Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Wêreld op pad na klimaat-apartheid’

Die wêreld is “erg” onvoorbereid vir klimaatsverandering – maar deur $1 800 miljard in die volgende dekade ter voorbereiding daarvan te belê, kan voordele van meer as $7 000 miljard behaal word.

Só sê die Wêreldkommissie vir Aanpassing wat bestaan uit 34 wêreldleiers op die gebied van politiek, sake en wetenskap.

Die Noord-Kaap se warm, droë klimaat. Foto: Samantha van den Berg

Die groep sê die wêreld moet dringend meer “veerkragtig” gemaak word ten opsigte van klimaatverandering, berig die BBC.

Die kommissie is gelei deur Ban Ki-moon, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), Kristalina Georgieva, hoof van die Wêreldbank, en Bill Gates, medestigter van Microsoft.

Volgens hulle het ryker lande ’n dringende morele verantwoordelikheid om te belê in aanpassingsmetodes tot voordeel van die wêreld.

Patrick Verkooijen, uitvoerende hoof van die Wêreldsentrum vir Aanpassing, sê: “Wat ons werklik sien, is die gevaar van ’n klimaat-apartheid, waar rykes betaal om daaraan te ontsnap en die res gelos word om te ly. Dit is ’n diepgaande, skreiende, morele onreg.”

Volgens Verkooijen gaan morele noodsaak nie verandering bring nie, daarom word ook ekonomiese alternatiewe in die verslag uitgestippel. “Dit is in ’n nasie se eie belang om in aanpassings te belê.”

Volgens die groep is die grootste struikelblok nie geld nie, maar ’n tekort aan “politieke leierskap wat mense uit hul kollektiewe sluimerslaap skud”. ’n “Revolusie” is nodig ten opsigte van hoe die gevare van aardverwarming begryp word, hoe daarvoor beplan word en hoe daar vir die oplossings betaal gaan word.

The Guardian berig Ban, Gates en Georgieva skryf in die voorwoord: “Die klimaatkrisis is hier, nou: Massiewe brande verwoes sensitiewe habitatte; stadskrane loop leeg; en droogtes verdor die wêreld en massiewe vloede vernietig mense se huise en lewensbestaan. Die reaksie daarop is tot dusver ernstig ontoereikend.”

Ek is regtig bekommerd oor die gebrek aan visie deur politieke leiers.

Ban skryf: “Ek is regtig bekommerd oor die gebrek aan visie deur politieke leiers. Hulle is baie meer geïnteresseerd om verkies en herverkies te word en klimaatsake is nie hul prioriteit nie. Ons sien dit in Amerika met pres. (Donald) Trump.”

Volgens die verslag sal 100 miljoen meer mense teen 2030 in armoede leef as maatreëls nie nou getref word nie. Elke jaar sal vyf miljard meer mense nie genoeg water hê nie, wat ongehoorde mededinging vir water en konflik en migrasie tot gevolg sal hê.

Honderdmiljoene mense wat aan die kus woon, kan teen 2050 deur hoër seevlakke uit hul huise gedryf word.

Wat kan ons doen?

Daar is vyf dinge wat die wêreld moet doen, lui die verslag volgens die BBC en The Guardian:

* Vroeë waarskuwingstelsels: Veral vir blootgestelde eilande en kusgemeenskappe is vroegtydige waarskuwings oor storms, uitermatige hoë hooggetye en ander ekstreme weerstoestande nodig om lewens te red. Beter weermonitering en ’n eenvoudige app vir vissersgemeenskappe in byvoorbeeld die Cook-eilande, sal hulle toelaat om beter vir seetoestande te beplan. ’n Waarskuwing van 24 uur voor die tyd lei tot ’n 30%-afname in skade en lewensverlies.

* Infrastruktuur: Beter paaie, geboue en brûe moet gebou word. ’n Projek is in New York begin om dakke wit te verf sodat hitte gereflekteer kan word ten einde geboue en omgewings koeler te hou. In die Indiese stad Ahmedabad het dit die temperatuur binnenshuis met 5 °C laat daal. Sulke planne kos 4% meer, maar bespaar $4 vir elke $1 wat daaraan bestee word, lui die verslag.

* Verbeter landbou in droë streke: Iets so eenvoudig soos om boere te help om oor te skakel na droogtebestande variëteite van koffie kan mense se lewensbestaan red.

* Herstel en beskerm wortelboommoerasse (mangroves): Wortelboommoerasse beskerm sowat 18 miljoen mense teen kusvloede, maar dié woude word tans deur ontwikkeling uitgeroei. Restourasieprojekte kan blootgestelde gemeenskappe teen storms beskerm en visproduksie ’n hupstoot gee. Die voordele is volgens die verslag tien keer meer as die restourasiekoste.

* Water: Watervoorrade moet beskerm en nie vermors word nie. Dit is deurslaggewend vir klimaatsbeskerming.

Ekonomie vs. menselewens

Die Tongaanse leier, Akilisi Pohiva, is ’n lang man met ’n uitdrukkinglose gesig – nie iemand wat jy sal verwag in trane gaan uitbars op ’n interregeringsberaad nie.

Maar dit is wat verlede maand gebeur het op ’n ontmoeting van leiers in die Stille Oseaan-gebied op die klein eiland Tuvalu, vertel mense wat daar was.

Pohiva is deur emosie oorval toe hy probeer het om Scott Morrison, Australiese premier, se hulp te kry om die klimaatkrisis daadwerkliker aan die pak.

Hy het nie gekry wat hy gevra het nie en hy is nie die enigste leier wat gefrustreerd is oor Morrison se oënskynlike gebrek aan kommer oor die gevaar van ’n verhoogte seevlak vir die kleiner eilande in die Stille Oseaan nie.

“Jy is net bekommerd daaroor om jou ekonomie te red, maar ek wil my mense red,” het Enele Sopoaga van Tavalu aan Morrison gesê.

Frank Bainimarama, premier van Fidji, het aan die einde van die ontmoeting gesê daar is geen vordering gemaak nie. “Ons moes skik op die status quo.”CNN

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.