Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Warmer klimaat kan SA kwesbaar vir tsetsevlieë maak

Die Zambezi-vallei in Zimbabwe kan binnekort te warm wees vir tsetsevlieë – wat die draers is van die parasiet wat slaapsiekte by die mens veroorsaak.

Maar, navorsers waarsku dat stygende temperature die hoër, koeler dele van Zimbabwe meer geskik vir dié vlieë kan maak.

’n Nuwe studie, gegrond op 27 jaar se data uit die Manapoele Nasionale Park in Zimbabwe, dui daarop dat temperatuurstygings oor die afgelope drie dekades ’n groot afname in tsetsevlieë veroorsaak het. Die navorsingsverslag is in PLOS Medicine gepubliseer.

Tsetsevlieë is bloedsuiende insekte en die draer van die tripanosoom-parasiet wat slaapsiekte by die mens veroorsaak. Foto: Judy Gallager

Tsetsevlieë is bloedsuiende insekte en draers van die tripanosoom-parasiet wat slaapsiekte veroorsaak. Dit kom in Afrika suid van die Sahara voor. Sonder behandeling kan die siekte dodelik wees.

Parasiete van hierdie genus veroorsaak ook nagana in vee (tripanosomiase in Afrika-diere) en is verantwoordelik vir omtrent ’n miljoen beesvrektes per jaar.

Die studie is op laboratorium- en veldwerkmetings van die voorkoms van die vlieë in die 90’s en die dokumentering van klimaatdata sedert 1975 gegrond.

Oor byna drie dekades het die tsetsevlieë wat op vee in die park gevang is, van meer as 50 vlieë per bees per vangsessie in 1990 tot minder as een vlieg per tien sessies in 2017 afgeneem.

Sedert 1975 het die gemiddelde dagtemperatuur met bykans 1 °C gestyg, en gemiddeld met ongeveer 2 °C gedurende November, die warmste maand van die jaar.

Navorsers van die Skool vir Tropiese Geneeskunde in Liverpool, die Suid-Afrikaanse Sentrum van Uitnemendheid vir Epidemiologiese Analise en Modellering asook die Natuurlike Hulpbronne-instituut van die Greenwich-Universiteit het ’n wiskundige model hiervoor ontwikkel.

“Indien hierdie gevolg wat ons in Manapoele waargeneem het oor die hele Zambezi-vallei voorkom, behoort die oordrag van tripanosome drasties in hierdie laagliggende streek af te neem,” sê dr. Jennifer Lord, hoofnavorser.

Hoewel dit goeie nuus vir die Zambezi-vallei is, beteken hoër temperature ook dat sommige hoërliggende, koeler dele van Zimbabwe meer geskik vir tsetsevlieë gaan word.

“Hoofsaaklik weens ’n gebrek aan empiriese data in die algemeen verstaan ons nie regtig hoe klimaatsverandering die verspreiding van aansteeklike siektes in Afrika suid van die Sahara gaan beïnvloed nie,” het prof. John Hargrove, senior navorsingsgenoot, gesê.

In die vroeë 19de eeu het tsetsevlieë in hierdie gebiede voorgekom, maar marginaal, omdat die winters te koud was.

Anders as soogdiere en voëls, kan insekte soos tsetsevlieë nie hul eie liggaamstemperatuur reguleer nie en word hul ontwikkeling en sterftesyfer dus grootliks deur omgewingstemperatuur beïnvloed. Papies kan nie by volgehoue temperature laer as 16 °C of hoër as 32 °C oorleef nie. ’n Tsetsebevolking kan hom ook net in ’n gebied vestig as daar genoeg gasheerdiere en die gepaste plantegroei is om hulle te onderhou.

Hy waarsku egter dat die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe en die Krugerwildtuin in Suid-Afrika voorbeelde is van plekke met geskikte gashere en habitat vir ’n oorvloed tsetsevlieë.

“In die vroeë 19de eeu het tsetsevlieë in hierdie gebiede voorgekom, maar marginaal, omdat die winters te koud was. Met die massiewe runderpes-epidemie in die 1890’s, toe die oorgrote meerderheid gehoefde diere gevrek het, het tsetsevlieë uit hierdie gebiede verdwyn en nooit weer hervestig nie. Maar indien die temperature aanhou styg, is daar ’n gevaar dat dit weer hier kan hervestig.”

Hoewel die siektes wat tsetsevlieë oordra, geen gevaar vir die wildlewe inhou nie aangesien hulle oor millennia aangepas het, sal beheermaatreëls ingestel moet word indien tsetsevlieë hulle in dié gebiede hervestig.

Volgens Hargrove kan vee met voorkomende middels teen tsetsevlieë beskerm word, maar daar bestaan tans nie soortgelyke middels vir mense nie.

Die enigste manier om vee en mense te beskerm is om die tsetsevlieg te teiken.

Meer oor:  Zimbabwe  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.