Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Woordestryd woed oor olifantkarkasse in Botswana
06 September 2018

Die regering van Botswana het die bewaringsorganisasie Elephants without Borders (EWB) Woensdag daarvan beskuldig dat hy “vals inligting” versprei oor “87 olifantkarkasse” wat tydens ’n lugsensus naby onder meer die Okavango-delta getel is.

Die ontdekking van die massa-slagting het skokgolwe deur die wêreld gestuur, veral omdat Botswana as die laaste veilige hawe vir olifante in Afrika beskou is.

Thato Y. Raphaka, permanente sekretaris in Botswana se departement van omgewing, natuurlike hulpbronne, bewaring en toerisme, sê in ’n verklaring daar is “in geen stadium of op een slag 87 of 90 olifante in enige plek in Botswana doodgemaak nie”.

’n Karkas van een van die olifante wat in Botswana vir ivoor van kant gemaak is. Foto: Elephants Without Borders

Dit kom nadat Mike Chase van EWB Maandag gesê het dié organisasie en dié departement het “87 vars olifantkarkasse gekry terwyl hulle van 10 Julie af ’n uitgebreide lugsensus gedoen het”.

Volgens Chase lyk dit asof die slagtings onder die olifante die afgelope drie maande plaasgevind het. Die lugsensus eindig op 30 September.

Raphaka het ook klappe na die “sensasionele plaaslike en internasionale media” uitgedeel en gesê berigte wat hieroor verskyn het, maak die Botswana-regering baie bekommerd.

Hy sê die inligting in die berigte is “ongegrond”.

Raphaka sê die voorlopige lugsensus wat van 5 Julie tot 1 Augustus gedoen is, het gewys daar was 53 olifantkarkasse en dat die meeste van dié diere aan natuurlike oorsake dood is en nie gestroop nie. “Ander is dood in voorvalle waartydens daar konflik tussen gemeenskappe en die olifante was.”

Intussen is pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana op sosiale media daarvan beskuldig dat hy bloed aan sy hande het en dat die toename in olifantstropery hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die ontwapening van die teenstropingseenhede. Dit het in Mei vanjaar begin.

Botswana se olifante

  • Sowat 130 000 olifante kom in die noorde van Botswana voor. Dié olifante het tot onlangs nog grootskeepse stropery vrygespring.
  • Die groot olifantsensus wat sowat twee jaar gelede in 18 Afrikalande gedoen is, het gewys olifantgetalle op die vasteland het van 2007 tot 2014 met 30% afgeneem.
  • Olifante speel ’n kritieke rol in Botswana se toerismebedryf en sowat 2 miljoen buitelandse besoekers was verlede jaar in dié land.
  • Botswana het onder die leierskap van oudpres. Ian Khama ’n ongeskrewe reël gehad dat stropers “op die plek doodgeskiet moet word”.

Global Elephants het aan sy 9 000 volgelinge op Twitter gesê Botswana was altyd nog ’n toevlugsoord vir olifante. “Dit lyk asof dit nie meer is nie.”

Raphaka het gesê: “Die ware feite is dat die terugtrekking van wapens van dié departement géén uitwerking het op die doeltreffende operasies van die teenstropingseenhede nie.”

Chase het aan National Geographic gesê hy staan by sy stelling dat hy 87 karkasse uit die lug getel het. “Ek is hartseer dat die regering op dié manier reageer.”

Hy sê EWB het koördinate van elkeen van die 87 karkasse. “Daar is ook heelwat ooggetuies om hierdie feite te staaf. Elke vlug het vier mense aan boord, waaronder een staatsamptenaar.”

Hy sê dit het uit die lugsensus duidelik geword dat die stropers bulle ouer as 30 jaar teiken omdat hulle die grootste tande het.

Volgens Chase het die stropers die olifantbulle oënskynlik geteiken wanneer hulle in seisoenale panne gaan water drink.

Raphaka het voorts gesê: “Dit is vir die regering teleurstellend dat sommige mediahuise die toename in stropery onder olifante in die noorde van Botswana hoofsaaklik toeskryf aan die feit dat die teenstropingseenhede onlangs ontwapen is. Inteendeel, dit het geen vakuum veroorsaak nie. Teenstropingseenhede volg nou ander strategieë. Hierdie stap is deel van ’n korrektiewe proses,” het Raphaka gesê.

Botswana beskou die bewaring van wild as deel van die land se nasionale erfenis. “Ons sal dit tot elke prys beskerm,” het Raphaka gesê.

Die Britse premier, Theresa May het getwiet: “Dit is hartseer om te sien stropers teiken olifante. Brittanje sal voortgaan om saam met Botswana te werk. Ons lei die stryd teen misdaad teen wild. Ek sien daarna uit om die beraad oor #EndWildlifeCrime aanstaande maand in Londen aan te bied.”

    Meer oor:  Botswana  |  Omgewingsbewaring
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.