Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Wes-Kaap maak plan teen indringer-plante

Die Wes-Kaapse regering het ’n raamwerk vir beleggings in ekologiese infrastruktuur geskep om samewerking ten opsigte van omgewingsbewaring en die verwydering van indringerspesies te bevorder.

Die provinsiale departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het Maandag gesê die doel hiervan is om indringerplante in opvangsgebiede te beheer ten einde water te bewaar.

Werkers verwyder indringerplante in ’n veld. Foto: Ter illustrasie

Anton Bredell, LUR vir omgewingsake, ontwikkelingsbeplanning en plaaslike regering, sê in ’n verklaring indringerspesies het ’n skadelike uitwerking op opvangsgebiede.

“Ons bestee elke jaar miljoene rande dwarsoor die provinsie om dié plaag te bestry. Die verwydering van indringerplante lei tot groter watersekerheid en omgewingsvolhoubaarheid.”

Volgens Bredell het CapeNature oor die afgelope vier jaar R39,4 miljoen bestee om indringerplante uit te roei op die grond wat hy bestuur.

Na raming het die verwydering van indringers uit die opvangsgebied van die Opper-Bergrivier daartoe gelei dat tot 26,5 miljoen kubieke meter (26,5 miljard liter) bykomende water jaarliks beskikbaar is.

“Dié werk sal voortgaan, ten spyte van voortdurende begrotingsbesnoeiings van die nasionale tesourie.”

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.Foto: Peter Abrahams, SON

Die departement sê die ekologiese infrastruktuur- beleggingsraamwerk (EIIF) is ontwikkel as ’n vlagskipprojek vir samewerking en koördinasie tussen belanghebbendes, waaronder CapeNature, nasionale en provinsiale departemente, die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), akademici, die private sektor en nieregeringsorganisasies.

“Indringers het ’n aansienlike uitwerking op water- en luggehalte en kwesbaarheid vir rampe soos veldbrande, oorstromings en droogte,” lui die verklaring.

Marlene Laros, direkteur van biodiversiteit en kusbestuur in die departement, sê die Wes-Kaap ly hewige waterverliese weens indringers.

Die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel verloor na raming sowat 38 miljoen kubieke meter water per jaar weens indringers, sê sy.

Dit is soortgelyk aan die dravermoë van ’n opgaardam soos die Benede-Steenbrasdam (33,5 miljoen kubieke meter) wat water aan Kaapstad voorsien.

“Die afgelope twee jaar het ons ’n toename in besteding aan rampbestuur gesien weens veldbrande en droogte. Om dié rede maak ’n gekoördineerde en proaktiewe belegging in ekologiese infrastruktuur ekonomies en finansieel sin.”

Laros sê die herstel van opvangsgebiede is aansienlik meer kostedoeltreffend as ander voorstelle vir die aanvulling van waterbronne en lewer water teen ’n tiende van die koste van alternatiewe opsies.

“Sowel as om watersekerheid te verbeter, bied die herstel van opvangsgebiede ander voordele, soos werkskepping, die bemagtiging van gemeenskappe, ’n verlaagde brandgevaar, die herstel van die inheemse fynbosbiodiversiteit en veerkragtigheid ten opsigte van klimaatsverandering.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) het in 2014 in ’n verslag ’n “raamwerk vir belegging in ekologie-infrastruktuur” uiteengesit.

In dié verslag word genoem dat indringers soos wattelbome en bloekoms sowat 7% van die waterafloop in die land absorbeer.

Indien dit nie bestuur word nie, kan indringerbome uiteindelik tot 60% van die jaarlikse waterafloop opslurp, luidens die verslag.

Verder is daar bevind dat veral indringers soos dennebome, bloekoms en sekere spesies akasia bydra tot die brandgevaar oor dele van die land.

Die verwydering van dié bome en die bestuur van hul verspreiding word aanbeveel om die risiko van ’n ramp te verminder.

  • Nasionale Indringerspesiesweek is vanjaar van van 7 tot 11 Oktober.
Meer oor:  Cape Nature  |  Anton Bredell  |  Wes-Kaap  |  Indringerplante  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.