Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Olifante op pad na China: Zim is 'moreel bankrot'

Dierewelsynsaktiviste en bewaringsorganisasies het Vrydag tegelyk hul woede en hartseer te kenne gegee nadat dit bekend geword het 32 en van die 37 olifantkalwers wat sedert Januarie in ’n boma by die Hwange Nasionale Park aangehou is, is “onverwags” op ’n vliegtuig gelaai en vermoedelik na dieretuine en sirkusse in China gebring.

olifantkalwers
Die laaste foto wat van die olifantkalwers geneem is voordat hulle in militêre voertuie en daarna in ’n vragvliegtuig gelaai en na China gebring is.

5 van die olifantkalwers is glo agtergelaat omdat hulle siek is.

Die Humane Society International/Africa (HSI), Zimbabwe Nasionale Dierebeskermingsvereniging (ZNSPCA), Zimbabwe Elephant Foundation (ZEF) en Advocates4Live het die Zimbabwiese regering daarvan beskuldig dat hy “moreel bankrot is” en olifante gebruik om sy massiewe internasionale skuld te betaal.

HSI/Africa het in ’n verklaring gesê die olifante is Donderdag met militêre voertuie van Hwange na die lughawe in Victoria Falls gebring waar hulle op die Saoediese vragvliegtuig SV3049 gelaai en landuit gevlieg is. Amptenare, wat by die operasie betrokke was, moes glo hul selfone inhandig. “Dít is waarskynlik gedoen om te keer dat amptenare die vervoer en uitvlieg van die olifante bekend maak,” het die HSI/Africa gesê.

Volgens die HSI het hierdie nuus gekom op dieselfde dag as wat die ZNSPCA in Harare probeer het om ’n interdik te kry teen die uitvoer van die olifante na China.

HSI/Africa het ook inligting ontvang dat Zimbabwiese amptenare, wat die olifante glo op hul reis moet vergesel, onlangs vir Chinese visums aansoek gedoen het.

Die BBC het berig die Zimbabwe Parke-en Toerisme-agentskap (Zimparke) voer aan hulle gaan die geld wat hulle met die verkoop van die olifante van China ontvang het, gebruik om “ander wild te help wat gebuk gaan onder ’n geweldige droogte”.

Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimparke, het gesê die land “het harde kontant nodig” om boorgate in die Hwange Nasionale Park vir Zimbabwe se oorblywende wild te sink.

Lenin Chisaira, omgewingsprokureur van Animals4Earth, wat in Mei vanjaar ’n interdik bekom het om die uitvoer van die olifante te keer, het die Zimbabwiese regering van “arrogansie” beskuldig.

Verskeie organisasies het gesê Zimbabwe verontagsaam sy eie hofuitsprake en dat dit dui op ’n diktatorskap wat in die land aan die bewind is.

Zimbabwe se grondwet stel dit duidelik dat alle wild die eiendom is van die land se burgers. Dit is duidelik dat selfs die land se grondwet oortree is.

Chisaira het gesê die geheimsinnigheid rondom die aanhoudende gevang van olifantkalwers uit hul troppe en die verkoop van dié diere wys die regering stel nie belang in deursigtigheid nie. “Die Zimbabwiese owerheid het tot hierdie stap oorgegaan ondanks stemme wat wêreldwyd daarteen opgegaan het. Die owerheid het plaaslike druk oor die olifante ook verontagsaam”.

Audrey Delsink, woordvoerder van HSI/Africa het die uitvoer van die olifante as “’n tragedie” beskryf. Sy het gesê hierdie diere is eers uit hul families geruk, toe vir 10 maande in ’n boma aangehou en is nou “verdoem tot ’n lewe in aanhouding. Ek is verpletter,” het sy gesê.

Noam Dube, stigter van ZEF, het gesê: “Zimbabwe se grondwet stel dit duidelik dat alle wild die eiendom is van die land se burgers. Dit is duidelik dat selfs die land se grondwet oortree is. Die vang en uitvoer van wild in Zimbabwe is ongrondwetlik en onwettig en daarom is alle permitte wat die konvensie vir die handel in bedreigde fauna en flora (Cites) daarvoor uitgereik het, ook onwettig.”

Die groepe het Vrydag naastiglik gesoek na die vyf siek olifante, maar teen druktyd was daar nog geen inligting oor waar hulle hulle bevind nie.

* Zimbabwe het sedert 2012 reeds 108 jong olifante na dieretuine in China uitgevoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.