Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Wes-Kaap se damvlakke styg verder ná laat reën

Die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak het die afgelope week verder gestyg tot bo 66% en bly hoër as dié tyd verlede jaar.

Teen Maandag het die gemiddelde damvlak van 65,8% tot 66,8% gestyg, vergeleke met verlede jaar se 63,9%.

Die gemiddelde vlak van Kaapstad se damstelsel het van 82,8% tot 84,2% gestyg, terwyl dit verlede jaar op 73,6% gestaan het.

Die wind maak branders op die Voëlvleidam toe die foto verlede Donderdag geneem is. Dié dam tussen Gouda en Wellington se vlak het die afgelope week van 87,6% tot 89,9% gestyg.Foto: Samuel Walters

Intussen is daar ’n 30%-kans op reën Woensdag in die Wes- en Oos-Kaap en ’n 30%-kans op buie Donderdag.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Maandag in ’n verklaring gesê damvlakke in die provinsie het gestyg danksy die “onverwagte somerreën” wat oor groot dele oor die afgelope tien dae uitgesak het.

’n Kanaal wat na die Voëlvleidam in die Wes-Kaap lei, loop vol met water ná goeie reën. Dié foto is verlede Maandag geneem. Foto: Samuel Walters

Bredell sê dié styging in die damvlakke is gerusstellend, maar die voortdurende droogte in die Karoo en dele van die Weskus bly kommerwekkend.

“In geheel lyk die prentjie goed. Ons het vir baie jare nie vergelykbare damvlakke gesien nie, maar daar is steeds min tot geen verligting in droogtegeteisterde dele van die Karoo en die noorde van die Weskus nie.”

Bredell het ’n beroep op gebruikers en besoekers aan die provinsie gedoen om steeds water in die komende maande te bespaar.

Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die Wes-Kaap, het van 73,4% tot 75,2% gestyg en was verlede jaar dié tyd net 57% vol.

Die Bergrivierdam se vlak het van 99,2% tot 100% gestyg en die Voëlvleidam se vlak van 87,6% tot 89,9%.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku oor ’n uiters hoë brandgevaar Dinsdag oor die Sentraal-Karoo en Klein-Karoo, sowel as die oostelike dele van die Namakwa-distrik in die Noord-Kaap.

Woensdag word sterk binnelandse winde van 62 km/h tot 72 km/h oor die Sentraal-Karoo, die Breedevallei en Langeberg in die Wes-Kaap en die Karoo-Hoogland-munisipaliteit in die Noord-Kaap verwag.

In Kaapstad, die Paarl, Malmesbury, Ceres, Langebaan, Redelinghuys, Clanwilliam, Hermanus, Grabouw, Kaap Agulhas, George en Plettenbergbaai is daar ’n 30%-kans op reën.

’n Noordwestewind van tot 40 km/h word ook in Kaapstad, Hermanus en Grabouw verwag en die wind kan tot 50 km/h in Beaufort-Wes haal.

In die Oos-Kaap is daar ’n 30%-kans op reën oor die grootste deel van die provinsie, met ’n 30%-kans op reën en donderweer in Port St. Johns en Mthatha.

In Port Elizabeth word ’n suidewind van tot 40 km/h verwag, met ’n noordwestewind van tot 50 km/h in Graaff-Reinet en Queenstown.

Teen Donderdag is daar ’n 30%-kans op reënbuie in Kaapstad, die Paarl, Malmesbury, Langebaan, Hermanus, Grabouw, Kaap Agulhas, George en Plettenbergbaai.

In die Oos-Kaap is daar ’n 30%-kans op buie in Port Elizabeth, Port Alfred en Oos-Londen, met ’n 30%-kans op reën en donderweer in Port St. Johns en Mthatha.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Damvlakke  |  Droogte  |  Reënval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.