Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Plaasmoorde #1
PLAASMOORDE: GEEN PRIORITEIT OF PLAN?
Die eerste in n reeks van vier spesiale verslae oor plaasmoorde.
Die polisiehoof, genl. Riah Phiyega, doen vandag (Maandag) 'n voorlegging oor veiligheid op plase voor die Menseregtekommissie. Plaasmoorde en -aanvalle is opnuut onder die loep sedert die nuwe minister van polisie kort ná sy aanstelling belowe het die regering gaan meer doen om die situasie te verbeter en die MRK verlede maand met sittings oor plaasaanvalle begin het. Hierdie is die eerste spesiale verslag in 'n reeks van vier oor plaasmoorde.
Genl. Riah Phiyega Foto: Deaan Vivier

Genl. Riah Phiyega doen vandag (Maandag) 'n voorlegging oor veiligheid op plase aan die Menseregtekommissie (MRK) in Johannesburg.

Dr. Danny Titus, deeltydse kommissaris aan die stuur van die paneel wat hieroor sit, sê vakbonde wat plaaswerkers verteenwoordig, sal onder meer ook kom getuig.

Die kommissie het in September twee dae oor die kwessie gesit nadat AfriForum 'n bundel met klagtes oor plaasmoorde aan die MRK oorhandig het. 

AfriForum vra dat die polisie dit weer as 'n prioriteitsmisdryf klassifiseer en afsonderlik statistieke daaroor byhou omdat dit so gereeld voorkom, brutaal is en sowel voedselsekerheid as werkgeleenthede bedreig.

Tydens die sitting in September het onder meer AfriForum, Agri SA, TLU SA, die National African Farmers' Union (NAFU), private sekerheidsmaatskappye, regeringsdepartemente soos justisie en die Gautengse gemeenskapspolisiëringsforum, voorleggings gedoen.

Uit feitlik almal se voorleggings was dit duidelik: die polisie het nie genoeg hulpbronne en kundigheid om aanvalle in afgeleë gebiede waar paaie baie dikwels swak is, doeltreffend te bestry nie. 

Hul reaksietyd is stadig en boonop heers daar wantroue onder baie boeregemeenskappe teenoor hulle weens 'n beweerde halfhartige houding om plaasmoorde te ondersoek, het die kommissie gehoor.

Dít noop boere dikwels om van private beveiliging gebruik te maak.

"Ons het 'n bekwame, nie-rassige en goed opgeleide polisie nodig en die doeltreffende toepassing van ons uitstekende landelike beveiligingsplan," het Kobus Breytenbach van Agri SA tydens die MRK-sitting gesê.

Volgens hom is die uitwerking van misdaad in boerderygemeenskappe enorm - van Maart 2013 tot April 2014 is R516 miljoen se vee in Suid-Afrika gesteel. 

Hy en genl. Chris van Zyl van TLU SA was dit eens: hoewel navorsing wys die motief vir plaasmoorde is roof, dui die vlak van geweld op 'n element van rassisme, aangewakker deur onregverdige verdagmaking van boere.

Phiyega kon nie die sitting in September bywoon nie, maar sal vandag die geleentheid kry om vrae oor dié bekommernisse te beantwoord. 

Titus sê die stem van plaaswerkers is ook nog nie duidelik gehoor nie en daarom sal onder meer vakbonde wat hulle verteenwoordig, ook getuig.

Titus is tevrede met die "geskakeerde stel insette" wat tot dusver gekry is oor veiligheid binne plaasgemeenskappe.

Nadat die getuienis aangehoor en dokumentasie aangevul is, sal Titus en sy span begin met die saamstel van 'n openbare verslag oor veiligheid in plaasgemeenskappe, wat aan die parlement voorgelê sal word.

"Ons druk om dit binne 30 dae ná die laaste getuienis te voltooi," het Titus gesê. - Susan Cilliers

Ons beskou dié moorde in ’n baie ernstige lig aangesien dit nie net die families van die slagoffers raak nie.
Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies

Minister se 'betekenisvolle ingryping' om moorde te bekamp

Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, is ''uiters bekommerd'' oor plaasmoorde en -aanvalle.

Die minister van polisie beplan “betekenisvolle ingryping” om plaasmoorde te bekamp.

Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, het sedert sy aanstelling in Mei met beamptes by talle polisiekantore in landelike gebiede gekonsulteer omdat hy “uiters bekommerd” is oor plaasmoorde en -aanvalle.

Hy werk aan ’n ​gefokusde plan om dit te takel, het hy in Julie gesê.

Nadat die regering jare lank huiwerig was om plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, is Nhleko se erkenning dat iets drasties gedoen moet word om boere en plaaswerkers te beskerm wyd verwelkom.

In ’n parlementêre antwoord op ’n vraag van die VF Plus het Nhleko gesê die regering gaan plaasmoorde en -aanvalle prioritiseer.

Foto: Cornel van Heerden​

Beveiliging van plaasgemeenskappe 'n unieke uitdaging vir polisie

Die blote afgesonderdheid van plase en swak infrastruktuur soos slegte paaie, maak dit 'n unieke uitdaging vir selfs die polisie om sulke gemeenskappe te beveilig.

Kundiges is dit eens drie dinge kan veiliger plaasgemeenskappe verseker: parate gemeenskappe, 'n goeie samewerkingsverhouding met die polisie en soms ook bykomende private beveiliging.

Agri SA gebruik die polisie en departement van verdediging se nasionale riglyne oor beveiliging op plase en kleinhoewes.

Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingsbeleidskomitee, sê wantroue heers dikwels in landelike gebiede teenoor die polisie, weens onder meer hul stadige reaksietyd, beweerde rassisme en onbekwaamheid.

Hoewel Suid-Afrika 'n uitstekende landelike beveiligingsplan het, word dit dikwels nie doeltreffend toegepas nie. Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê dis veral op grondvlak by plaaslike polisiekantore waar die beginsels uitmekaar val. "Sommige lede hier het 'n houdingsprobleem en word dikwels nie gedissiplineer wanneer hulle oortree nie."

Boere gebruik om dié redes dikwels private beveiliging. "Ons beskou dit nie as 'n alternatief vir die polisie nie, maar 'n aanvullende hulpmiddel," sê Breytenbach. "Private maatskappye is ook nie altyd suksesvol nie, daarom moedig ons ons lede nie aan om dit te gebruik nie."

Moetsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers' Union, meen private dienste het onontbeerlik geword omdat die polisie alleen mense nie op plase kan beveilig nie. Wit én swart boere verlaat plase weens veiligheidsrisiko's, sê hy.

Ons beskou private beveiliging nie as 'n alternatief vir die polisie nie, maar 'n aanvullende hulpmiddel.

Philani Mthethwa, adjunk-direkteur van die liggaam wat die private sekerheidsbedryf in Suid-Afrika reguleer (Psira), bevestig boere gebruik dikwels private maatskappye omdat plase afgeleë en ver van polisiekantore is. 

Hy waarsku boere moet geen maatskappy gebruik wat nie by Psira geregistreer is nie. Psira moedig mense ook aan om betrokke te raak by hul gemeenskappolisiëringforums, sodat hulle wettige samewerking met die polisie kan hê.

In die Muldersdrift-omgewing in Gauteng is al groot sukses behaal met samewerking tussen die polisie en gemeenskappe, vertel Andy Mashaile, voorsitter van die Gautengse raad vir gemeenskapspolisiëring.

"Die gemeenskap help die polisie selfs patrolleer, ook snags."

Mashaile verduidelik so 'n forum bestaan uit polisie- en gemeenskapslede. Hulle identifiseer saam probleme en soek oplossings. "Op dié manier hou die gemeenskap die polisie ook verantwoordbaar deur seker te maak daar is deursigtigheid en dat hulle hul werk doen."

Mashaile meen sulke forums is noodsaaklik in veral landelike gebiede. "Die reaksietyd in sulke gebiede kan tot 45 minute langer as in stede en dorpe wees, weens lang afstande en swak paaie. Plaaslike polisiekantore het dikwels ook 'n gebrek aan hulpbronne, soos te min voertuie."

Boere kan self ook baie doen deur net fyn op te let en paraat te wees. Genl. Chris van Zyl van TLU SA, die enigste organisasie wat tans nougeset statistieke hou van plaasmoorde in Suid-Afrika, sê mense word dikwels slagoffers omdat hulle oorgerus is en byvoorbeeld na buite loop en ondersoek instel wanneer honde blaf.

