Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
plaasmoorde #4
PLAASMOORDE: DIé WAT AGTERBLY
In Suid-Afrika het n boer n byna vier keer groter kans as n gewone landsburger en meer as twee keer so n groot kans as n polisielid om vermoor te word, het navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies bevind.
In Suid-Afrika het 'n boer 'n byna vier keer groter kans as 'n gewone landsburger en meer as twee keer so 'n groot kans as 'n polisielid om vermoor te word, het navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies bevind. Susan Cilliers het met boere gesels oor die sielkundige impak van dié bedreiging.

"Toe ek in die 9mm-pistool se loop en die rower se oë kyk, het ek gewéét hy gaan skiet," vertel ds. Johann Venter (59) wie se familie al vier geslagte op die plaas Carmen naby Sannieshof in Noordwes boer. Venter, wat ook boer, beskryf die aanval op hom sewe jaar gelede in die fynste besonderhede.

Hy herroep alles rolprent-helder terwyl ons vroegaand op sy bure Hein en Carín Visser se plaas kuier. Dis byna onwerklik om te glo sy nagmerrie in 2007 het 'n klipgooi van dié rustigheid in 'n ruim plaastuin met die wye hemelruim bo ons koppe en onverstoorde natuurgeluide gebeur.

Venter is helder oordag oorval toe hy drie rylopers op 'n plaaspad opgelaai het. Toe hulle hom stop om af te klim, hoor hy die woorde "ek soek jou geld" en kyk vas in die loop.

Venter het afgebuk en vet gegee.

"Ek het die skoot gehoor, maar eers besef ek is geskiet toe ek die bloed sien."

Die koeël is agter by sy regterskouer in en regs voor by sy borskas uit.

Ek het die skoot gehoor, maar eers besef ek is geskiet toe ek die bloed sien.
Ds. Johann Venter (regs) vertel hoe hy op sy plaas naby Sannieshof in Noordwes aangeval is. By hom is sy buurman, Hein Visser. Foto: Denzil Maregele

"My eerste gedagte was of ek my vrou en seun vanoggend gegroet het. Ek het die wond in my bors met my linkerhand se vingers toegedruk en met my linker-elmboog ratte gewissel terwyl ek met my regterhand gestuur het. Toe ek voel my asemhaling en hartklop is normaal, het ek moed geskep."

Venter het tot by die dokter se spreekkamer in Sannieshof gejaag. Daar het hy flou geword weens bloedverlies. By die Wilmed-hospitaal in Klerksdorp was dokters verstom omdat geen lewensbelangrike strukture getref is nie.

"Ek moes nog 'n droogte of drie in Noordwes beleef," kan Venter vandag skerts.

Al wat hy fisiek oorgehou het, is 'n verlies aan gevoel in sy regterpinkie.

Sielkundig was die herstelproses veel moeiliker.

"Ek het posttraumatiese stres beleef en vir twee jaar ná die aanval pal 'n handwapen gedra. Later het die besef deurgedring ons leef in 'n gemeenskap waar ons aan goed én sleg blootgestel word.

"'n Mens kan nooit voorspel wanneer jy met die slegte te doen gaan kry nie. Ek kan nie in vyandigheid met my eie gemeenskap leef nie."

Venter is nou meer op sy hoede en laai nie vreemdelinge op nie.

"My werksmense waarsku my ook wanneer hulle vreemde of verdagte mense sien. Geweld op die platteland is nie net tot plase beperk nie. Ook tydelike gemeenskappe (in plakkerskampe) ly dikwels nog erger daaronder."

Hulle gaan my nie hier af kry nie, want ek wil boer, dis in my bloed.

'n Hoogs emosionele saak

Plaasaanvalle en -moorde is 'n hoogs emosionele saak wat in sommige kringe as doelbewuste volksmoord beskou word.

Nugter gesproke, sê Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, wys navorsing egter die motief vir plaasaanvalle is meestal misdaadgerig - spesifiek diefstal.

"Daar is geen bewyse dat dit polities gemotiveerd en georkestreerde volksmoord is om boere van plase te verdryf nie."

​Lees: Plaasaanvalle: Hoekom so wreed?

Die feit dat plase afgeleë is, maak boere wel 'n sagte teiken.

Ras en politiek mag dalk wel 'n rol speel in die mate van geweld wat tydens plaasaanvalle voorkom, meen Du Toit.

"Onverantwoordelike politieke uitlatings en vakbonde se beskuldigings van rassisme skep 'n klimaat van brutaliteit. Hierdie brutaliteit en emosies by misdadigers eskaleer dikwels tot verkragtings en moord. Die nalatenskap uit die vorige bedeling dat boere die vyand is, vuur dit verder aan.

