Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Barend du Plessis: ‘Ondersoek was antwoord op my gebed’
Barend du Plessis

As die engel Gabriël hom môre kom haal, laat hy geen enkele onbelyde sonde agter nie. “En ek kan met die grootste vrymoedigheid sê pedofilie was nooit ’n sonde waaroor ék moes bely nie.”

Só sê Barend du Plessis (79), ’n voormalige minister van finansies, nadat ’n private ondersoeker in September verlede jaar geen bewyse kon vind wat Du Plessis en oudgenl. Magnus Malan met beweringe van pedofilie op Bird-eiland kon verbind nie.

Netwerk24 het albei die forensiese verslae bekom. 

Die boek Die seuns van Bird Island het op 5 Augustus verlede jaar verskyn en handel oor ministers se beweerde seksorgies met jong seuns tydens “visvanguitstappies” op dié eiland.

Malan asook John Wiley, voormalige ministers van onderskeidelik verdediging en omgewingsake, is by name by die seksmisdrywe betrek.

Daar word in die boek verwys na die “derde minister wie se naam op regsadvies weerhou word”, maar Du Plessis het homself in die week nadat die boek verskyn het, in ’n onderhoud met Rapport geïdentifiseer en ’n bykomende verklaring verskaf “omdat ek in elk geval toe reeds geïdentifiseer is”.

Hy bedoel daarmee dat daar genoeg aanduiders in die boek en mediaberigte van die vorige week was om vingers na hom te wys.

In sy eie verklaring in Augustus 2018 sê Du Plessis:

Beriggewing in hierdie media identifiseer deurlopend en onverbloemd die lewende “derde minister” as ’n pedofiel en deel van ’n pedofielnetwerk.

Dan, terwyl hulle nooit sy naam openbaar maak nie, beskryf die boek en artikels die derde minister in sy persoon op maklik herkenbare wyse, soos volg:

(a) dat hy nog lewe;

(b) dat hy ’n kandidaat was om pres. PW Botha op te volg;

(c) dat hy ’n vakansiehuis aan die Oos-Kaapse kus besit;

(d) dat hy saam met Magnus Malan en John Wiley Bird-eiland besoek het.

“Die feit dat ek nou die skoen aantrek, is hoegenaamd nie ’n erkenning van die ontstellende bewerings nie. Dit is eerder ’n bevestiging van die duidelike identifikasie in die boek en (media)berigte dat ek die gewese minister is wat nog in lewe is, dat ek ’n vakansiehuis in die Oos-Kaap het en dat ek ’n kandidaat was om by die destydse staatspresident oor te neem,” het hy in die onderhoud met Rapport gesê.

Du Plessis eis nou ’n openbare verskoning van onder meer Tafelberg, uitgewer van die boek; Chris Steyn, medeskrywer; en nuuspublikasies wat hom met die bewerings verbind het.

Du Plessis kry die verslag

Du Plessis het in Januarie vanjaar die verkorte verslag van twee bladsye bekom.

Hy sê hy het eers uitgevind van die ondersoek nadat “ ’n vertroueling uit my politieke geskiedenis” ’n afskrif van die verslag sonder die ondersoeker se medewete aan hom verskaf het.

Wouter de Swardt van Fox Forensics in Durbanville is al 46 jaar ’n private ondersoeker. Hy het vir 16 jaar in die polisie gedien, waarvan 14 jaar in die speurdiens in Kaapstad was.

“Die ondersoek was soos ’n antwoord op my gebed,” sê Du Plessis. “Ek het só geworstel met die Here. Ek is as lokaas gebruik om ’n boek, wat gegrond is op leuens, te verkoop. Wat my betref is niks in hierdie boek ondersoek nie. Dis saamgeflans. Dit het die publiek mislei,” het hy in sy telefoniese onderhoud aan Netwerk24 gesê.

bird-eiland
Só lyk die boek se voorblad.

Steyn wou nie op die uitlatings kommentaar lewer nie.

Du Plessis het De Swardt onmiddellik na Pretoria, waar Du Plessis woon, laat kom om meer uit te vind oor die verslag.

Hy het verneem dat die Menseregtestigting De Swardt en die forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow opdrag gegee het om Minnie se dood te ondersoek. De Swardt het ook op opdrag van die Menseregtestiging die bewerings van pedofilie in die boek ondersoek. Daarvoor het hy 11 dae in Port Elizabeth deurgebring.

Toe Du Plessis die verslag bekom het, was hy reeds besig om regsadvies in te win oor ’n moontlike lastereis. Hy het egter intussen besluit hy sien nie in dié stadium van sy lewe kans vir lang litigasie nie.

“Daar was derduisende kiesers in Florida (Johannesburg) wat my elke jaar parlement toe gestuur het. Derduisende het van die politieke verhoë af en op televisie na my geluister… Maar nou loop ek in die straat en sodra iemand my herken, dink ek: ‘Dink jy ook ek is ’n pedofiel?’ Dié ding het my byna vernietig. Dit was die moeilikste paar weke van my hele lewe,” aldus Du Plessis.

Die karakters

Wiley en David Allen, ’n skatryk sakeman en polisiereservis van Port Elizabeth, wat ook by die bewerings betrek word, het hulself in 1987 kort ná mekaar om die lewe gebring.

Allen het homself geskiet voordat hy in die hof in verband met aanklagte van ’n seksuele aard kon verskyn.

Gerugte van homoseksuele bande tussen Allen en Wiley kon nooit bewys word nie.

Du Plessis sê as daar so ’n verhouding bestaan het, hy dit nooit opgemerk nie. “Maar as jy homoseksueel is, beteken dit steeds nie jy is ’n pedofiel nie.”

