Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Witkruisarende se kuikentjie uiteindelik in hul nes gewaar

Makatsa en Mahlori, ’n witkruisarend-broeipaar wat in die kranse van die Walter Sisulu-botaniese tuin nesmaak, het uiteindelik ouers geword.

Gerald Draper, roofvoëlkenner en voorsitter van die Roodekrans-witkruisarendprojek, ’n organisasie wat die arende se bewegings monitor en dokumenteer, sê die kuiken is vir die eerste keer Sondag in die nes gewaar.

Dit het alles begin toe Mahlori, die mannetjie, verlede jaar by die wyfie, Makatsa, begin vlerksleep het.

Makatsa sit by die nes waarin die kuiken onlangs gewaar is. Foto: MARCUS OBERLECHNER

“Wanneer ’n arend ’n eier lê, begin hulle onmiddellik broei. Ons het na tekens gesoek of Makatsa­ baie tyd op die nes deurbring,” sê Draper.

Op 19 April het vrywilligers gesien dat Makatsa byna die hele­ tyd op die nes sit en dit net een of twee keer vinnig verlaat het.

“Dit wys ons onmiddellik dat ’n eier wel gelê is en sy is besig om dit uit te broei. Ons weet nie presies op watter dag die eier gelê­ is nie.”

Sedertdien het die vrywilligers haar op elke besoek op die nes gesien.

Volgens Draper lê ’n witkruisarend gewoonlik nog ’n eier vier dae later, wat beteken dat ’n tweede kuiken moontlik binnekort op pad is.

Hy sê indien alles die volgende drie maande glad verloop, sal die kuiken in die eerste week van September al sy vere kry.

As die kuiken ’n wyfie is, sal dit moontlik ’n bietjie langer neem.

Draper sê nadat die jong arend al sy vere gekry het, bly hy in die gebied vir sowat drie maande. Die arend word dan geleer hoe om te vlieg en te jag.

“Die ouers sal dan begin om die jong arend te treiter totdat hy die gebied verlaat om sy lewe te begin. Hulle gaan gewoonlik na gebiede in die Magaliesberg, waar daar ander broeipare is met hul eie kuikens.”

Volgens hom broei die tweede kuiken gewoonlik vier dae ná die eerste kuiken uit.

“Die tweede eier is amper soos ’n versekeringspolis. As daar iets met die een eier gebeur, is daar altyd die tweede een.”

Die verskil van vier dae tel in die guns van die ouer kuiken. Die wyfie sal vir hulle prooi bring, maar die een is natuurlik groter en sterker. “Die ouer kuiken kry dus meer kos as die ander. Sodra die eerste kuiken sterk genoeg is, val hy die jonger kuiken gewoonlik aan en maak hom dood. Dit is net hul manier van oorlewing.”

Draper het voorheen gesê ’n nuwe kuiken sal fantastiese nuus vir dié spesie wees.

“Ons wil die spesie werklik lewend hou. Hierdie voëls broei al sedert die 1930’s in dié gebied.”

Die nuwe kuiken het nog nie ’n naam nie. Die naam sal waarskynlik nader aan die tyd gekies word wanneer die jong arend al sy vere het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.