Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Wild vrek van dors op militêre basisse

Wild op minstens twee van die weermag se militêre basisse is besig om te vrek van die honger en dors, deels weens stukkende boorgatpompe en deels weens ’n gebrek aan uitdunning.

Diere vrek van dors en honger.

By Mookgopong help boere op aangrensende plase uit moedeloosheid om water vir die wild te verskaf, maar hulle kan nie in die droë wintermaande wat voorlê, help nie.

By die Generaal De Wet-opleidingsterrein naby Bloemfontein vrek die wild ook by die dosyne nadat die droogte die boorgate op die terrein laat opdroog het.

By Mookgopong is daar drie boorgate, maar die pompe om die water vir 600 stuks wild uit te pomp, werk nie behoorlik nie en is boonop aan ’n tydmeter gekoppel. Voordat dit naastenby genoeg water kan pomp, skakel die tydmeter dit weer af.

’n Burokratiese gestoei tussen die weermag en die departement van openbare werke, wat verantwoordelik is vir die onderhoud van die pompe, vertraag die proses verder. Intussen is daar vrese dat die desperate diere deur die grensheinings gaan breek en op die provinsiale paaie gaan beland.

Rapport verneem die herstelwerk aan die pompe sal sowat R200 000 kos, maar die kontrak moet in drie verdeel word om aan die neergelegde vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging te voldoen.

Nadat Rapport die benarde situasie onder die aandag van die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsverenigings se aandag gebring het, gaan ’n inspeksie ter plaatse nou inderhaas deur inspekteurs, veeartse en personeel van die weermag se logistieke afdeling by Mookgopong gedoen word.

Marcelle Meredith, uitvoerende hoof van die raad, het by navraag gesê die weermag werk saam met die organisasie om ’n oplossing vir die situasie toegestaan vir aanvullende voer, wat die probleem tydelik sal oplos.

“Dit is die langtermynbehoeftes wat nog nie opgelos is nie. Ons sal die weermag help, maar as die wedersydse samewerking gestaak word, sal ons teen hulle optree.”

Dít sluit in hofinterdikte soos met die krisis laat verlede jaar met die leër se grenspatrollie­perde by Potchefstroom. ’n Interdik is bekom om van die diere te verwyder of te skiet nadat perde weens verhongering hul eie mis begin vreet het om aan die lewe te bly omdat daar te veel van hulle was vir die weidingsgebied.

Luidens dokumentasie wat Rapport onder oë gehad het, dreig die situasie by Bloemfontein en Mookgopong om in dieselfde fiasko te ontaard as laasjaar toe meer as 600 Springbokke by De Aar gevrek het.

Die weermag se finansiële verknorsing is volgens senior offisiere net ’n deel van die probleem.

“Daar is net te veel diere. As die uitdunning die afgelope vier jaar volgens plan gedoen is, sou daar minder diere wees en die probleem dus kleiner. Die weermag het selfs by die onderskeie basisse gekwalifiseerde omgewingspersoneel wat die uitdunning kan behartig. Die vleis kan geskenk of verkoop word aan behoeftiges in die omgewing. Tans is dit ’n klaaglike spulletjie met dooie karkasse die wêreld vol,” het een offisier gesê ná ’n besoek aan Mookgopong.

Destyds was daar bewerings dat daar met die toekenning van die wildverminderingskontrakte geknoei is. Dit is vervolgens heeltemal gestaak.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, weermagwoordvoerder, het erken die situasie is “benard”. Alle moontlikhede word tans oorweeg om die watertekort vir die diere en mense op die basis te verlig.

Die weermag se werke-formasie het nou ingegryp en ry water aan om die tekorte vir mens en dier op die basis aan te vul.

Meer oor:  Weermag  |  Droogte  |  Dieremishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.