Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Werk om Vaal te red ruk tydelik tot stilstand

Die omvangryke projek van sowat R1 miljard om die erge besoedeling in die Vaalrivier in die Vaaldriehoek hok te slaan is tydelik tot stilstand geruk.

Dit was nadat werkers van die Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) glo deur ontevrede lede van die Sebokeng-gemeenskap gekaap en as gyselaars aangehou is.

Die lede van die gemeenskap eis om as werkers by die projek in diens geneem te word.

Die projek sal moontlik teen Woensdag hervat word, het Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, Sondagmiddag gesê.

Erwat het ter wille van die veiligheid van sy werknemers besluit om die werk vir eers te staak, sê hy.

Erwat, wat in Desember by die weermag oorgeneem het om die rioolnetwerk te herstel, het Sondag alle navrae na die departement verwys.

Ratau sê die projek sal hopelik hervat kan word ná samesprekinge Maandag tussen al die rolspelers oor hoe sowat 300 lede van die gemeenskap betrek kan word.

Vaalrivier
Die Vaalrivier by Vereeniging. Foto: Sarel van der Walt

Tot nou toe was 120 mense van tien maatskappye by die projek betrokke.

Benewens die 300 lede van die gemeenskap wat betrek kan word, sal nóg 300 moontlik later betrek kan word by die proses om lekplekke te herstel.

Daar is aanvanklik beplan om uiteindelik 150 lede van die gemeenskap te betrek, maar Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, het vroeër al gevra dat meer betrek word, sê Ratau.

Die minister se voorstel was dat lede van die gemeenskap betrek word om take te verrig waarvoor ongeskoolde arbeid nodig is.

Regte arbeidsprosesse moet gevolg word

Maandag se vergadering om mense uit die gemeenskap te betrek is volgens Ratau belê nog voor die protesoptrede sowat twee weke gelede begin het.

Hy sê Erwat kon nie dadelik mense aanstel nie en moes eers die regte arbeidsprosesse volg “anders sou daar protes op protes op protes wees”.

Onder andere verteenwoordigers van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit en die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit sowel as ’n gemeenskapskomitee wat die gemeenskap verteenwoordig, sal Maandag se vergadering bywoon.

Die mense wat gekeur word, sal van Dinsdag af deur die nodige wetlike administratiewe prosesse gaan.

Inwoners van onder meer Vereeniging, Vanderbijlpark, Sebokeng, Sharpeville en Boipatong kla al 14 jaar oor die besoedeling van die Vaalrivier, een van Gauteng se vernaamste waterbronne.

Kundiges het onlangs gesê meer as 150 megaliter rioolvuil beland daagliks via die Rietspruit in die Vaalrivier by Lochvaal.

Tumelo Gopane, uitvoerende hoof van Erwat, het Januarie op ’n vergadering in Vereeniging aan Sisulu gesê die gebied se rioolstelsel is so verstop en vervalle dat net sowat 5% van die afvalwater en rioolvuil die drie watersuiweringswerke in die Emfuleni-gebied bereik.

Die res loop in die strate uit of beland uiteindelik in die Vaalrivier. ’n Pypleidingsnetwerk van sowat 2 600 km bedien die gebied.

Die regering het meer as R1 miljard beskikbaar gestel vir die projek.

“Ons sal eers al die verstoppings in die pype moet herstel voordat ons aandag aan die suiweringswerke kan

gee,” het Gopane toe gesê.

Die massiewe watersuiweringsaanleg in Sebokeng (wat ook die rioolvuil uit die suidelike dele van

Johannesburg ontvang) sal voorkeur geniet.

Die regering het meer as R1 miljard beskikbaar gestel vir die projek.

Sisulu het op dié vergadering gesê die besoedeling van die Vaalrivier moet as ’n ramp bestuur word.

Die Vaalrivier is volgens haar ’n baie belangrike bron van water en dit is haar taak as minister om die rivier te beskerm

“Dit is nie net die mense van Gauteng wat geraak word nie, maar ook duisende ander mense stroomaf,” het sy gesê.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.