Volgens Breytenbach is plaasaanvallers se modus operandi dikwels om snags of na-ure wanneer mense ontspan, op plase toe te sak en hulle in of by hul huise te oorval. 

Plaasbewoners word dikwels by hekke oorval en booswigte kry toegang tot persele onder valse voorwendsels, soos dat hulle werk soek of sonder brandstof gaan staan het. - Susan Cilliers

Riglyne

Van die polisie en die nasionale departement van verdediging se riglyne oor beveiliging op plase en kleinhoewes:

■ Sluit aan by beveiligingstrukture in jou gemeenskap, soos polisiëringforums, polisiereserviste en plaaswagstelsels. Sigbare polisiëring is 'n groot afskrikmiddel vir aanvallers.

■ Raak betrokke by misdaadvoorkomingsprogramme en betrek jou werkers.

■ Verskerp veiligheidsmaatreëls indien werkdispute opduik.

■ Installeer eerder 'n heining as mure om die huis, want dit verbeter sig na buite. Hekke moet altyd gesluit wees.

■ Sit veiligheidshekke by die deure na buite, asook hekke wat die slaap- en leefarea skei. Dit kan deurslaggewend wees wanneer die huis binnegedring word.

■ Versterk deure en maak loergate daardeur.

 Vuurwapens moet te alle tye beskikbaar wees en waar moontlik aan die persoon gehou word - iemand wat wapens ken en goed daarmee kan werk.

■ Sit 'n bykomende sirene/alarm op die dak wat ver gehoor kan word wanneer daar nood is. Honde, ganse en volstruise kan ook as natuurlike alarms dien. Minstens een hond moet in die huis slaap.

■ Installeer sekuriteitsligte buite die huis. Sorg dat daar nie digte bosse naby die huis is waar booswigte kan skuil nie.

■ Moenie vreemdelinge op jou plaas toelaat nie.

■  Maak seker toerusting soos byle, grawe, pikke, breekysters en lere is toegesluit wanneer dit nie gebruik word nie.

■ Skiet gereeld teiken op die plaas - dis 'n goeie afskrikmiddel.

■ Maak seker die telefoon is altyd in 'n werkende toestand. 'n Selfoon is ook nodig omdat dit nie drade het wat geknip kan word nie.

■ Skakel by 'n radionetwerk in en maak seker dit werk te alle tye.

■ Sorg dat daar behoorlik beheer oor sleutels is. Moet dit byvoorbeeld nie in tradisionele wegsteekplekke soos blompotte of onder matte wegsteek nie. Merk sleutels eerder met kodes as 'n beskrywing van vertrekke.

■ Wees bedag op gevaartekens soos vreemde mense, spore en voertuie; die onverklaarbare dood van 'n waghond; tekens van indringers se teenwoordigheid soos leë bottels of blikke, papieroorblyfsels, oorblyfsels van maaltye, sigaretstompies en gebreekte takke; en die diefstal van kos, brandstof, vee en wild.

■ Praat met jou bure en beveiligingstrukture indien jy bekommerd is oor veiligheid.

Boere neem in 2012 op Kerkplein, Pretoria, aan 'n optog teen plaasmoorde deel. Foto: Lisa Hnatowicz

Wreedheid tydens aanvalle kwel

Die manier waarop hulle mense verniel, is baie erg. In sommige gevalle wag hulle tot die boer by die huis is om hom en sy gesin te martel.

Hoewel statistieke wys dat plaasaanvalle in Suid-Afrika die afgelope dekade stelselmatig begin afneem het, is die wreedheid wat daarmee gepaardgaan kommerwekkend.

Dit was die algemene gevoel in Julie vanjaar onder kenners en belanghebbendes wat die aankondiging deur die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, dat hy plaasaanvalle opnuut gaan pak, verwelkom het.

Volgens statistieke van die TLU SA het plaasaanvalle sedert 2003 stelselmatig afgeneem.

Steeds het sowat 3 278 boere en plaaswerkers sedert 1990 aan die hand van rowers gesterf.

Volgens Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, is dié statistieke redelik in die kol, maar kan dit wees dat daar sekere gevalle is wat nié by die unie aangemeld is nie.

Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), stem saam dat plaasmoorde stelselmatig afneem. “Hoewel daar die afgelope twee jaar weer ’n effense styging in plaasaanvalle was, dui dit eerder op die toename van misdaad in die algemeen as op plaasaanvalle in die besonder.”

Geldenhuys het gesê die manier waarop boere gemartel word, maak van plaasmoorde ’n prioriteitsmisdaad.

“Die manier waarop hulle mense verniel, is baie erg. In sommige gevalle wag hulle tot die boer by die huis is om hom en sy gesin te martel.”

Hy meen die manier waarop plaasmoorde uitgevoer word en die wreedheid daarvan is dalk ’n manier om boere van hul plase af te kry.

Burger stem nie saam nie.

“Rowers gebruik geweld om boere te wys wie’s baas. Sodra hul slagoffers die gesag aanvaar, stop die geweld. Net wanneer hulle dink jy jok of weerhou iets van hulle, soos die kode tot die kluis, sal hulle jou martel,” het Burger verduidelik.

“Wat Suid-Afrika nodig het om plaasaanvalle te bekamp, is ’n sub-strategie wat spesifiek op plaasaanvalle fokus. ’n Algemene beveiligingstrategie is nie genoeg nie.”

Volgens Burger sal die polisie veral moet fokus op die ontplooiing van polisiereserviste en gemeenskapspolisiëringsforums.

Ook AfriForum het Nhleko se aankondiging verwelkom. “'n Gefokusde strategie sal die beginpunt van 'n volhoubare oplossing wees,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

“Die enigste volhoubare oplossing is samewerking tussen die burgerlike samelewing en die polisie.” - Elaine Swanepoel

Amperse militêre beplanning en 'n miljoen rand om plaas te beveilig

“Hennie du Plessis” staan tussen die dubbele sekuriteitsheining op sy plaas. Foto: Mary-Ann Palmer

Die berig het op 14 Julie vanjaar in Rapport verskyn:

’n Vrystaatse boer het meer as ’n miljoen rand bestee om sy plaaswerf een van die veiligste in Suid-Afrika te maak.

Met amper militêre beplanning het dié bees- en graanboer die veiligheidstrukture rondom sy plaashuis so ingerig dat hy “tyd kan wen” wanneer booswigte sou toeslaan.

“Enige werf in dié gebied was in ’n stadium so oop dat jy tot by die voordeur kon ry,” sê Hennie du Plessis*.

Rapport het met Du Plessis gaan gesels ná ’n onlangse brief in die koerant van ’n Namibiese leser wat gesê het baie Suid-Afrikaanse boere is “sitting ducks” omdat hulle nie plase ordentlik beveilig nie.

Dié aantyging maak hom vies.

“Dís ’n absolute leuen. Boere is nie sitting ducks nie. Ja, jy is blootgestel weens die omgewing waarin jy werk. Maar om dít te sê, is net so goed jy sê ’n mynwerker stel hom bloot onder die grond.

“My hel, man, dis sy werk!”

Du Plessis sê elke boer wat hy ken doen alles binne sy finansiële vermoë om sy plaaswerf te beveilig.

Die verdedigingslinies wat hy ingerig het, is verstommend:

 Dubbele omheining verwelkom jou wanneer jy by die grondpad opry. Dit strek oor altesame 1,9 km en het hom sowat R560 000 uit die sak gejaag. Die eerste is ’n geëlektrifiseerde heining wat 8 000 volt deur jou lyf kan stuur. Die volgende een het lemmetjiesdraad om die oorklimslag te bemoeilik;

 Merkers aan die draad word deur die infrarooiligte in nagsigverkykers gemonitor. As iemand aan die draad vat, dit knip of selfs met ’n voertuig of trekker sou omry, gaan ’n alarm af.

“Dis eenvoudig ’n vroeë waarskuwingstelsel,” sê hy.

 Sou betreders deur die eerste linie kom, het Du Plessis honde buite die huis wat alarm kan maak;

 Kragtige sekuriteitsligte rondom vorm nóg ’n verdedigingslinie. “Sien jy hoe lyk dit nou rondom die huis (dit is 12:00)? Net so sal dit vanaand lyk.”

