Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
WEERHAAN: Klippies op die klippe by Kampsbaai?

Ons het ’n paar vreemde weer-weke agter die rug. En die skisofreniese werkinge van die weergode duur hierdie naweek voort.

Gou ’n vinnige oorsig: Ons het dae gehad (nie baie vir hierdie tyd van die jaar nie, bygesê) met ’n stywe suidooster en af en toe ’n bloedige warm 40 °C- dag, gevolg deur reënstorms, stuifreën en vriesweer.

Ons het sonnige, helder dae gehad wat nou en dan deur tandelose storms, wat probeer om na hul winterglorie terug te keer, onderbreek is.

Dit lyk of ons steeds vasgevang is in ’n soortgelyke heen-en-weer tussen weer-uiterstes – iets wat redelik algemeen is voordat die hoofseisoen sy atmosferiese gesag op grondvlak begin afdwing.

’n Hoogdrukstelsel hang vandag rond in die Atlantiese Oseaan, sowat 1 800 km suidsuidwes van Kaapstad, en sal die hele naweek ooswaarts neig.

Die gradiënt tussen hierdie hoog- en ’n laagdrukstelsel verder noord veroorsaak vandag fris suidoostelike winde langs die kusgebiede, en ligter in die binneland.

Daar is ’n bietjie wolke, veral oor die Suid-Kaap, en ligte ­­reënbuie is moontlik van Plettenbergbaai tot Port Elizabeth. Verwag minimum temperature rondom 11 °C, wat styg tot 20 °C langs die kus en 25 °C in die binneland.

’n Deining van ses voet, met 13 sekonde-intervalle, verswak geleidelik en teen vanaand kyk jy na vier voet – en ’n plat see vir die res van die naweek.

Terloops, wees op die uitkyk vir pofadders wat weer aktief word ná hul winterslaap.

Môre beweeg die band met die stywe suidooster weg van die Weskus, waar ligte bergwinde of noordelike winde sy plek inneem. Verwag ligte winde in en om Kaapstad en sy voorstede, maar by Kaappunt gaan die wind behóórlik pomp (teen 11:00 waai die wind teen sowat 9 km/h in die Kaapse middestad, maar net 50 km suid daarvan teen 55 km/h . . .)

Dit is ’n heerlike oggend om die buitelug te geniet, veral in die Skiereiland, aan die Weskus en in die Wynland, waar dit lyk soos ’n wonderlike dag ná vroegoggend se 15-17 °C. Die suidooster kan jou dalk ’n bietjie rondpluk, maar dit lyk meestal beperk tot tussen Kaappunt en Port Elizabeth.

Elders, binnelands en ooswaarts, lyk dit soos ’n mengsel van gedeeltelik bewolkte weer, maar matige temperature van 20 °C langs die kus en 25 °C in die binneland (hoewel dit maklik 5 °C warmer kan wees aan die Weskus en Noord-Kaap).

Teen Sondag veroorsaak ’n kuslaagdruk vars noordelike tot noordwestelike winde in Kaapstad en aan die Weskus, maar die vars oostelike vloei tussen Kaappunt en Port Elizabeth duur voort. ’n Minimum van rondom 18 °C word later ’n matige 23-25°C.

Teen Sondagmiddag gaan lê die noordewind en kan ons ’n pragtige en rustige aand tussen Kaapstad en veral Langebaan geniet. Dit kan perfek wees vir ’n skemerkelkie – Klippies op die klippe by Kampsbaai . . .

Oomblikke van geestelike verryking

Soos jy waarskynlik weet, is Kaapstad Suid-Afrika se grootgolfmekka, met drie wêreldklas-breaks op ons voorstoep.

Dungeons is die bekendste – en een van die angswekkendste. Maar onder die regte omstandighede bring dit oomblikke van geestelike verryking vir die handjievol hardebaarde wat haar aanvat.

Vir die regte omstandighede het jy ’n kragtige storm nodig, ongeveer 1 800 km vanaf die break – ’n versameling rotsriwwe naby Rob-eiland aan die onderkant van Hangberg by Houtbaai.

Ná twee dae se reis moet die storm se golwe van wessuidwes af inrol en tussen Vulcan Rock en Tafelbergrif deurglip voor dit om Duikereiland buig.

Jy wil gefokusde golwe uit een rigting hê sodat dit op dieselfde plek op die rif breek.

Die weer moet kalm wees, of ’n ligte seebries. Aflandige winde kan jou aan die golfwand laat hang, en jy wil nie in die geweld wees wat volg as die golf op die rif ontplof nie. Laat ons maar net sê dié ervaring is veel erger as wanneer Eben Etzebeth en Duane Vermuelen sáám ’n Engelsman lak. Eina!

As die storm té naby is, slaan golwe uit alle rigtings toe. Dit is nie pret as jy stukke seewater vyf verdiepings hoog probeer ontwyk in ’n gebied die grootte van die Jokohama-stadion in Japan nie.

Meer oor:  Steve Pike  |  Weerhaar  |  Weer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.