"Plaasaanvallers gaan nie noodwendig om moord te pleeg nie, maar in die misdaadproses word hulle gelei deur primitiwiteit terwyl hulle moontlik ook onder die invloed van drank of dwelms is. Swak ekonomiese omstandighede en werkloosheid speel ook 'n rol."

Volgens Du Toit is plaasaanvallers meestal daarop uit om veral wapens en geld te roof, onder meer omdat die persepsie bestaan boere het baie geld en wapens op hul plase, al is dit nie noodwendig die geval nie.

In gesprekke met slagoffers van plaasaanvalle en hul families, is dit duidelik boere het óf alle vertroue verloor en verlaat hul plase, óf hulle besluit juis om nie van hul grond verdryf te word nie.

Vir baie boere, soos Bernadette Hall (47) wat 'n plaasaanval oorleef het waartydens haar man vermoor is, is hul geloof 'n groot anker.

Om te boer is in haar bloed

"Hulle gaan my nie hier af kry nie, want ek wil boer, dis in my bloed," sê Hall. Sy het in Februarie 2012, terwyl rowers haar in die melkstal aangehou het, gehoor hoe haar man, David (48), koelbloedig doodgeskiet word op hul plaas Frischgewaagd tussen Potchefstroom en Fochville. Bernadette boer steeds daar.

"'n Mens kan nie voluit leef as jy heeltyd in vrees leef nie. Die Liewe Vader kyk mooi na my, Hy hou my vas."

Die elektriese heining op die plaas was nie geaktiveer toe die Halls aangeval is nie. "Ek sorg nou dat dit geaktiveer is, sluit toe in die aande en is in die algemeen meer waaksaam."

Geweld op die platteland is nie net tot plase beperk nie. Ook tydelike gemeenskappe (in plakkerskampe) ly dikwels nog erger daaronder.

Die 65-jarige Corra Stiglingh wat verkrag en erg aangerand is in 'n aanval in Maart vanjaar waarin haar man, Johan (67), vermoor is, wil nooit weer teruggaan na hul plaas naby Klerksdorp nie. 

Die familie is besig om Sterkstroom en al die plaastoerusting te verkoop, vertel Deon Vosloo, haar skoonseun. 

Corra wil ook nie hê een van hul kinders moet die plaas oorneem nie omdat sy vrees ook hulle gaan aangeval word.

Die twee moordenaars is elk skuldig bevind aan verkragting en moord, en dien lewenslange gevangenisstraf uit.

Kotie du Toit (59) wat in April verlede jaar in haar plaaswinkel naby die plaashuis in die Mahikeng-omgewing oorval en beroof is, het nou die plaaswinkel toegemaak. "Ek is nie bang op die plaas nie, maar ek het diefwering."

Vrees het egter deel geword van Tom Pieterse (69) se lewe nadat hy in Mei verlede jaar vroegoggend naby Makwassie oorval, beroof en geslaan is. Die rowers het 'n pistool tussen sy oë gedruk, maar nie geskiet nie. "Ek is banger as tevore en voel meer bedreig. Ons is in November (verlede jaar) weer aangeval."

Pieterse dra nou altyd 'n wapen. "Ná 18:00 saans maak ek alles toe. Soggens kom ek nie uit voordat die werkers daar is nie. Dit (die aanvalle) hou jou wakker."

Baie boere leef in vrees

Sarel van der Wat, hoof van rampbestuur in die Potchefstroom-omgewing, beaam baie boere is oor die algemeen baie versigtig en bang vir aanvalle. "Hulle leef in vrees oor wie volgende is en verwag elke oggend iets gaan gebeur."

In die Buffelshoek-omgewing waar Van der Wat bedrywig is, is daar gereeld inbrake en diefstalle.

Volgens hom het boere dikwels nie meer vertroue dat sake opgelos sal word nie. "Dán begin mense van lelike goed en optrede praat, maar ons probeer paai. Want as hulle optree, is daar nog groter moeilikheid."

Danie de Villiers, bestuurder van Agri Delareyville, vertel die polisie is traag om op te tree teen betreding op plase. "Dán voel boere hulle moet self iets doen. Aanvalle veroorsaak eerder paniek as paraatheid."

Volgens De Villiers is boere se vrees vir aanvalle nadelig vir die boerdery-bedryf omdat baie boere hul plase verkoop, veral as hul kinders nie daar wil boer nie.

"Ek sien mense verander. Waar hulle bakkies buite gelos het, trek hulle dit nou in en laat veiligheidshekke insit."

Du Toit vertel toe die kommando's nog bestaan het, was daar weinig aanvalle op lede. Dié stelsel is in 2003 afgeskaf.

