Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Wilde wind saai verwoesting in Springbok
Dié boom het omgewaai. Foto: Facebook

’n Vreeslike sterk wind het Dinsdag groot verwoesting in Springbok gesaai. Bome is onder meer ontwortel en skadunette in ’n parkeerterrein het ineengestort.

Dit het ook gereën, maar volgens die inwoners was dit die wind wat die grootste skade aangerig het.

Steffani van Wyk, bemarkingsbestuurder by die Superspar in die hoofstraat, sê hulle het groot skade gehad met die sterk wind Dinsdagmiddag.

“Die verwoesting het omstreeks 16:00 Dinsdag begin. Die wind het skielik begin optel en tussen 18:00 en 19:00 het hy sterk gewaai,” sê Van Wyk.

Teen omstreeks 17:00 het hulle by die kasregisters voor in die winkel gestaan en kon hulle hoor hoe die wind aan die dak ruk.

“Dit het so erg geruk dat een van ons buisligte uit die dak geval het,” sê sy.

Die Spar-teken buite die winkel is ’n ruk later afgewaai, en die wind het al hoe erger geword, sê Van Wyk.

In die parkeerterrein het die pale van die skadunette geknak en byna al die nette het inmekaargesak.

Van Wyk sê dit is die grootste skade wat hulle in ’n lang tyd in die winter gehad het.

’n Gedeelte van die SuperSpar se bord het afgewaai.
Heinings het omgewaai en takke lê in die strate.
Bome het ook omgewaai.
Skade wat in van die tuine aangerig is.
Die skadunette op Superspar se parkeerterrein wat inmekaargesak het. Foto: Facebook
Takke het oral rondgelê. Foto: Facebook
Die gedeelte van Jas Visser se dak wat ook skade gely het weens die wind.

Weens die windskade het die dak ook begin lek, sê sy.

“Van die mense wat hier werk, het ook skade aan hul huis gehad.”

Sy sê Woensdag het die wind darem bedaar.

“Die dorp se krag het Woensdag verskeie kere afgegaan nadat van die kragpale ook skade opgedoen het,” sê Van Wyk.

“SuperSpar wag nou vir die versekering om uit te betaal sodat ons dinge kan begin herstel.”

Op die foto’s wat Netwerk24 ontvang het, kan jy sien hoe sinkplate rondlê nadat dit by huise afgewaai het. Van die heinings is omgewaai en in die strate kan ’n mens ontwortelde bome en takke sien lê.

Jas Visser, finansiële bestuurder by SuperSpar, sê hy het ook skade by sy huis.

“So ses sinkplate van die een kant van my huis se dak het afgewaai. Die is die eerste keer dat ek sulke skade hier in Springbok kry.”

Die wind het volgens Visser Woensdagoggend omstreeks 01:00 nog baie sterk gewoed.

Meer oor:  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.