Sou ’n booswig daarin slaag om in die huis te kom, verby die diefwering en elektriese veiligheidshek, sal hy alles moontlik probeer doen voordat hy met skerppunt-ammunisie sou skiet, sê Du Plessis.

Sy alternatief is ’n verfbalgeweer met pepersproei-patrone. Daarna sal hy “soliede koeëls” gemaak van ’n nylonveselmengsel met dié geweer vuur, vertel hy oor ’n koppie koffie met Cremora.

Om ’n regte vuurwapen te gryp, is die laaste stap.

“Ons is nie moordenaars nie, ons is boere.” But if you step over the line  . . . ek moet my familie beskerm.”

Hy en sy gesin volg nooit dieselfde roetine nie.

Soos ’n mens saam met hom deur die gebied ry, wys hy die deeglike beskerming op verskillende plase uit: geëlektrifiseerde heinings, honde, kameras, alarms.

Om te boer, om kos aan die land te verskaf, is in sy aard. Dís wie hy is.

Dis net dat hy nou soos ’n veiligheidswag ook moet dink en besoekers selfs afsprake moet maak om by sy huis in te kom.

“Jy wat in Johannesburg woon, weet ook die moontlikheid is daar dat iets is met jou kan gebeur,” sê Du Plessis.

“Die verskil is net dat jou buurman 100 m van jou af is. Mýne is 3 km ver.”

* Skuilnaam 

Interaktiewe infografika: Plaasmoorde 2014

​Indien jy nie die interaktiewe kaart hieronder kan sien nie, volg asseblief ​hierdie webskakel om dit via jou webblaaier oop te maak. Of plak hierdie webskakel in die webadres-balkie: ​https://public.tableausoftware.com/shared/8FCHPQ3BY?:display_count=no

Brandpunte: Ekstra voorsorg vir komende Kerstyd

Boere moet bykomende veiligheidsmaatreëls op hul plase tref vir die komende Kersfeestyd.

Só waarsku Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. Volgens hom het hulle die afgelope drie weke reeds 'n toename in misdade in landelike gebiede gesien.

Hy sê die grens tussen Limpopo en Mpumalanga is nou een van die brandpunte vir plaasaanvalle. 

Sarel Janse van Rensburg (75), 'n plaasbestuurder van die plaas Froggy Pond in Tonteldoos, sowat 25 km vanaf Dullstroom, is op 18 September in 'n gru-aanval vermoor.

Hy is met 'n staalpyp oor die kop geslaan, met 'n mes in die bors gesteek en toe in sy kop geskiet.

Janse van Rensburg se broer, Johan, en skoonsuster, Gloudien, is in Junie 2012 op hul plaas, Cosmopolite, naby Baltimore in Limpopo, vermoor.

Cameron sê die noorde van KwaZulu-Natal, die Vrystaat sowel as Limpopo en Mpumalanga is die gebiede waar die meeste plaasaanvalle voorkom.

Oudgenl. Chris van Zyl van TLU SA stem saam dat dié provinisies brandpunte is. "Daar is ook gereelde aanvalle in die noorde van KwaZulu-Natal, Noordwes en die Cullinan-gebied buite Pretoria."

TLU SA hou statistieke van aanvalle en moorde op plase by vanaf 1990 tot vroeër vanjaar.

Volgens dié statistieke sluit gebiede waar gereelde plaasaanvalle voorkom Tzaneen en Groblersdal in Limpopo in. Rustenburg in Noordwes, Belfast en Ermelo in Mpumalanga en die Viljoenskroon-distrik in die Vrystaat loop ook gereeld deur.

Volgens Cameron is dit moeilik om vas te stel of daar 'n patroon is van waar plaasaanvalle gebeur. "Dit wissel van gebied tot gebied."

Van Zyl sê dit is opmerklik dat minder plaasaanvalle voorkom in gebiede waar doeltreffende veiligheidsmaatreëls geld.

