Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Zim gekap oor plan met olifante

’n Groep van 46 omgewings- en diereregte-organisasies van oor die wêreld heen het die naweek in ’n ope brief ’n ernstige beroep op die Zimbabwiese regering gedoen om sy planne te laat vaar om olifantkalwers in die Hwange-natuurreservaat na China te stuur.

In die brief, wat aan onder andere pres. Emmerson Mnanga­gwa van Zimbabwe gerig is, sê die organisasies hulle het betroubaar verneem die Zimbabwiese regering gaan vir die vyfde keer sedert 2012 olifantkalwers na China en moontlik “ander plekke van aanhouding” stuur.

Die groep Pro Elephant Network (Pren) sê hy het verneem die Zimbabwiese regering wil die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) se vereistes omseil deur die olifantkalwers deur Nigerië na China te stuur.

Die briefskrywers sê hulle is “diep bekommerd” oor dié verwikkeling, veral omdat hulle bekend is met olifante se biologie en etnologie. “Boonop is die netwerk bewus van internasionale ooreenkomste oor die verskuiwing van Afrika-olifante en dat dié soogdiere net op dié vasteland hervestig mag word.

Jong bulle verlaat eers hul trop wanneer hulle sowat 14 jaar oud is. Dit is traumaties vir die diere wanneer hul sosiale struktuur versteur word.

Die brief is ook gerig aan Cites se kantoor in China, Sophie H. Flensborg, wetstoepasser van Cites­, Ivonne Higuero, sekretaris-generaal van Cites, Félix-Antoine Tshisekedi Tshilombo, voorsitter van die Afrika-Unie, die Internasionale Bewaringsunie (IUCN) se olifantspesialisgroep en die medevoorsitters van die Afrika-olifant-koalisie.

In die brief vra die organisasies die “relevante” owerhede om Zimbabwe te keer om enige olifantkalwers te vang en uit te voer.

Volgens Cites se databasis het Zimbabwe 140 olifantkalwers van 2012 tot 2019 na China uitgevoer.

Nog vier is na die Verenigde Arabiese Emirate gestuur. 22 is reeds dood.

Betroubare inligting dui glo daarop dat “baie” olifantkalwers ten tyde van die vangproses dood is.

“Die proses om olifantkalwers te vang en uit te voer, is gedoen sonder die medewete of goedkeuring van die mense van Zimbabwe.

“Zimbabwe se wetgewing daag die reg van die regering van die land uit en dui daarop dat olifantkalwers nie uitgevoer mag word nie,” skryf Pren.

Pren en die ondertekenaars van die brief sê dis duidelik die Zimbabwiese regering tree teenstrydig met sy eie wetgewing op.

Dis ook teenstrydig met konvensies wat die land onderteken het.

“Dit word internasionaal aanvaar dat olifante groot ruimtes nodig het om in te wei, dat hulle hoogs intelligent is, emosies het en sterk familiebande het.

“Hulle het ook ’n baie ingewikkelde sosiale struktuur.

“Jong bulle verlaat eers hul trop wanneer hulle sowat 14 jaar oud is. Dit is traumaties vir die diere wanneer hul sosiale struktuur versteur word,” lui die brief.

Michele Pickover, direkteur van die EMS-stigting wat ook die brief onderteken het, sê die trauma wat olifante in aanhouding verduur, is reeds wyd en deeglik gedokumenteer.

Stefania Falcon skryf namens Pren in die brief: “Ons vra met respek dat die regering van Zimbabwe van sy plan sal afsien.”

Die brief is onderteken deur onder andere Owais Awan, advokaat in die hooggeregshof in Islamabad, Pakistan, prof. David Bilchitz, direkteur van die instituut vir gevorderde grondwetlike, openbare, menseregte en internasionale reg in Suid-Afrika, verskeie Amerikaanse wetenskaplikes, dr. Ross Harvey, omgewingsekonoom van Botswana, en dr. Paula Kahumbu, direkteur van Wildlife Direct in Kenia.

Die Zimbabwiese Park-en-wildbestuursowerheid en Tinashe Farawo, sy woordvoerder, het nie op herhaalde pogings om kommentaar gereageer nie.

Beeld verneem betroubaar die operasie om die olifantkalwers te vang, sou Maandag ’n aanvang neem, maar verslaggewers in Zimbabwe het aan Pren se lede gesê daar “was geen beweging van hierdie aard” Maandag in Hwange nie.

Zimbabwe skuld $3,8 miljoen aan Chinese vrou
Zimbabwe skuld glo $3,8 miljoen aan ’n Chinese vrou, Song Li, voorsitter van ‘n Chinese beleggingsmaatskappy in Harare. Song Li is ook die eienaar van Eagle Tannery, wat klere, skoene en gordels aan Zimbabwiese soldate verskaf. Song het ook ’n aandeel in Chinese dieretuine, safariparke en sirkusse. Deurdat Zimbabwe nie geld het om Song Li te betaal nie, het sy vroeër aangedui sy sal tevrede wees met 200 olifantkalwers.


Meer oor:  Zimbabwe  |  Natuur  |  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.