241 bewaringsorganisasies oefen nou druk uit op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om markte waar wilde diere verkoop word, in die openbaar te veroordeel as die oorsaak van die wêreldwye Covid-19-pandemie.
Hulle vra ook dat die WGO die gebruik van die liggaamsdele van wilde diere in tradisionele medisyne verbied.
Die organisasies, onder die leiding van Four Paws, vra in ’n ope brief aan dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, en dr. Zhang Qi, koördineerder van die eenheid vir tradisionele en komplimentêre medisyne van die WGO, dringende optrede – nou, te midde van die pandemie.
Luidens die brief is die mandaat van die WGO om te alle tye in diens te wees van die mensdom se gesondheid.
“Daarom dring ons nou by die WGO daarop aan om in te tree en ’n beroep op regerings te doen om die gebruik van liggaamsdele van wilde diere in medisyne permanent te verbied. Markte waarop wilde diere verkoop word, moet ook onmiddellik gesluit word.”
Covid-19 het volgens alle aanduidings sy oorsprong op markte in China waar wilde diere en mense in noue kontak met mekaar is. Navorsing toon dat vlermuise en ietermago’s moontlik deel was van die ketting en dat dit van dié diere na die mens oorgedra is.
Siektes wat van wilde diere na mense oorgedra word, is jaarliks verantwoordelik vir die besmetting van meer as 2 miljard mense en die dood van bykans 2 miljoen.
Die risiko van dié siektes word vererger deur onhigiëniese toestande waarin wilde diere in klein hokkies aangehou word.
“Dit skep die ideale omstandighede vir patogene om te versprei. Die diere se immuunstelsel word ook afgebreek weens die geweldige stres waaraan hulle op dié markte blootgestel word.”
Die opstellers van die brief sê dit het onlangs onder hul aandag gekom dat tradisionele genesers in China nou aanbeveel dat mense wat met Covid-19 besmet is, met ’n mengsel wat beergal bevat, ingespuit moet word.
Benewens dié van bere, word die liggaamsdele van slange, akkedisse, tiere, leeus, waterskilpaaie en ietermago’s in tradisionele Chinese medisyne gebruik. Die diere word of op plase geteel of uit die natuur gestroop.
Die opstellers van die brief sê hulle is bewus daarvan dat mense van baie verskillende kulture tradisionele medisyne gebruik. Die bestanddele in die medisyne is egter plant-of mineraalgebaseer.
“Die gebuik van die liggaamsdele van wild in tradisionele medisyne is daarom onnodig en onverskoonbaar. Buitendien bedreig dit die gesondheid van alle mense op aarde.”
- Die brief is deur onder meer al die takke van die Humane Society International oor die wêreld heen onderteken. Dit is vandag Internasionale Wêreldgesondheidsdag.