Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Weesmuskeljaatjies nou kaatjies van die baan
Twee van die tien muskeljaatkatte wat personeel van die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital suksesvol met die hand grootgemaak het. Foto: Kelsey Skinner en Sarah Kempen

Personeel van die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital kon daarin slaag om tien muskeljaatkatte wat die afgelope paar maande hier opgeneem is, suksesvol groot te maak.

Die muskeljaatkatte het as pasgebore babas of jongelinge in die dierehospitaal se sorg beland en is elkeen met die hand grootgemaak. Die kleintjies word eers spesiale formulemelk gevoer en dan volg insekte en muise.

Die eerste muskeljaatkat is sowat vyf maande gelede by die dierehospitaal aangebring.

“Hulle is van verskillende plekke in die omgewing van Johannesburg en Pretoria of stedelike gebiede afkomstig. Lede van die publiek het hulle bedags op die vloer of in hul tuine aangetref en kon nie hul ouers opspoor om hulle te herenig nie,” sê dr. Kelsey Skinner, ’n veearts by die dierehospitaal.

Die muskeljaatkatte is tans in verskillende stadiums van hul ontwikkeling en bykans al die pasiënte word in buitehokke aangehou.

Volgens Skinner het die muskeljaatkatjies se ouderdomme van drie tot tien dae gewissel toe hulle daarheen gebring is.

Een van die muskeljaatkatte loer uit ’n tonnel. Foto: Kelsey Skinner en Sarah Kempen

Die jongste enetjie is nou net onder twee maande oud, terwyl die oudste nou so vyf maande oud is.

“Hul oë of ore was nog toe en hulle was nog heeltemal afhanklik vir alles. Hulle was baie, baie klein,” sê Skinner.

Net die jongste een kry nog formulemelk en die ander kan al op hul eie eet.

“Ons het almal suksesvol grootgemaak. Hulle is redelik maklik om met ’n bottel te voer en is ook baie vinnig om van bottelvoeding na klein insekte oor te gaan.”

Muskeljaatkatte is karnivore en eet klein reptiele soos akkedisse, asook klein voëltjies en knaagdiere. Af en toe sal hulle bessies en vrugte van plante af eet.

Die tien muskeljaatkatte in die dierehospitaal sal binnekort in hokke in gekeurde, geskikte habitatte geplaas word om hulle vir vrylating voor te berei.

’n “Sagte vrylatingsproses” word gevolg.

Skinner verduidelik dit beteken dat kos steeds vir ’n paar weke daagliks uitgesit word totdat die muskeljaatkatte heeltemal onafhanklik is en hul eie gebied gevestig het.

Sy benadruk ook dat muskeljaatkatte nie ’n bedreiging vir mense en hul diere inhou nie.

Die muskeljaatkatte was tussen drie en tien dae oud toe hulle in die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital se sorg beland het. Hier is een van die katte wat nou al mooi groot is nadat hy met die hand grootgemaak is. Foto: Kelsey Skinner en Sarah Kempen
Die muskeljaatkatte was nog baie klein en afhanklik toe hulle in die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital opgeneem is. Foto: Kelsey Skinner en Sarah Kempen
Twee muskeljaatkatte lê snoesig bymekaar. Foto: Kelsey Skinner en Sarah Kempen

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.