Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Bird-ondersoek kon beter wees

Die private ondersoeker wat glo dat bewerings van ’n pedofielnetwerk waarby senior kabinetslede uit die apartheidsera glo betrokke was “ ’n klomp twak is”, het nie met verskeie potensiële getuies gepraat nie.

Magnus Malan, oudminister van verdediging.

Wouter de Swardt is deur die Stigting vir Menseregte gehuur om die bewerings wat in die veelbesproke boek Die seuns van Bird Island gemaak word, te ondersoek. Dié stigting wil die nalatenskap van apartheid takel deur transformasie te bevorder. Die familie van een van die skrywers, Mark Minnie, het die stigting gevra om die omstandighede rondom sy selfmoord te ondersoek.

Minnie het homself in Augustus verlede jaar, kort ná die verskyning van die boek, geskiet te midde van sterk omstredenheid oor die boek wat hy saam met die joernalis Chris Steyn geskryf het. Die stigting het vir De Swardt en die forensiese ondersoeker dr. David Klatzow opdrag gegee om die ondersoek te doen.

In die boek beweer Minnie en Steyn dat genl. Magnus Malan, oudminister van verdediging, John Wiley, die oudminister van omgewingsake, en ’n derde kabinetslid straatseuns met lugmaghelikopters na Bird-eiland in Algoabaai gevlieg het, waar hulle seksueel gemolesteer is.

De Swardt het Vrydag aan Rapport gesê dat hy geen bewyse kon kry dat die vernaamste bewerings in die boek waar is nie. Hy sê al wat waar is, is dat daar inderdaad destyds ’n pedofielring in die Baai bedryf is met die sakeman Dave Allen as leier. Dit word dekades lank al beweer dat Wiley, wat ook destyds sy eie lewe geneem het, hierby betrokke was.

De Swardt twyfel of die dokter werklik bestaan.

De Swardt sê sy mandaat is beëindig kort nadat hy sy eerste verslag aan die stigting oorhandig het. Hy het vasgestel dat Minnie kort voor sy dood internetsoektogte gedoen het oor hoe om jouself om die lewe te bring. Hy sê sowel hy as Klatzow is oortuig dat Minnie homself geskiet het en nie vermoor is om hom stil te maak nie – soos sommige mense beweer.

De Swardt sê die res van Minnie en Steyn se boek is ’n “klomp twak” en dat Steyn se “reeks innuendo’s” nooit in ’n hof sal staan nie. Hy sê Minnie se bydrae is “suiwer fiksie” van ’n “man wat op soek was na roem”.

Uit De Swardt se gesprek met Rapport het dit egter duidelik geword dat daar verskeie potensiële getuies is waarmee hy glad nie gepraat het nie of wat hy nie kon opspoor nie.

  • Die belangrikste hiervan is ’n mnr. X wat kort ná die verskyning van die boek aan die Netwerk24-joernalis Maygene de Wee vertel het dat hy as jong seun ontvoer is en vir twee nagte lank aangehou en gemolesteer is deur ’n man wat hy as Malan geïdentifiseer het.

De Swardt sê hy het probeer kontak maak met die man, maar dat Netwerk24 nie sy besonderhede aan hom wou verskaf nie.

Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24, sê dit is standaardpraktyk dat joernaliste nie die identiteit van bronne bekend maak sonder hul toestemming nie. Sy sê dat hulle wel mnr. X se naam en kontakbesonderhede met sy toestemming aan die polisie gegee het (wat besig is met hul eie ondersoek).

  • Volgens die boek was Gordon Lamastra, Minnie se destydse kollega, saam met hom in die kantoor toe een van die seuns die mans wat hulle glo gemolesteer het op ’n foto geïdentifiseer het.

Rapport het verlede jaar met Lamastra kontak gemaak. Hy het toe gesê hy kan die gebeure goed onthou, veral dat die seun vir Wiley, Allen en Malan uitgewys het. De Swardt het Vrydag gesê hy het nie met Lamastra gepraat nie omdat hy hom nie as geloofwaardig beskou nie.

  • Die seun wat dié uitkennings doen, word in die boek geïdentifiseer met die skuilnaam “Wil­liam Hart”. De Swardt sê hy het hom opgespoor. Hy sê “Hart”, ’n dwelmverslaafde en alkoholis, het die gebeure soos wat Minnie en Lamastra dit beskryf, ontken.

Hart het ook die betrokkenheid van NP-hoës in die gebeure ontken, maar wel erken dat hy Allen se sex toy was.

  • Minnie maak ook melding van ’n seun met ernstige inwendige beserings wat per helikopter na ’n hospitaal gebring is vir behandeling. Minnie het destyds aan Rapport gesê wie die dokter was wat die seun behandel het. Rapport het hom gekontak, maar hy wou nie bevestig of ontken dat hy betrokke was by so ’n operasie nie, buiten om te sê dat die dokter-pasiënt-vertroulikheid in gedrang sal kom.

De Swardt sê hy het nie die dokter probeer kontak nie en twyfel of hy werklik bestaan.

  • De Swardt het wel met oudhelikoptervlieëniers van die lugmag gepraat wat gesê het dat hulle destyds ministers en ander hooggeplaastes na Bird-eiland toe gevlieg het, maar dat hy geen bewyse kon vind dat hulle enige seuns daarheen gevlieg het nie.

Rapport het verlede jaar ook met ’n senior lugmagoffisier gepraat wat erken het dat die lugmag in 1986 gevra is om drie kabinetslede, waaronder Wiley en Malan, na die eiland te vlieg. Hulle het visstokke by hulle gehad, het die lugmagoffisier aan Rapport gesê.

Yasmin Sooka, uitvoerende direkteur van die Stigting vir Menseregte, sê sy en die Minnie-familie is geskok dat De Swardt se verslag aan die media uitgelek is. Sooka sê inligting uit die verslag is aan brig. Sonja Harri van die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorhandig.

Teksboodskappe met versoeke om kommentaar na Klatzow se selfoon is gelees, maar hy het nie geantwoord nie.

Meer oor:  Magnus Malan  |  Mark Minnie  |  Chris Steyn  |  Wouter De Swardt  |  Boek  |  Pedofilie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.