Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Warmste Junie nóg’ maak kenners benoud
Die mens kán nog klimaatsverandering bekamp, sê kenners. Al hoe meer boere wend hulle nou tot alternatiewe metodes soos die plant van dekgewasse met die doel om die vog in die grond te hou.Foto: Charles Smith

Junie was wêreldwyd die warmste maand tot nóg toe wat deur die mens gemeet is, en dit lyk of Julie nie ’n uitsondering gaan wees nie.

Francois Engelbrecht, professor in klimatologie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê onlangse navorsing toon die waarskynlikheid vir hittegolwe om voor te kom, soos die Europese hittegolf van Junie vanjaar, is vyf keer groter as wat dit veronderstel is om te wees.

“Junie het met vernietigende hittegolwe gepaard gegaan wat die Noordelike Halfrond geteister het.”

Nasa het Maandag data uitgereik wat wys dat die wêreldwye gemiddelde temperatuur in Junie 0.93 °C bo die norm was.

Engelbrecht sê die warmste vyf jaar wat sedert 1880 gemeet is, was die vyf jaar tot nou.

Dit is te midde van ’n toename in die aantal mense wêreldwyd wat aan hongersnood ly.

’n Warmer aarde, minder water en kos, meer mense (binnekort nege miljard), en meer honger mense is die gevolg daarvan.

In 2015 was die aarde se gemiddelde oppervlaktemperatuur vir die eerste keer 1 °C hoër as die gemiddeld, sê Engelbrecht.

Wetenskaplikes reken ons gaan gevaarlike en onomkeerbare klimaatsverandering ontsluit as die aarde se gemiddelde temperatuur met 2 °C sou styg. Dit staan reeds op 1 °C.Foto: Charles Smith

“Wetenskaplikes reken ons gaan gevaarlike en onomkeerbare klimaatsverandering ontsluit indien die aarde se gemiddelde temperatuur met 2 °C sou styg.”

Die Parys-klimaatsverdrag se doelwit is dus om die globale temperatuurstyging te beperk tot heelwat minder as 2 °C.

“Ongelukkig het ons in 2015 reeds die halfpadmerk bereik,” sê Engelbrecht.

Hoewel dit hier nou winter is, was die maksimum temperature oor Suid-Afrika heen bo-normaal vir Junie.

‘Só kan die skip omgedraai word’

Die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) het bevind om die temperatuurstyging wêreldwyd tot die aller belangrike 2 °C te beperk, die wêreld teen 2070 neutraal moet wees in terme van die vrystelling van koolstofdioksied.

“Om dit te bereik, moet die wêreld reeds teen 2050 geen meer koolstofdioksied die atmosfeer inpomp as nou nie.”

Engelbrecht sê daar word verwag die vernaamste streke wat vir die grootste kweekhuisgasvrystellings in die toekoms verantwoordelik sal wees, is Afrika en Asië.

“Dit is dus van die allergrootste belang dat die ontwikkelde lande van die Noordelike Halfrond, wat reeds groot ekonomiese voordeel uit die verbranding van fossielbrandstowwe getrek het, die ontwikkelende lande van Afrika geldelik moet bystaan om alternatiewe bronne van energie te ontwikkel.”

“Weens die kontinent se ligging neem die temperatuurstyging in Suider-Afrika teen min of meer twee keer die globale tempo plaas.

“Wanneer so ’n streek nóg warmer en droër word, beperk dit die moontlikhede vir klimaatsaanpassings.”

Die mens kán egter nog die tempo van klimaatsverandering beperk.

“Dit vereis onmiddellike stappe.”

warm

Wat kan boere doen?

Dr. Hendrik Smith, landboukoördineerder van Graan SA, sê die belangrikste ding wat boere kan doen, is om herlewingslandbou toe te pas deur van dekgewasse gebruik te maak.

“Dit herstel die natuurlike koolstof- en watersiklus, met baie ander positiewe gevolge soos beter grondvrugbaarheid, minder siektes en plae, en groter biodiversiteit. Só versag dit die klimaatsverandering.”

Boere sit met hierdie unieke geleentheid om oormatige koolstof in die atmosfeer weer in die grond vas te vang, sê hy.

“Dis ook ons verantwoordelikheid, want baie van ons grond het deur dekades van bewerking in die atmosfeer beland wat nou bydra tot klimaatsverandering.

“As ons dit terugplaas in die grond hanteer ons twee probleme gelyk – die verwydering van kweekhuisgasse, en ons keer die agteruitgang van die grond om.

“In die proses verbeter ons die grondgesondheid en herstel ons die watersiklus, wat beteken dat ons elke druppel kosbare water baie meer doeltreffend gaan moet gebruik vir die produksie van graan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.