Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Woede oor groen lig vir leeuplase

Bewaringsorganisasies is woedend en teleurgesteld dat die departement van omgewingsake geen “politieke wil” het om die geblikteleeubedryf te sluit nie.

Dit was die algemene reaksie gister van belanghebbendes nadat die departement die vorige dag ’n voorlegging oor die omstrede bedryf aan die portefeuljekomitee oor omgewingsake gedoen het.

Volgens die voorlegging het staatsamptenare die laaste paar maande 227 leeuplase besoek. 88 van die plase het sonder geldige permitte handel gedryf. Die departement het egter hul permitte summier hernu.

Dr. Louise de Waal van Green Girls in Africa, ’n konsultant vir die toerismebedryf, het die departement se optrede as “skokkend” bestempel.

“Die permitte is hernu sonder dat enige een van die eienaars van die leeuplase beboet is.”

Volgens die departementele span is die meeste plase, 111, in die Vrystaat. 62 van hulle het sonder permitte met leeus geboer en vermoedelik met hul skelette handel gedryf.

In Noordwes, waar die naasmeeste leeuplase is, het amptenare 74 leeuplase besoek en 20 het nie permitte gehad nie. In Limpopo het hulle 31 leeuplase besoek waar ses nie permitte gehad het nie.

Volgens die departement word leeuplase nie in die Wes-Kaap toegelaat nie.

Volgens die departement is daar agt sulke 'pretparke' in Gauteng. By een word jagluiperds verhuur vir huwelikseremonies.

Stefania Falcon van Future for Africa Wildlife, wat die debat in die parlement bygewoon het, het gesê die komiteelede “was soos lammers in die hande van die amptenare van die departement”.

“Pleks daarvan dat die portefeuljekomitee die departement dwing om die bedryf te sluit, het hulle saamgestem beter regulering daarvan moet eerder plaasvind.”

Dit is teenstrydig met die verslag wat die portefeuljekomitee in Augustus verlede jaar gepubliseer het en waarin sterk standpunt ingeneem word teen die bedryf.

Falcon het gesê sy is “uiters teleurgesteld” in die portefeuljekomitee se “skielike ommeswaai”.

Audrey Delsink, Afrika-direkteur van die Humane Society International, het gesê sy is “stomgeslaan” deur die departement van omgewingsake se voorlegging.

Volgens haar kruip die departement van omgewingsake boonop agter die departement van landbou, bosbou en visserye weg wat die welsyn van die duisende geblikte leeus in Suid-Afrika betref. “Dit gaan ’n mens se verstand te bowe dat ondanks navorsing wat wys die geblikteleeubedryf kan Suid-Afrika R54 miljard aan toerisme-inkomste kos, die portefeuljekomitee skielik daarmee tevrede is dat die bedryf eerder gereguleer word.”

Twee geblikte leeus sit agter ’n heining. Foto: Environmental Protection Agency

Ross Harvey, van die SA Instituut vir Internasionale Betrekkinge, het gesê hy vind dit teleurstellend dat die departement van omgewingsake die aanbevelings in die verslag van die portefeuljekomitee geïgnoreer het.

“Hoe kan die departement die handel in leeubeendere probeer reguleer? Die leeutelers het ook al bewys hoeveel minagting hulle vir regulering het.”

Die departement het erken 1 600 leeuskelette is verlede jaar en die vorige jaar uitgevoer. ’n Kwota sal glo binnekort vir vanjaar vasgestel word.

Bewaringsorganisasies is ook ontstoke oor die aantal fasiliteite waar mense met leeuwelpies en ander groot katte kan speel.

Volgens die departement is daar agt sulke “pretparke” in Gauteng. By een word jagluiperds verhuur vir huwelikseremonies.

Meer oor:  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.