"Daar was paraatheid en die blote bestaan van so 'n stelsel was 'n afskrikmiddel. Nou is ons regstelsel dikwels wanfunksioneel en ondoeltreffend en die misdadigers weet dit."

Om goed te wees vir jou werkers, is volgens De Villiers geen waarborg nie. "Streng boere word dikwels juis nie aangeval nie, maar dikwels dié wat oordadig goed is."

Streng boere word dikwels juis nie aangeval nie, maar dikwels dié wat oordadig goed is.

Die lewe ná ‘n plaasmoord

Neville Karg en sy dogter, Kita, op die plaas waar ’n driedubbele moord gepleeg is. Foto: Carla van der Spuy

Die lewe van die 65-jarige Neville Karg en sy vrou, Lorraine, is nooit ’n enkele oomblik bedreig nie. Toe word sy op hul “veilige” en rustige plaas, Sherwood Farm, naby Rosetta in die skilderagtige Mooiriviergebied van die Natalse Middellande vermoor.

Lorraine, met wie hy 36 jaar gelukkig getroud was, is met ’n mes in die nek gesteek. Dit was, soos later sou blyk, die gevolg van ’n goed beplande plaasaanval.

Ook twee van die Kargs se lojale werknemers is genadeloos vermoor. 

Klik hier vir die volledige artikel. 

Lesersbydrae: 'My God, my God'

Ons het lesers gevra hoe 'n plaasaanval of -moord hulle geraak het. Hier volg die eerste van twee bydraes wat vir publikasie gekies is.​

​"Lekker koppie Milo, dan gaan ek in die bed klim," dink ek en in my gedagtes herhaal ek my nagtelike roetine van deure sluit, vensters toemaak en ligte afsit. 

Die eerste sluk is nog in my mond, toe ek die man voor my opmerk. 

Ek is bewus van die koppie wat uit my hande gly toe hy my vol in die gesig slaan en ek voel dadelik dat my onderkaak heeltemal af is. Dan volg 'n tweede hou wat my op die vloer laat neersyg. 

Skielik verskyn my vrou in haar nagklere by die ingang na die kombuis en ek hoor haar gil. Ek kan my trane nie keer toe sy besorg oor my buk nie, maar skielik word sy aan haar hare weggepluk en in die gang afgesleep en ek begin bid: "O God, wees ons genadig. Moet asseblief nie dat hulle haar seermaak nie." En ek hoor hoe kaste se deure oop en toe gemaak word terwyl iemand skree: “Where is the money, where is the guns?”

Skielik raak dit stil en ek bid steeds. My gesig en kop pyn verskriklik 'n tweede persoon staan slegs 'n meter van my af en rig 'n pistool op my. Sy oë is leweloos en ek kan die drank aan sy asem ruik. Hy kan nie ouer as my eie seun wees nie. Die gedagte laat my met skok besef dat my seun waarskynlik met sy oorfone op in sy kamer sit en huiswerk doen, en ek bid dat hy die gebeure gespaar bly.

'n Gil en die klank van materiaal wat skeur, ruk my terug na my onmiddellike omgewing en ek besef dat ek iets sal moet doen - maar wat? 

Die pistool in die ander man se hand lyk eg en gevaarlik en dood beteken ek niks vir enigiemand nie. 

Dit is nou stil in die kamer. Net my vrou se snikke is hoorbaar bo die gesteun wat van daardie kant af kom. Die man hier by my draai om en roep iets in die gang af wat ek nie verstaan nie en die ander persoon antwoord dieselfde onbekende woorde terug en ek sien hoe hy sy rug draai en begin stap in daardie rigting. 

O God, wees ons genadig. Moet asseblief nie dat hulle haar seermaak nie.

Ek kom stadig orent en glip die waskamer in. Ek kry my dogter se hokkiestok wat sy in die besemkas vergeet het en wag, en luister.

Niks, nie 'n geluid nie.

Ek stap tree vir tree op my tone, ek luister en wag en sluip stadig deur die kombuis, versigtig om nie 'n geluid te maak nie. My lyf voel lam en ek wag weer en luister en sluip dan versigtig om die hoek van die kombuis en in die gang af.

Die deur na my seun se kamer is nog toe en ek stap verby, by die deur na ons kamer word ek tot stilstand geskok.

My vrou staar met lewelose oë na my, haar mond oop, asof sy om hulp roep, terwyl die gordyne by die patio-deure saggies dartelend ritsel.

Hulle is weg.

Ek probeer om na haar toe te hardloop, maar my bene wil nie beweeg nie. My liggaam gee 'n geweldige ruk en ek probeer skree - en ek skrik vir die geluid wat uitkom.

