Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Woede oor renoster in Russiese sirkus

’n Video wat aan die lig gekom het van ’n witrenoster wat van Suid-Afrika uitgevoer is en  in die Great Russian Circus optree, het diereliefhebbers wêreldwyd warm onder die kraag.

Die video van die witrenoster, ene Mafa, is verlede week deur die Britse Independent Online gepubliseer.

Mense het op Twitter en Facebook hul afgryse oor die “misbruik” van die witrenosterbul te kenne gegee.

Van die mense het met ’n petisieveldtog begin en dreig nou om alle sirkusse met wilde diere en enige ander diere daarin te boikot. Hulle wil ook toesien dat Mafa vrygelaat word.

In die video kom die renoster op swaar Russiese musiek in die arena ingewaggel. Sy gesig en horings is wit geverf en as hy afkyk lyk dit asof hy ’n masker dra. Goue bande is om sy voor- en agterpote vasgemaak.

Sy afrigter sê in ’n ander video wat sowat twee jaar gelede op YouTube gelaai is, die renoster is gewoond aan mense.

Op die een video loop Mafa om die arena en word hard deur die toeskouers toegejuig. Dit lyk in ’n stadium asof hy skrik, maar hy loop dan verder terwyl sy afrigter ’n swepie klap.

Dan klim die renoster op ’n platform en huiwer voordat hy afklim.

Op een van die video’s sê ’n vrou die sirkusbaas het gesê witrenosters word voor die voet gestroop, maar Mafa is nou veilig waar hy in die sirkus aangehou word.

Dr. Will Fowlds, wildveearts van die Oos-Kaap, het op sy Facebookblad gevra mense moet petisioneer teen die “uitbuit” van wilde diere en veral dié witrenoster.

Dan klim die renoster op ’n platform en huiwer voordat hy afklim.

Van die beswaardes het op Twitter gesê dit is “afgryslik” wat met Suid-Afrika se renosters gebeur wanneer hulle met die “seën van Cites” (die Konvensie oor die handel in bedreigde spesies) na die Ooste uitgevoer word.

Dierewelsyn is duidelik nie vir Cites ’n prioriteit nie, het ’n Twittergebruiker getwiet.

Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het intussen by navraag gesê vyf witrenosters is sowat tien dae gelede van ’n private renostereienaar in Noordwes na China uitgevoer.

Modise het gereageer nadat mense op sosiale media uitgevaar het oor dié vyf witrenosters wat glo onder groot geheimhouding na die Ooste uitgevoer is.

Cites moet die permitte goedkeur en die departement van omgewingsake behoort ’n afvaardiging te stuur om seker te maak die geriewe waarheen die diere uitgevoer word, voldoen aan “bepaalde standaarde”.

Modise sê omdat die renosters aan ’n private wildboer behoort het, het die Noordwes-regering die permitte uitgereik.

Hy het erken die renosters is na ’n dieretuin in Huzhou in China uitgevoer vir “kommersiële doeleindes” (tentoonstelling).

Modise sê hy weet van mense se ongelukkigheid, maar die Chinese owerheid het die Suid-Afrikaanse regering skriftelike die versekering gegee die geriewe waarheen die renosters uitgevoer word, is ingevolge Cites se vereistes “aanvaarbaar”.

Cites het op geen navrae gereageer nie.

Meer oor:  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.