Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Ace se afskeid ‘het nie net R6 miljoen gekos’

Die Vrystaatse provinsiale regering beweer die afskeid van die voormalige premier, Ace Magashule, en die verwelkoming van Sisi Ntombela, die nuwe premier, in die Vrystaat-stadion het “net R6 miljoen”, gekos.

Maar opposisiepartye sê dit is ’n “infame leuen”.

Kgotso Morapela, EFF-leier in die Vrystaatse wetgewer. Foto: Netwerk24

Boonop word nie gesê wie die tenders vir die projek gekry het nie.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê daar was bykomende kostes wat betref ’n galadinee vir tussen 300 en 400 gaste vir Magashule se afskeid in die Dr. Petrus Molemela-stadion, wat weens druk op Magashule afgestel is.

Dit was nadat die kos reeds vir die geleentheid voorberei, die tafels versier en die musiek en die gaste gereed gestaan het om Magashule se lof te besing.

Tiisetso Makhele, woordvoerder van Ntombela en voormalige woordvoerder van Magashule, het by navraag gesê die geleentheid in die Vrystaat-stadion het R6 miljoen gekos. Daar was volgens hom geen kostes vir die galadinee nie, want die Vrystaatse regering is nie bewus daarvan nie.

Jankielsohn sê Makhele verreken nie die kostes vir die busse en minibustaxi’s nadat alle Vrystaatse munisipaliteite opdrag van Magashule gekry het om soveel as moontlik mense na die geleentheid te stuur nie.

Tammy Wessels. Foto: Netwerk24

“Een van die groot uitgawes was die twee dae se salaris wat staatsamptenare betaal is terwyl hulle nie by die werk was om dienste te lewer nie, omdat hulle ook die volgende dag afgegee is om die nuwe premier se inhuldiging te vier.”

Jankielsohn sê die uitgawe aan dienslewering oor die twee dae aan die publiek is omdat die nuwe premier soos Kersmoeder wil wees en staatsamptenare se guns wil wen.

“Daardie kostes sal moeilik bepaal kan word, maar dit gaan miljoene rande beloop.”

Hy sê terwyl dit baie geld gekos het, word die beginsel nie in ag geneem dat bespaar moet word omdat die provinsie in die volgende drie boekjare R1,3 miljard minder van die sentrale regering gaan kry nie.

“Dit is ’n swak voorbeeld vir die provinsie en die munisipaliteite wat nie hul Eskom-rekeninge kan betaal en dienste aan inwoners kan lewer nie.

“Dit bly ’n reuse-skande wat vir die res van die nuwe premier, Ntombela, se termyn by haar gaan spook. Alle aanduidings tot dusver is dat sy die rol van Kersvader wat Magashule gespeel het in die rol van ’n Kersmoedertjie verander het.”

Dr. Roy Jankielsohn. Foto: Netwerk24

Liwa Legacy Projects is gehuur om die galadinee ná die partytjie in die Vrystaat-stadion aan te bied, het ’n betroubare bron wat daar was, verklap.

Tammy Wessels, Vryheidsfront Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, sê die premier vergeet geriefshalwe van die munisipaliteite en departemente se reis- en verblyfkostes, wat ook by die R6 miljoen gereken moet word. So ook die kostes van die departemente en staatsinstansies wat werknemers afgegee het.

“Die ANC het in ’n selfdienende partytjiekultuur verval wat veroorsaak dat hy dink dit is geregverdig om etlike miljoene rande aan partytjies te bestee, terwyl die provinsie se klinieke en hospitale nie toerusting of medisyne het nie, skole nie banke of boeke het nie en die provinsie se infrastruktuur verkrummel.”

Kgotso Morapela, EFF-leier in die Vrystaatse wetgewer, sê meer ondersoek is nodig.

Meer oor:  Tammy Wessels  |  Kgotso Morapela  |  Dr. Roy Jankielsohn  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Da  |  Anc  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.