Ek skrik toe ek die geluid agter my hoor en ek swaai vervaard om. Deur betraande oë sien ek my seun en besef aan sy gedrag dat hy genadiglik niks gehoor het nie. Ek steek my arms na hom uit om sy aandag in die donker gang te trek.

Hy kyk op en begin iets sê en storm geskok op my af. “Pa, pa, wat het gebeur?”

Ek kan nie praat nie en huil net en beduie hulpeloos na sy ma waar sy uitgestrek op die bed lê. “Help haar,” hoor ek myself sê, en ek voel hoe my bene onder my ingee.

Ek sit geskok en kyk hoe hy haar met 'n laken toemaak terwyl hy saggies huil en ek beduie vergeefs dat hy haar kop moet oophou, en alles word swart voor my...

"My God, my God," eggo my gedagtes my die duisternis in. - Willem C Rossouw

Ek skrik toe ek die geluid agter my hoor en ek swaai vervaard om. Deur betraande oë sien ek my seun en besef aan sy gedrag dat hy genadiglik niks gehoor het nie.

Lesersbydrae: En dit alles, hoekom?

Gerrit Billy Myburgh

My oupa Gerrit Billy Myburgh is verlede jaar op 4/5 Augustus vermoor in Heidelberg, Gauteng. 

Ek sou die Sondag, 4 Augustus, by hom gaan kuier het vir 'n week en hom gehelp het om my oorlede ma (wat op 22 Januarie verlede jaar oorlede is) se kamer en al haar goed op te pak. Sy het by my ouma en oupa gebly en hom versorg tot haar afsterwe.

My oupa was meer werd as alles wat hulle gevat het.

Toe ek en die man wat my na my oupa toe geneem het, by die plot aankom, het ek dadelik geweet iets is fout.

Al die huis se deure was oop, die honde was toegemaak en die motorhuis oop, maar oupa se kar was nie daar.

Dit was baie ongewoon, want Oupa het klokslag elfuur in die oggend dorp toe gegaan en sou dan nie weer gery het nie.

Ek is by die voordeur in en soos ek geloop het, het ek my oupa geroep. Alles in die sitkamer en kombuis was soos altyd, en soos ek nader aan my ma se kamer gekom het, het ek my oupa se lyk in die gang gesien.

Ek het net gesien alles is uitgegooi en daar is bloed. Toe hardloop ek uit en vra die man wat my na my oupa toe gebring het om saam met my weer die huis in te gaan.

Ek was bang.

Ons het by die kantdeur ingegaan. Die kantdeur lei jou tot by Oupa se waskamertjie, dan Oupa se badkamer en dan Oupa se kamer.

Toe ek instap, het my hele lewe gaan stilstaan. Ek kon nie glo wat ek sien nie.

My oupa is vermoor. Hy het voor die kas gelê met sy hande en bene vasgebind. Hy is orals op sy lyf geslaan en gebrand met 'n stykyster en kookwater. Die kamer was vol bloed. Daar was die snaakste reuk in die kamer.

Tot vandag kan ek nie oor my oupa se dood kom nie. Hy was 79 jaar oud en het nie 'n kans gestaan teen die monsters nie.

Hulle het net vyf goed gesteel.

My oupa was meer werd as alles wat hulle gevat het.

Tot vandag toe kry ek die lelikste nagmerries. Elke nou en dan moet ek in die Heidelberg-hof wees waar die een beskuldigde in die hof staan en lag asof hy niks gedoen het nie.

Hulle het nie my oupa vermoor nie, maar my lewe opgeneuk. Ek kry byna elke aand nagmerries. Ek kan nie meer in die donker slaap nie. Ek kan nie alleen by die huis bly nie.

Hoekom? - Elna Pieterse

Klik hier om die eerste berig oor die moord op kol. Gerrit (oom Billy) Myburgh te lees. 

Lees ook

Deel 1: Plaasmoorde: Geen prioriteit of plan?

Hoekom die landelike beveiligingsplan sukkel, die uitdaging vir die polisie en die minister se plan.

Deel 2: Plaasaanvalle: Hoekom so wreed?

Willemientjie Potgieter (2) is in Desember 2010 tydens 'n plaasaanval in Lindley in die Oos-Vrystaat in die agterkop geskiet. ​Ons kyk terug na hierdie en ander plaasmoorde en -aanvalle wat lesers oor die jare heen aangegryp het, en vra wat aanleiding gee tot die wreedheid.

Deel 3: (Hoe) hou ons boek?

Jaco van Wyk was besig om ’n koei te melk toe hy ’n statistiek geword het. Maar wat leer misdaadsyfers ons van plaasveiligheid?