Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
William en Kate kondig prys aan om aarde te help herstel

Prins William en sy vrou, Catherine, die hertog en hertogin van Cambridge, het ’n wêreldprys ingestel om klimaatkwessies aan te pak met die belofte van ’n “dekade van optrede om die aarde te herstel”, berig die BBC.

Dié foto van prins William is deur sy vrou, Catherine, by ’n gletser in die Hindu Kush-bergreeks in die provinsie Khyber-Pakhtunkhwa in Pakistan geneem. Foto: Instagram

Die Earth­shot-prys sal elke jaar oor die volgende dekade aan vyf mense toegeken word, het William Dinsdag volgens The Guardian gesê.

Die mikpunt is om minstens 50 antwoorde te kry vir sommige van die grootste probleme wat die planeet teen 2030 in die gesig sal staar.

Dit sluit nuwe maniere in om kwessies soos energie, die natuur en biodiversiteit, die oseane, lugbesoedeling en vars water aan te pak, lui ’n verklaring wat die Kensington-paleis uitgereik het.

Die kontantprys is vir individue of organisasies wat oplossings vir die probleme bied.

Die prys is volgens Harper’s Bazaar in ’n nuwe rolprent wat deur sir David Attenborough aangebied word, aangekondig.

In ’n verklaring waarin die prys bekend gemaak word, sê William: “Die aarde is op ’n kantelpunt en ’n duidelike keuse staar ons in die gesig: Ons kan voortgaan soos nou en onherstelbare skade aan die planeet aanrig, of ons onthou ons unieke mag as menslike wesens en ons vermoë om te lei, innoveer en probleme op te los.

“Onthou die ontsagwekkende beskawings wat ons gebou het, die lewensreddende tegnologie wat ons geskep het, dat ons ’n man op die maan geplaas het.

“Mense kan groot dinge bereik. En die volgende tien jaar bied aan ons een van ons grootste toetse – ’n dekade van verandering om die aarde te herstel.”

Volgens die BBC is meer as 60 organisasies geken in die ontwikkeling van die prys.

Prins William (regs) en sy vrou, Catherine, saam met sir David Atten-borough (middel). Foto: Reuters

Dit sal aanvanklik deur die Koninklike Stigting van die Hertog en Hertogin van Cambridge bestuur word, maar dit kan ’n onafhanklike organisasie word.

Dit word deur filantrope en organisasies gesteun.

Harper’s Bazaar sê die prys is geïnspireer deur pres. John F. Kennedy se ambisieuse “Moo­n­shot”-maanprogram.

Attenborough het in die rolprent gesê: “Die gees van die ‘Moonshot’ kan ons vandag lei waar ons die ernstige probleme hanteer wat ons op aarde in die gesig staar.

“Vanjaar maak prins William en ’n wêreldwye alliansie die mees gesogte omgewingsprys in die geskiedenis bekend.

“Dit is ontwerp om te motiveer en ’n nuwe generasie denkers, leiers en dromers te inspireer om anders te dink,” het Attenborough volgens The Guard­ian gesê.

William hoop om deur dié prys voort te bou op hul werk.

Meer oor:  Prins William  |  Klimaat  |  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.