Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Agrizzi ontwerp Bosasa-koek vir Zuma se 72ste

Bosasa het ’n spoggerige koek, wat meer as R20 000 gekos het, laat bak vir oudpres. Jacob Zuma se 72ste verjaardagpartytjie.

Dit is ontwerp deur Angelo Agrizzi, Bosasa se destydse bedryfshoof, skryf James-Brent Styan en Paul Vecchiatto in The Bosasa Billions: How the ANC sold its soul for braaipacks, booze and bags of cash, wat deur Lapa uitgegee is en vandeesweek op die winkelrakke verskyn het.

Agrizzi het sy jare se ervaring in ’n bakkery gebruik om die koek vir Zuma se partytjie in 2015 in Durban te ontwerp en dit is deur ’n bekende sjokolademaker gebak.

“Dit het meer as R20 000 gekos, daardie koek, omdat dit oor ’n naweek gedoen moes word,” het Agrizzi aan die skrywers gesê. “Ons het Bosasa se kenteken deel van die ontwerp gemaak.”

Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, saam met oudpres. Jacob Zuma. Foto: Verskaf

Verskeie bewerings van korrupsie is voor die Zondo-kommissie van ondersoek teen Bosasa, ’n diensleweringsmaatskappy wat deesdae as African Global Operations bekendstaan, gemaak.

Agrizzi was een van die vernaamste getuies voor dié kommissie.

Styan en Vecchiatto skryf Bosasa, wat onder meer lonende kontrakte met die departement van korrektiewe dienste gehad het, het verstaan dat die pad na politici se hart dikwels ook deur hul maag geloop het. Zuma se verjaarsdae was altyd ’n belangrike datum op Bosasa se kalender, skryf hulle.

Bosasa het vir die partytjie in 2015 ’n markiestent by John Dube-huis, die president se ampswoning in Durban, laat opslaan.

Meer as 300 gaste – onder wie Gavin Watson, Bosasa se grootbaas, en senior bestuurspersoneel van dié maatskappy – het die partytjie bygewoon.

Die voorgereg was garnale van Bosasa se boerdery, Bio-Organics, in Krugersdorp wat kort daarna sy deure moes sluit.

Bosasa se geskenk aan Zuma was ’n handgemaakte skaakstel. Bosasa het nog ’n verjaarsdagpartytjie in 2016 gehou en daarvoor betaal. Die gesamentlike koste van die twee partytjies was sow R3,5 miljoen.

Dit is gefasiliteer deur die Jacob G. Zuma Stigting.

Dudu Myeni, uitvoerende voorsitter van die stigting, het Watson in 2016 in ’n brief bedank vir die “uitstekende verjaardagmaal wat op kort kennisgewing beplan is”.

Agrizzi het aan die skrywers vertel dat bestuurspersoneel van Bosasa “belaglike versoeke”, dikwels laat in die aand, gekry het om te help met die organisasie van geleenthede of spyseniering vir tienduisende mense by ANC-byeenkomste.

“En ons het dit net gedoen,” het Agrizzi aan Styan en Vecchiatto gesê.

“Bosasa het vir baie ANC-byeenkomste betaal . . . Ons moes al die spyseniering reël en ek was in beheer daarvan. Ek het die hele ding bestuur – dink net – spyseniering vir tot soveel as 80 000 mense. Ons het hoender- of beesvleisbredie voorberei en twee groentes, twee blikkies koeldrank en ’n vars vrug per persoon. Ons het gedink ons was besig om ’n goeie ding te doen.

“Ons het ook vir die baie, baie belangrike mense spyseniering gedoen, maar dit was heelwat meer uitgebreid en spoggerig. Dit sou borde met voorgereg, slaaie en nagereg ingesluit het.”

Meer oor:  Gavin Watson  |  Jacob Zuma  |  Angelo Agrizzi  |  Bosasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.