Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Water: Hier kom ’n krisis
Die bietjie water wat ons het, word nog besoedel ook

’n Akute waterkrisis – soortgelyk aan die elektrisiteitskrisis van die afgelope paar jaar wat die prys van elektrisiteit die hoogte in gejaag het en die land se ekonomie lamgelê het – staar Suid-Afrika in die gesig.

Kenners waarsku dat die kombinasie van ’n dambouprogram wat amper ’n dekade agterstallig is, riool in ons riviere, lekkende pype en stukkende pompe en knellende droogte daartoe kan lei dat beurtwater ’n al hoe groter moontlikheid in die toekoms kan wees.

’n Rapport-ondersoek na die omvang van ons waterprobleme het die volgende skokkende feite aan die lig gebring:

  • Die Polihalidam, die derde dam indie Lesotho-hooglandwaterskema, is al sewe jaar agterstallig.

Die dam, deel van ’n reusewaterskema wat al in die apartheidsjare bedink is om Gauteng se dorstige behoeftes te bevredig, moes volgens die aanvanklike beplanning in 2018 water aan die ekonomiese hartland van Suid-Afrika begin lewer het. Die dam sal nou, hopelik, in 2025 klaar wees.

Die regering het twee dekades gelede al geweet dat gebiede wat afhanklik is van die Vaalrivier afstuur op ’n watertekort.

Leon Basson, die DA se woordvoerder oor water en sanitasie, sê die beplanning van die dam het al “goed gevorder”, maar die bou daarvan word weens tenderbedrog vertraag.

  • Damme water gaan jaarliks verlore weens foutiewe pompe. Ondoeltreffende pompe wat water van opvangsgebiede na die Sterkfonteindam naby Harrismith moet pomp, beteken byvoorbeeld dat hier die afgelope jaar 400 miljoen kubieke meter (m³) water verlore gegaan het. Dit is genoeg water om die Theewaterskloofdam naby Kaapstad, die land se agtste grootste dam, meer as 80% vol te maak.
  • Afgesien van ondoeltreffende pompe gaan selfs meer water weens lekkasies en gebrekkige infrastruktuur verlore. Sedert damvlakke met die droogte meer as vier jaar gelede begin daal het, het Rand Water meer as 1,1 miljard m³ verloor – amper genoeg water om die land se sesde grootste dam, die Bloemhofdam, vol te maak.
  • Die departement van water en sanitasie skat hulle sal vir die volgende tien jaar jaarliks sowat R80 miljard moet ­bestee om ons waterinfrastruktuur op standaard te kry.

Dis meer as die departement se totale jaarlikse begroting.

  • Wanfunksionele rioolaanlegte in ­dorpe en stede pomp boonop 4,3 miljard m³ ongesuiwerde water in onsdamme en riviere in. Dit beteken dat die bietjie water wat ons het, nóg verder besoedel word.

“Die onbeheerde riooluitvloeisel is die enkele grootste bron van waterbesoedeling in Suid-Afrika. Dít en die verhoogde soutvlakke in ons riviere hou ’n magdom gevare vir alle Suid-Afrikaners in,” sê die waterkenner Anthony Turton in ’n verslag oor die land se waterbesoedelingsprobleme wat onlangs deur die Instituut vir Rasseverhoudinge bekend gestel is.

  • Min dinge illustreer die regering se traak-my-nie-agtige houding tot waterbestuur beter as die feit dat daar vandag 1 100 minder operasionele reënmeters is as in 1970. Dié meters is noodsaaklik vir die voorspelling van watervloei en die beskikbaarheid ­daarvan.

Turton sê Suid-Afrika se infrastruktuur om die land se waterbronne te meet, moniteer en voorspel het só agteruitgegaan dat die land nou dieselfde kapasiteit as in 1960 het, toe ’n kommissie van ondersoek na watersake aangestel is om ’n nasionale strategie te ontwikkel om water te bestuur.

  • Waterbeperkings in die noorde van die land moes reeds aan die begin van die jaar ingestel word, maar die regering was onwillig om dit te doen voor die munisi­pale verkiesing.

“Ons kon nou reeds 80 miljoen m³ water gespaar het as ons sedert Mei maandeliks 15% water op munisipale en 20% op besproeiingswater gespaar het,” sê dr. Chris Herold, voorsitter van die Instituut vir Siviele Ingenieurswese ­(Saice). Dit beteken dat genoeg water om die Roodeplaatdam naby Pretoria
of die Steenbrasdam naby Kaapstad ­amper twee keer vol te maak, verlore gegaan het.

  • Terwyl die noorde van die land hoop dat die huidige reënseisoen verligting sal bring, staar ’n uiterste waterkrisis Kaapstad reeds in die gesig. Die drie groot damme wat die metropool van water voorsien, was in Oktober – aan die begin van die Wes-Kaap se droë somerseisoen, slegs 61% vol (teenoor 90% dieselfde tyd verlede jaar). Die Wes-Kaapse riviere word reeds tot ’n maksimum benut en Kaapstad sal in die toekoms waarskynlik op ’n kombinasie van gesuiwerde rioolwater en boorgatwater moet staatmaak om aan die stad se groeiende behoefte te vervul.

Groot dele van Gauteng het ’n paar weke gelede reeds ’n voorsmakie gekry van die waterskaarste wat op die land wag toe krane drooggeloop het omdat reservoirs in dié gebiede minder as 10% vol waas.

“Die regering het twee dekades gelede al geweet dat gebiede wat afhanklik is van die Vaalrivier afstuur op ’n watertekort,” sê dr. Kobus van der Walt, ’n omgewingskenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Van der Walt sê die vraag na water uit die Vaalrivierstelsel het die beskik­bare aanbod reeds in 2006 oorskry.

“Die bou van die Polihalidam is noodsaaklik om ’n permanente oplossing vir dié watertekort te bied, en die regering het dit geweet.

Hy sê dit beteken Gauteng sal vir die volgende paar jaar kwesbaar bly indien daar nie bogemiddelde reën in die Vaalrivier se opvanggebied val nie.

Die nasionale waterhulpbronstrategie (NWRS) waarsku reeds sedert 2004 dat die land op ’n waterramp afstuur.

Volgens die NWRS sal die tekort teen 2025 reeds 2 miljard m³ per jaar wees – genoeg water om die Jozinidam, die land se vyfde grootste, amper 90% te vul.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.