Die polisie het nie meer afsonderlike statistieke vir plaasaanvalle nie. Dit word of as huisinbrake en huisrooftogte geklassifiseer. - Marietie Louw-Carstens

Regering se landelike beveiligingsplan sukkel steeds

Die regering kon elf jaar nadat hy die kommandostelsel in 2003 afgeskaf het, steeds nie daarin slaag om 'n behoorlike landelike beveiligingsplan te implementeer nie, sê dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Strukture wat die kommandostelsel moes vervang, het nooit behoorlik van die grond gekom nie. Die ISS het in 2008 op versoek van AfriForum navorsing gedoen oor hoe goed die staat landsburgers beveilig. Landelike beveiliging het deel hiervan uitgemaak.

Burger was met die afskaffing van die kommandostelsel nog in die polisie en is nou gemoeid met landelike beveiliging.

"(Oudpres.) Thabo Mbeki het gesê die polisie moet alternatiewe strukture instel, maar daar was niks nie. Ons het koppe bymekaar gesit en drie moontlikhede geïdentifiseer: sektorpolisiëring, landelike en stedelike sektor polisiereserviste wat saamgestel kon word uit voormalige kommandolede, en gebiedsmisdaadsbestrydingseenhede."

Dr. Johan Burger Foto: Alet Pretorius

Volgens Burger sou dié eenhede as 'n reaksie- en voorkomingsmag tydens plaasaanvalle kon dien.

Tydens die navorsing wat Burger en sy span in 2008 by onder meer die Lesotho-grens, in KwaZulu-Natal en die Vrystaat gedoen het, het hulle gevind bitter min van dié voorstelle het ten volle gerealiseer. "'n Reserviste-beleid en sektorpolisiëring het nou eers, in 2014, gerealiseer. 'n Tekort aan hulpbronne soos mense, voertuie en kommunikasietoerusting is struikelblokke hiervoor."

Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê toe die kommando's nog bestaan het, was daar weinig aanvalle op lede. "Daar was paraatheid en die blote bestaan van so 'n stelsel was 'n afskrikmiddel. Nou is ons regstelsel dikwels wanfunksioneel en ondoeltreffend en die misdadigers weet dit."

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê sedert die afskaffing van die kommandostelsel het plaasaanvalle begin toeneem en teen 2007 met tot 25% gestyg.

Volgens Burger van die ISS is 1998 se landelike beveiligingsplan grootliks op die kommandostelsel gegrond. Met die uitfaseer daarvan het dié plan nie meer veel waarde gehad nie. "'n Nuwe landelike beveiligingstrategie is eers in 2010 bekend gestel. Dis nie 'n slegte plan nie, maar die fokus is veel breër as net aanvalle en moorde op boere."

Burger meen dit behoort eintlik die hoofprioriteit te wees omdat sulke aanvalle die vernaamste probleem in plattelandse gebiede is. "Die plan is soos om met 'n haelgeweer na 'n teiken 100 m van jou te skiet."

Oor die motief vir plaasmoorde, sê Burger 'n mens moet onderskei daartussen en tussen gedrag tydens plaasaanvalle. "Ons weet die motief is in 90% gevalle misdaad soos roof. Daar is egter oorgenoeg bewyse dat rassisme wel 'n rol speel in gedrag tydens die uitvoer van dié soort misdrywe.'' - Susan Cilliers

Boere voorsien kos aan die land en neem baie mense in diens. Wanneer een boer vermoor word, kan tot 50 werkers hul werk verloor. Alle poliltieke en ander leiers moet plaasaanvalle veroordeel. Ons moet daarteen veg, ongeag of ons swart of wit is.

Swart boere het ‘dieselfde vrese oor aanvalle as wit eweknieë’

Prof. Marekwa Legotlo

Swart boere en plaaswerkers is dikwels ook die teiken van plaasaanvalle, maar dit word nie altyd so goed gedokumenteer as dié op wit boere nie, sê prof. Marekwa Legotlo, voorsitter van die nasionale vereniging vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo).

Hy meen egter wit boere word tóg meer aangeval as swart boere. "Om dit te bewys sal 'n mens baie nougeset statistiek van aanvalle moet hou," sê Legotlo. Hy vermoed wit boere word dalk meer aangeval omdat hulle dikwels verder afgeleë boer as hul swart eweknieë.

