Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bokke vrek van dors in Krugerwildtuin se teelprogram

Die Krugerwildtuin se teelprogram vir bastergemsbokke (Hippotragus equinus) het verlede jaar skeefgeloop en 12 tot 20 van dié unieke bokke het weens dors gevrek.

Dié inligting is vervat in die antwoord van Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, op ’n vraag van die DA.

Annerie Weber, DA-lid van die portefeuljekomitee oor omgewingsake, bosbou en visserye, het Woensag gesê sy is “gewalg” deur die feit dat dié diere op so ’n “wrede manier gevrek het”.

Creecy erken in haar antwoord aan Weber ’n senior veldwagter wat na dié diere se welstand moes omsien, is aan growwe nalatigheid skuldig bevind en afgedank.

Die bastergemsbokke is in die Nwaxitsube-teelkamp in ’n boma aangehou en moes gereeld gevoer word.

Hul waterbakke moes ook vol gehou word.

Volgens Weber het haar navorsing die waarde van een bastergemsbok op sowat R60 000 geraam.

Dit beteken dus die nalatigheid van ’n senior veldwagter het die Krugerwildtuin van R3 miljoen beroof.

Weber sê benewens die verlies wat die wildtuin gely het, is dit ook ’n reuseverlies vir die omgewing.

Creecy sê ná dié voorval is ’n aksieplan vir die teelprogram ingestel.

Die program sal nou deur die Vlakteplaas-afdelingsveldwagter bestuur word.

Die program sal ook deur die streekveldwagter, en die hoofveldwagter van die wildtuin gemonitor word.

Volgens die aksieplan moet die Nwaxitsube-teelkamp voortaan weekliks besoek word.

Op die besoeke sal die elektriese heining ondersoek en sal die diere se water- en kosbakke volgemaak word.

Die diere se algemene toestand sal ook dan ondersoek word.

Creecy sê die aksieplan is so saamgestel dat ’n soortgelyke voorval nie weer sal plaasvind nie.

Weber sê dit is jammer dat diere eers moet vrek voordat ’n aksieplan vir hul versorging opgestel is.

“Dit is tog prosedure wat van die begin af gevolg moes gewees het.”

Op die vraag wat die bastergemsbokke werd is, sê Creecy die wildtuin was nie van plan om die diere te verkoop nie.

Sy weet dus nie wat hul waarde is nie.

Weber sê sy meen die veldwagter wat na die teelprogram moes omsien en ontslaan is, moet van wreedheid teenoor diere aangekla word.

Sy dring ook daarop aan om te weet hoe lank hierdie diere sonder water was voordat hulle gevrek het.

Volgens Weber het sy voorheen dié vraag aan Creecy gevra, maar is dit nie beantwoord nie.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Krugerwildtuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.