Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Woede oor kalwers in staalhokke

Die 35 olifantkalwers wat in Januarie by die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe uit hul troppe gevang en ’n week gelede op ’n Saoediese vragvliegtuig gelaai is, het in China aangekom en word nou in staalhokke op ’n “geheime plek” aangehou.

Dierewelsynorganisasies het eergister ’n video bekom wat in die geheim gemaak is wat wys hoe die olifantkalwers elkeen in sy eie staalhok aangehou word. Op die agtergrond klink dit soos ’n Chinees wat die diere tel. Die olifantkalwers is na raming tussen twee en ses jaar oud.

Olifantaktiviste het in boodskappe aan Netwerk24 gesê hulle is “met afgryse vervul” en het verneem die diere gaan binnekort na die Longemont-safaripark, ook genoem die Taihu Lake Longemont­ Animal Paradise, ’n internasionale sirkus- en waterpark, gebring word.

Dié park is geleë in Huzhou, sowat 150 km wes van Shanghai. Die park sal na verneem word voor einde vanjaar sy deure oopmaak en 11 000 diere huisves. Dié diere verteenwoordig 360 dierespesies.

Een van die jong olifante uit Zimbabwe wat in China in staalhokke aangehou word.

Sharon Hoole, olifantaktivis van Brittanje, sê sy het verneem amptenare van die Zimbabwiese parkagentskap (Zimparke) sal vir die volgende ses maande by die olifantjies bly. Mense wat die olifante glo gaan “oplei”, word nou ook in diens geneem.

Intussen het Zimparke aan Bulawayo 24 News gesê hulle het tot dusver 101 olifantkalwers aan China en die Verenigde Arabiese­ Emirate teen sowat R47,4 miljoen ($3,2 miljoen) verkoop.

Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimparke, het aan Beeld gesê hulle gebruik dié geld om boorgate vir die ander diere in Hwange te sink.

“Die droogte in Zimbabwe is so erg dat die diere doodgaan,” sê hy.

Intussen sê dierewelsyngroepe in China hulle is “woedend” oor die olifante wat in hul land aangekom het.

Hu Chunmei van Freedom for Animal Actors in Beijing het aan die aanlyn publikasie Inkstone gesê sy is “hartseer” oor die olifante van Afrika wat na haar tuisland gebring is.

Een van die jong olifante in die reuse-staalhokke waarvan daar rye isFoto: Skermgreep

“Dit is so ’n verskriklike hartseer situasie. Ons hoop die olifante kan teruggestuur word na Afrika.”

Volgens Hu het Chinese dieretuine nie ’n beleid oor die grootte van die hokke waarin diere aangehou moet word of hoe hulle behandel moet word nie. Sy wys daarop dít is in teenstelling met die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) se reëls dat diere in “geskikte plekke” aangehou moet word.

  • Kevin Guo, woordvoerder van People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) in Asië sê in ’n verklaring dié groep hou die situasie dop en sal sorg dat dieretuine­ geboikot word waarheen hierdie Afrika-olifante gaan. Zimparke is die naweek hewig gekritiseer ná ’n twiet wat lui: “It is only when the last of the animal horns, bones & skins are sold, that mankind will realise that money can never buy back our wildlife.”
  • Honderde mense het daarop gereageer en Zimparke daarvan beskuldig dat hy skynheilig is. Noma Dube, stigter van die Zimbabwe Elephant Foundation wat in Londen woon, het gister getwiet ’n byeenkoms word môre 12:30 by die Chinese ambassade in dié stad gehou om teen die handel in Zimbabwiese olifante na dié land se safariparke en dieretuine te betoog.
  • Die omgewingsaktiviste Extinction Rebellion gaan na verwagting ook aan die protes deelneem.
Meer oor:  Olifante  |  Hwange Nasionale Park
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.