Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Weermag onttrek by Vaalrivier

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sal Vrydag al sy mannekrag en hulpbronne aan die Vaalrivier onttrek.

Die weermag se hulp is in 2018 ingeroep ná die ineenstorting van die Emfuleni-munisipaliteit se rioolaanleg-infrastruktuur en die gevolglike besoedeling van die Vaalrivier.

Die SANW het Maandag in ’n verklaring gesê sy mandaat verstryk finaal op 31 Januarie.

Dit volg nadat die weermag se mandaat verlede jaar op 31 Oktober verstryk het, maar toe met nog drie maande verleng is.

Die Suid Afrikaanse Nasionale Weermag wys in Februarie verlede jaar die vordering wat gemaak is by die Sebokeng-watersuiweringsaanleg buite Vanderbijlpark sedert hul ingenieurs in Oktober 2018 ontplooi is om die waterpompe en rioolaanlegte in die omgewing te herstel. Foto: Deaan Vivier

Kapt. Ntsoaki Ramolula, SANW-woordvoerder, het by navraag gesê die verlenging was hoofsaaklik sodat die weermag die riool-infrastruktuur kon beveilig.

Volgens Ramolula loop die infrastruktuur onder sabotasie en kabeldiefstal deur.

Voorheen het die weermag se ingenieurskorps – wat uit nagenoeg 500 lede bestaan het – gehelp om stukkende rioolpompe en verstoppings reg te maak.

In Junie 2019 moes die weermag dié werk staak toe die geld opraak.

Hierna het die Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) die leisels vir die rehabilitering op 1 Desember oorgeneem.

Volgens Ramolula is daar geen spesifieke rede waarom die SANW nie gaan aanbly nie.

“Ons werk is klaar en ander maatskappye en kontrakteurs gaan nou oorvat,” het Ramolula gesê.

Maureen Stewart, woordvoerder van die bewaringsorganisasie Save the Vaal (Save), sê hulle is hartseer om die weermag te groet.

“Ons weet nie wat om van die nuwe veiligheidsmaatskappy te verwag nie,” het Stewart gesê.

Erwat was verantwoordelik vir die nuwe aanstelling, maar kon teen druktyd nie bevestig watter maatskappy aangestel is nie.

Wanda Annandale, Erwat se woordvoerder, het Maandag bevestig drie private veiligheidswagte is aangestel wat reg sal wees om Vrydag by die weermag oor te neem.

Vaalrivier-uitdagings wat antwoorde verg

* Volgens kundiges beland meer as 150 megaliter rioolvuil – sowat 75 Olimpiese swembaddens vol – daagliks via die Rietspruit in die Vaalrivier by Lochvaal. (Gauteng is hoofsaaklik van water uit die Vaaldam, stroomop van die Barrage (Lochvaal), vir drinkwater afhanklik.)

* Die departement van water en sanitasie en menslike nedersettings het verlede jaar gesê geen ontwikkeling in die Vaaldriehoek kan plaasvind voordat die Vaalrivier skoon en die infrastruktuur herstel is nie.

* Die Emfuleni-munisipaliteit het net een voertuig waarmee die pompstasies gemonitor kan word.

* Tumelo Gopane, uitvoerende hoof van Erwat, het verlede week aan Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, gesê net sowat 5% van die afvalwater en rioolvuil bereik die drie watersuiweringsaanlegte in die Emfuleni- munisipale gebied in die Vaaldriehoek.

* Verder is daar ook ’n pypstelsel van sowat 2 600 km wat Vereeniging, Vanderbijlpark en townships soos Sebokeng, Everton, Boipatong en Sharpeville bedien. Een van die vernaamste redes waarom die pype verstop is, is omdat mense allerlei goed in toilette afspoel, het Gopane gesê. Hy sê aandag moet eers gegee word aan al die verstoppings voordat aandag gegee kan word aan die herstel van die suiweringsaanlegte.

* Volgens die SANW is sewe pompstasies in ’n werkende toestand en 24 pompstasies werk nog, maar kort dringend aandag.

Meer oor:  Sanw  |  Vaalrivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.