Oor Malan sê hy: “Ek het Magnus baie goed geken. Ek kan nie vir een enkele oomblik glo dat hy aan dié misdrywe skuldig was nie.”

Die besoek aan Bird-eiland

In die boek word verwys na ’n visvanguitstappie na Bird-eiland in die 1980’s, gevolg deur nóg uitstappies, waartydens die beweerde misdrywe gepleeg is.

Du Plessis herroep die enkele keer in die tagtigerjare wat hy op Bird-eiland was: “Dit was suiwer sosiaal. Ek en ander ministers en hooggeplaastes is na die opening van ’n nuwe gwano-laaikaai genooi. John Wiley het ons uitgenooi. Ons het ook ’n bietjie gehengel.”

Hy ontken dat hy weer daar was, of dat hy, of enige ander persoon saam met hom op die eiland, enige misdrywe gepleeg het.

bird-eiland
Só lyk die boek se voorblad.

Du Plessis het ’n verklaring oor die geleentheid in Augustus verlede jaar uitgereik:

Ek was in Desember 1986 op Bird Island.

My destydse sekretaresse wat vir baie jare my dagboek as minister van finansies gereël het, Annette Heydenreich – nou Mentz – het onlangs teenoor my haar skok en verontwaardiging oor die berigte oor die gebeure op die eiland uitgespreek.

Sy het gesê dat sy die storie van die uitnodiging na Bird-eiland goed onthou.

Sy het in Desember 1986 in my kantoor in Pretoria ’n uitnodiging van John Wiley se kantoor ontvang, waarin ek na die ingebruikneming van die nuwe kaai vir gwano-bote op die eiland genooi is en wat gemeld het dat daar geleentheid vir hengel sou wees.

Sy het my per landlyn Heidestrand (Du Plessis se strandhuis in Eersterivier) toe geskakel en gesê dat etlike ander ministers ook genooi was, insluitende Magnus en dat ek per helikopter na en van die eiland vervoer sou word.

Ek het dit aanvaar, maar gesê dat ek slegs twee nagte daar sal kan wees, want ek en my hele gesin was vir ’n kort tydjie, vir slegs ons tweede vakansie in ons nuut-geboude huis, saam op Heidestrand en ek wou gou weer terug wees by hulle.

Toe ek op die eiland aankom, was daar, behalwe vir dr. Willie Maritz, ’n skool klasmaat van my oudste seun, etlike ander persone wat ek nooit vantevore gesien of ontmoet het nie en ook nooit weer daarna nie.

Dit was my eerste en enigste besoek ooit aan Bird Island.

Barend du Plessis

Byvoeging op Sondagaand 4 Maart 2019:

Uiteraard was die gasheer, John Wiley daar, asook Magnus Malan en dalk ander persone wat ek ook tevore ontmoet of dalk geken het, maar wat ek nie in herinnering kan roep nie.

Steyn wou nie op die uitlatings deur Du Plessis en die feit dat hy ’n verskoning eis, kommentaar lewer nie.

Sy wou ook nie op die inhoud van die verslag kommentaar lewer nie, omdat sy dit nie gesien het nie.

“Ek ontken ten sterkste dat ek enige inligting of bewerings in die boek gefabriseer het. Die bewerings in die boek word nie deur my persoonlik gemaak nie, maar deur mense met direkte kennis van die saak, onder meer Dave Allen se eie broer, Geoff Allen. Ek het al die bewerings akkuraat weergegee. Hierdie bewerings word nou amptelik deur die polisie ondersoek en die ondersoek moet sy loop neem.”

Tafelberg, uitgewer van die boek, het by navraag gesê: “Die Menseregtestigting het De Swardt aangestel om ’n ondersoek te doen en hy het ’n verslag gelewer. Tafelberg was nie by die ondersoek betrokke nie en het ook nooit dié verslag gesien nie. Ons kan dus geen kommentaar op die verslag of die ondersoek lewer nie. Op die ander vrae het Tafelberg geen kommentaar nie.”

Tim Fletcher, prokureur van Cliffe Dekker Hofmeyr, wat vir die stiging optree, sê De Swardt en dr. Klatzow het gehelp met die ondersoek.

“Hul ondersoek en enige verslae wat daaruit gespruit het, is vertroulik en dit is teleurstellend dat dit nou blyk dat iemand dit aan julle gegee het. Julle is nie geregtig op daardie inligting nie. Julle kan dit net wettig hê met die instemming van my kliënte, die Minnie-gesin, wat nie toestemming gegee het nie.

“Dit sluit in gesprekke met mnr. De Swart oor sy mandaat, die terme en enige optrede van dr. Klatzow wat hy waargeneem het tydens sy ondersoek.

“Wat ek wel kan bevestig, is dat inligting wat betrekking het op bewerings in Die seuns van Bird Island in die loop van die ondersoek verkry is en ons opdrag was om daardie inligting oor te dra aan brig. Harri, hoof van die Wes-Kaapse eenheid vir kinder- en gesinsgeweld. Die inligting is aan hom gegee en ons stel voor dat julle jul navrae oor die strafregtelike ondersoek aan brig. Harri rig.

De Swardt ontken dat hy ooit ’n amptelike kontrak en nieopenbaarmakingsooreenkoms met die stigting gesluit het.

* Du Plessis was tussen Junie 1984 en Mei 1992 die land se minister van finansies. Oudpres. FW de Klerk en Du Plessis het albei om die pos van staatspresident meegeding. De Klerk het met agt stemme gewen.

* Klatzow wou by navraag nie met die media praat nie, omdat sy ooreenkoms met die stigting ’n nieopenbaarmakingsooreenkoms ingesluit het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.