Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Werkers betrap wat afval langs pad stort
Die kos en sakke vol afvalgoedere wat op die vragmotor se bak was. Foto: Verskaf

Werkers van ’n afvalbestuursmaatskappy is op heterdaad betrap terwyl hulle afval langs ’n pad in Port Elizabeth stort.

Die werkers van Oricol Environmental Services is Vrydag in Missionweg betrap terwyl hulle sakke, wat na bewering vol hoender en ander kos was, van hul vragmotor afgegooi het.

Rassie Erasmus, ’n besorgde inwoner wat op die toneel afgekom het, sê die situasie het hom dadelik laat terugdink aan ’n voorval in Januarie toe vier kinders dood is nadat hulle kos op ’n stortingsterrein in Motherwell geëet het.

Die kinders, wat almal tussen drie en 11 jaar oud was, is op 5 Januarie in die Motherwell-gesondheidsentrum dood.

“Ek het dadelik aan die Motherwell-voorval gedink, daarom het ons stilgehou en seker gemaak die werkers tel die goed weer op.

“Van die goed was vrot, dit het gestink.”

Erasmus het die voorval onder die aandag van die betrokke maatskappy gebring, aangesien hy glo dat dié soort optrede lewensgevaarlik kan wees.

Greg Paterson, die maatskappy se streekbestuurder in die Oos-Kaap, het by navraag gesê die bestuurder en assistent wat by die voorval betrokke was, is onmiddellik hangende die uitkoms van ’n ondersoek geskors.

Hy sê die maatskappy sien dié soort gevalle in ’n baie ernstige lig.

Teen Maandagoggend het Paterson besoek afgelê by die gebied in Missionweg en gesê dit lyk asof die gebied al voorheen deur mense vir onwettige storting gebruik is.

’n Werker laai weer die sakke terug op die vragmotor nadat hulle dit langs die pad gestort het. Foto: Verskaf

Die maatskappy sal Dinsdag ’n voertuig stuur om die betrokke gebied skoon te maak.

“Ons verstaan dat afvalbestuur ’n sensitiewe kwessie is en ons moet voldoen aan elke faset van die wet,” sê Paterson in ’n verklaring.

Bestuurders en assistente word volgens Paterson gereeld opgelei en herinner dat hulle onder geen omstandighede afval mag stort op enige ander terrein behalwe die gerief wat goedgekeur is in ooreenstemming met die afvalmateriaal op ’n betrokke vrag nie.

Die maatskappy se voertuie word deur satelliet-opsporingstoestelle gemonitor en volgens dié data het die betrokke vragmotor om 08:49 stilgehou voordat hulle weer om 09:03 gery het.

Paterson sê hulle sal binnekort met Erasmus in verbinding tree om meer inligting vir hul ondersoek te bekom.

Intussen het kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, gesê die oorsaak van die vier kinders in Motherwell se dood is nog nie bekend nie.

Die polisie het ná die voorval gesê die kinders het vermoedelik ’n giftige middel ingekry nadat hulle iets op die stortingsterrein geëet het. Luidens gerugte het die kinders skyfies en kaas geëet.

Beetge sê die lykskouings is afgehandel, maar hulle wag op die forensiese verslag waarin hulle hoop die middel geïdentifiseer sal word.

Meer oor:  Afval  |  Port Elizabeth  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.