Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Werk dag én nag om Vaal re red’ – Sisulu

Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, het Dinsdag vuur gemaak onder die watereenheid Erwat, wat die waterinfrastruktuur in Vereeniging, Vanderbijlpark en die omgewing moet regruk om die erge besoedeling van die Vaalrivier stop te sit.

Die minister het die eenheid, amptelik bekend as die Ekurhuleni Water Care Company, op ’n vergadering in Vereeniging opdrag gegee “om nie vyf dae per week nie, maar sewe dae per week te werk” om die stelsel reg te ruk.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, Dinsdagmiddag in Vanderbijlpark waar Erwat se werkers besig is om verstopte rioolpype vir herstelwerk oop te maak. ’n Stank het oor die gebied gehang. Foto: Sarel van der Walt

Sy sal op 26 Junie – drie maande vroeër as wat aanvanklik beplan is – na Vereeniging terugkeer en wil dan ’n vorderingsverslag hê.

Die minister het laat blyk sy wil die gebied as ’n nasionale rampgebied laat verkry sodat meer staatsgeld beskikbaar is om die krisis die hoof te bied.

Erwat het in Desember by die weermag oorgeneem wat aanvanklik die opdrag gekry het om die rioolnetwerk te herstel.

Die weermag het ook die 42 pompstasies en die drie watersuiweringswerke in die omgewing beskerm, maar ’n private veiligheidsmaatskappy sal nou dié taak oorneem.

Die regering het meer as R1 miljard beskikbaar gestel vir die projek om die rioolstelsel te herstel. Sisulu het belowe dat sy sal toesien dat die geld beskikbaar gemaak en aangewend word.

Volgens kundiges beland meer as 150 megaliter rioolvuil daagliks via die Rietspruit in die Vaalrivier by Lochvaal.

Vuil rivier
Die Vaalrivier. Foto: Sarel van der Walt

Nadat sy in die raadsaal van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit op die hoogte van die situasie gebring is, het Sisulu gesê sy is deeglik bewus van die erns van die krisis.

“Ek het nou (op die vergadering) eers gehoor die organisasie Save (Save the Vaal Environment) het al nege hofbevele teen die Emfuleni-munisipaliteit verkry om iets aan die (krisis in die) Vaalrivier te doen.

“Kontak my in die toekoms regstreeks,” het sy aan Jeremy Ridl, Save se prokureur, gesê.

Sisulu het aangebied om ten nouste met dié organisasie saam te werk.

“Ek is baie bekommerd oor dié saak. Die Vaalrivier is ’n baie belangrike bron van water en dit is my taak om die rivier te beskerm,” het sy gesê.

Gauteng is hoofsaaklik van water uit die Vaaldam – stroomop van die Barrage (Lochvaal) waar die riool in die rivier beland – vir drinkwater afhanklik.

“Ons moet dit as ’n ramp hanteer. Dis nie net die mense hier (in Gauteng) wat geraak word nie, maar ook duisende ander mense stroomaf. Toerisme word ook erg geraak.

“Dit is jammer dit het so lank geneem om die punt te bereik waar iets gedoen word. Vertrou my, dinge sal van nou af gebeur.

Jeremy Ridl, prokureur van die organisasie Save. Foto: Sarel van der Walt

“Ek het gehoor wat julle vandag vir my gesê het,” het Sisulu gesê.

Sy besit self ’n eiendom in Evaton wat ook erg deur die krisis geraak word.

Sisulu het gesê die regering beplan om pompstasies en watersuiweringsaanlegte tot nasionale sleutelpunte te verklaar.

Klippies Kritzinger, voorsitter van die plaaslike kamer van koophandel, het aan Sisulu gesê die “private sektor sal met die staat hande vat om die besoedelingsprobleem aan te pak”.

“Ons het plaaslik baie kundige mense, soos ingenieurs, wat kan help.”

Die minister het op die vergadering gehoor die mense van die Vaaldriehoek se klagtes oor die besoedeling val al die laaste 14 jaar op dowe ore.

Sy het ook gehoor dat die Emfuleni-munisipaliteit net een voertuig het wat gebruik kan word om die pompstasies te monitor.

‘Net 5% afvalwater en rioolvuil bereik dié werke’

Tumelo Gopane, uitvoerende hoof van Erwat, het aan Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, gesê die rioleringstelsel is so verstop en vervalle dat net sowat 5% van die afvalwater en rioolvuil die drie watersuiweringswerke in die Emfuleni-munisipale gebied in die Vaaldriehoek bereik.

Die res loop in die strate uit of beland uiteindelik in die Vaalrivier.

Die minister het gehoor daar is ’n pypstelsel van sowat 2 600 km wat Vereeniging, Vanderbijlpark en townships soos Sebokeng, Everton, Boipatong en Sharpeville bedien.

Tumelo Gopane, uitvoerende hoof van Erwat.Foto: Sarel van der Walt

Gopane sê een van die vernaamste redes waarom die pype verstop is, is omdat mense allerlei goed in toilette afspoel wat eerder in vullisdromme gegooi moet word. Dit sluit in sanitêre doekies en selfs tandeflos en hare. Daar is ook al klippe en bourommel gekry.

“Ons aanlegte is ongelukkig nie gebou om dié tipe dinge uit te hou nie,” het Gopane gesê.

Dit is volgens hom belangrik dat ’n veldtog begin word om mense op te voed om nie enigiets in toilette weg te spoel nie.

“Sedert ons begin het om die pype skoon te maak, het baie meer water en rioolvuil by die suiweringsaanlegte begin uitkom. Ons het al 133 verstoppings van mangate van verskillende groottes herstel.”

Altesaam 117 mense van tien maatskappy is in hierdie stadium by Erwat se projek betrokke.

“Ons sal eers al die verstoppings in die pype moet herstel voordat ons aandag aan die suiweringswerke kan gee,” het Gopane gesê.

Die massiewe watersuiweringsaanleg in Sebokeng (wat ook die rioolvuil uit die suidelike dele van Johannesburg ontvang) sal voorkeur geniet.

Hy sê dit is baie moeilik om te voorspel hoe lank dit sal neem om die hele proses af te handel, maar hy hoop dit sal binne twee of drie jaar gedoen kan word.

“Ons sal kameras in al die pype moet afstuur om te bepaal presies hoe groot die skade is.”

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Vanderbijlpark  |  Vaalrivier  |  Vereeniging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.