Die Menseregtekommissie (MRK) sit Maandag (6 Oktober) weer in Johannesburg oor veiligheid op plase. Die kommissie het in September reeds getuienis hieroor van onder meer AfriForum, landbou-organisasies, regeringsdepartemente en private beveiligingsinisiatiewe gehoor. Die sitting is gereël nadat AfriForum 'n bundel met klagtes oor plaasmoorde aan die MRK oorhandig het. AfriForum vra ook dat weer aparte statistiek oor plaasaanvalle en -moorde gehou word.

Legotlo het gesê plaasaanvalle en -moorde benadeel wit en swart ewe sleg. "Boere voorsien kos aan die land en neem baie mense in diens. Wanneer een boer vermoor word, kan tot 50 werkers hul werk verloor. Alle politieke en ander leiers moet plaasaanvalle veroordeel. Ons moet daarteen veg, ongeag of ons swart of wit is."

Legotlo is afgetree en boer self naby Mahikeng in Noordwes met beeste en skape. Hy vertel 'n swart boer is verlede jaar grusaam naby Groot Marico vermoor. "Die plaasaanvallers het hom in 'n leë wateropgaarder gegooi saam met motorbande en dit aan die brand gesteek."

In nog 'n voorval naby Zeerust het plaaswerkers 'n ander werker vermoor om sy geld te vat.

"Boere word dikwels aangeval omdat daar 'n persepsie is dat hulle geld het, al is dit baie keer nie waar nie. Misdadigers het dikwels 'n houding dat hulle op alles geregtig is. Dit moet verander word deur opvoeding, ook by kerke. God het ons nie gemaak om mekaar te vermoor nie, maar mekaar te dien. Boere dien die land."

Legotlo gee die volgende praktiese wenke oor beveiliging vir boere. Hy pas dit self op sy plaas toe: "Ons het honde, sluit die hekke en handhaaf 'n goeie verhouding met boere op buurplase.”

Motsepe Matlala, president van Nafu (National African Farmers Union), stem saam dat swart boere dieselfde vrese oor plaasaanvalle as hul wit eweknieë het.

“Juis omdat aanvalle op swart boere en hul werkers nie wye dekking in veral die media kry nie, het Nafu reeds sover terug as in 2006 gevra dat ‘n holistiese ondersoek gedoen moet word sodat daar ‘n basiese riglyn beskikbaar is oor hoeveel swart boere werklik slagoffers is.”

Matlala sê as daar nie ‘n holistieke plan is hoe om plaasaanvalle te bekamp nie, mag dit byvoorbeeld daartoe lei dat die weermag ingeroep sal moet word om boere tydens plant- en oestyd te beskerm.

“En ons weet dat dit eintlik ‘n onbegonne taak sal wees en ook een wat ‘n uiters duur proses sal wees.”’

Volgens Matlala moedig Nafu sy lede aan om so ver moontlik self vir die basiese sekuriteit op hul plase verantwoordelik te wees.

Boere in dieselfde omgewing moet ook beter saamwerk om mekaar te beskerm.

Hy sê hulle maak ‘n punt daarvan om hul werkers gereeld in te lig oor hoe om bedag te wees, hoe om potensiële gevare uit te ken en hoe om effektiewe kommunikasiekanale te skep.

Volgens Matlala was hy al persoonlik betrokke by die trauma van ‘n plaasaanval toe 'n familielid op een van sy plase in Mpumlanga aangeval is.

“Gelukkig het een van my plaaswerkers tot die persoon se redding gekom. Dit sou nie gebeur het as ons nie vroeër met werkers oor plaasveiligheid gepraat het nie.”

Oor die wreedheid en geweld wat gepaard gaan met plaasaanvalle, meen Matlala nie dat daar meer genade teenoor swart slagoffers as wittes betoon word nie.

“Plaasaanvalle is altyd brutaal en traumaties. En solank as wat daar aanvalle en moorde op plase is, sal voedselsekerheid in die land bedreig word,” sê Matlala.

Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê ook dis 'n wanpersepsie dat net wit boere die teiken is van plaasaanvalle. "Almal wat iets het, is 'n teiken. Diefstal en roof is meestal die motief vir plaasaanvalle." - Susan Cilliers en Buks Viljoen

Afriforum se syfers vir plaasmoorde in 2013/'14

Solidariteit se 2012-verslag oor plaasaanvalle

Die regering se reaksie op misdaad in Suid-Afrika

TLU se voorlegging aan die MRK