep nie.

Die karkas van die bultrugwalvis wat Vrydag by Seaview in Port Elizabeth uitgespoel het. Foto: R Huggard

“Dit hang af van baie faktore, maar sommige walvisse kan hulself loskry, afhangende van hoeveel keer die toue om hul stert gedraai is. Maar ander is nie altyd so gelukkig nie en sterf ongelukkig ’n stadige dood,” sê Meyer.

Verskeie mense het intussen ook hul misnoeë oor die vrekte van die walvis op Facebook uitgespreek en gevra dat iets gedoen word om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.

“Dit is so ’n majestueuse dier en die dood is veroorsaak deur ’n stuk visvangtou en kreefstrikke! Dit is eenvoudig nie reg nie. Ons moet nou iets doen. Die ontwerp van ’n walvisvriendelike toustelsel, óf ’n strik wat ’n geluid maak (moet ondersoek word), iets moet verander,” lui ’n inskrywing van Ronelle Potgieter op Facebook.

Jason Grobbelaar, die plaaslike wyksraadslid, het gesê hy beoog om vandeesweek met die Nelson Mandelabaai-metro se kusbestuurder te vergader om voor te stel dat die kreefstrikke asook visserstoue deur hul eienaars gemerk moet word sodat daar strenger beheer kan wees. Hy sê hy hoop op iets soortgelyk as die plastiek-boekhoustelsel waaraan die tjokkabote onderworpe is.

Wat die verwydering van die karkas behels, het Hofmeyr gesê die rotse waar die walvis uitgespoel het, is van so ’n aard dat die dier nie sommer met ’n boot die see ingesleep kan word nie.

Grobbelaar sê hy glo die owerhede sal binnekort ’n tipe chloor op die karkas strooi wat die ontbinding sal aanhelp en die reuk sal onderdruk.

  • Saterdag het nog ’n walviskarkas by Boknes-strand, sowat 150 km oos van Seaview, uitgespoel. Hofmeyr sê die walvis was reeds ’n geruime tyd dood toe die karkas uitgespoel het. Die oorsaak van dié walvis se dood is nog onbekend.
Meer oor:  Pe  |  Walvis  |  Natuurbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.