Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Birdeiland: Poligraaftoets 'bewys niks' oor inhoud

Die feit dat Chris Steyn (59), medeskrywer van Die seuns van Bird Island, ’n leuenverklikkertoets geslaag het, beteken nie die inhoudelike bewerings in die boek is die waarheid nie, sê die Suid-Afrikaanse Professionele Poligraafvereniging (SAPPV).

Netwerk24 het onlangs berig Wouter de Swardt, ’n private ondersoeker van Kaapstad, kon geen bewyse vind dat wyle genl. Magnus Malan en Barend du Plessis (79), albei senior lede van die destydse NP-regering, by seksorgies met jong seuns betrokke was soos wat in die boek beweer word nie.

Jacques Pauw
Jacques Pauw Foto: Deaan Vivier

Derek Watts, aanbieder van Carte Blanche, het op 7 April ’n onderhoud met De Swardt, Du Plessis en die ondersoekende joernalis Jacques Pauw gevoer, asook met “William Hart”, een van die sogenaamde slagoffers wat in die boek genoem word.

In dié onderhoud ontken Hart dat hy ooit op Bird-eiland was. Hy het ook nie die ministers persoonlik geken nie dit het toe bekend geword dat hy lankal nie meer ’n kind was toe die beweerde misdade in 1986/1987 plaasgevind het nie.

Pauw skryf in die eerste uitgawe van die Vrye Weekblad onder meer hoe Mark Minnie, oudpolisieman wat saam met Steyn aan die boek gewerk het, in ’n e-pos aan Steyn en Maryna Lamprecht, uitgewer van Tafelberg, wat die boek uitgegee het, gesê het hy het “geen konkrete bewyse dat enige van die drie ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer (sic) het nie”. Dié e-pos is ook op Carte Blanche vertoon.

Steyn sê in ’n verklaring sy het besluit om die leuenverklikkertoets op 1 April af te lê ná bewerings dat sy die aantygings in die boek “gefabriseer” het.

Mark Minnie (regs) saam met Chris Steyn, mede-skrywer van Die Seuns van Bird Island. Foto: Verskaf

Die belangrikste vrae wat sy volgens die verslag deur die poligrafis in die leuenverklikkertoets moes beantwoord, was:

  • Het jy enige van die inligtingsbronne wat jy in jou boek, Die seuns van Bird Island, aangehaal het, gefabriseer?
  • Het jy enige van die aantygings wat jy oor daardie mense geskryf het in jou boek, Die seuns van Bird Island, vervals?
  • Het jy enige van die vermelde bewerings oor daardie mense in jou boek, Die seuns van Bird Island, vervals?
  • Het jy enige van daardie aantygings in jou boek, Die seuns van Bird Island, ingesluit sonder ’n werklike menslike bron?

Raymond Nelson, wat die toets afgeneem het, sê dat Steyn na sy mening as ’n kenner die waarheid gepraat het toe sy “nee” geantwoord het op al dié vrae oor of sy enige bewerings van inligtingsbronne in die boek vervals het.

In die boek word beweer dat Malan, ’n voormalige minister van verdediging en oudhoof van die weermag, John Wiley, destydse minister van omgewingsake, asook ’n “derde minister” seksmisdade met jong seuns gepleeg het op “visvanguitstappies” op Bird-eiland digby die kus van Port Elizabeth.

Die ministers word betrek by die beweerde sekskapades van Dave Allen, ’n skatryk sakeman en polisiereservis van Port Elizabeth. Wiley en Allen het hulself in 1987 kort ná mekaar om die lewe gebring.

Uit leidrade in die boek kon afleidings gemaak word dat die derde minister Du Plessis is. Hy het toe oor die bewerings met die media gepraat en is so geïdentifiseer.

“Daar is geen twyfel nie dat daar inderdaad ’n pedofielring in die gebied (Port Elizabeth) bedryf is, met Dave Allen as die ringleier. Maar daar is geen bewyse dat die politici wat in die boek genoem en geïnsinueer word, buiten Wiley, by die pedofielring betrokke was wat in die 1980’s in Port Elizabeth bedryf is nie,” skryf De Swardt in sy een ondersoekverslag.

De Swardt sê ook daar bestaan geen konkrete bewyse wat Wiley by pedofilie betrek nie. Sy gevolgtrekking in die verslag oor Wiley spruit uit sy ondersoek in Port Elizabeth, onder meer uit gesprekke met ’n persoon wat as “William Hart” in die boek bekend staan.

Netwerk24 is in besit van “Hart” se regte identiteit, maar weerhou dit op regsadvies.

Steyn se medeskrywer, Mark Minnie, is op 13 Augustus verlede jaar dood aangetref op die plaas Theescombe in die distrik Port Elizabeth. Die polisie het bevind hy het homself geskiet.


SAPPV reageer op die leuenverklikkertoets

Netwerk24 het die leuenverklikkersverslag aan Niel du Toit, voorsitter van Sappa, verskaf, wat in oorleg met sy mederaadslede soos volg op navrae gereageer het:

Vraag: Wat sê dié leuenverklikkertoets van Chris Steyn vir ons?

Antwoord: “Die kwessie ter sake wat deur die poligrafis getoets is, was om te bepaal of dít wat in die boek gepubliseer is, ’n ware weerspieëling is van wat aan die skrywer deur haar bronne bekend gemaak is, met ander woorde: Het sy hul storie feitelik oorgedra soos dit aan haar geopenbaar is of het sy die pap ’n bietjie dikker aangemaak?

“Noudat sy die toets geslaag het, kan die afleiding egter nie gemaak word dat die bewerings in haar boek die waarheid is nie. Om dít te bepaal sal die bronne ’n toets moet ondergaan of indien die bronne nie beskikbaar is nie, die mense teen wie die aantygings gemaak word.”

Vraag: Wat sê die leuenverklikkertoets van Chris Steyn nié vir ons nie?

Antwoord: “In kort: Dit sê nie vir ons dat die bewerings die waarheid is nie.”

Vraag: Watter ander leuenverklikkerroete sou ’n mens kon volg of watter ander vrae sou ’n mens aan wie kon vra om te bepaal of die bewerings in die boek die waarheid is, al dan nie?

Antwoord: “Daar is konsensus onder die Suid-Afrikaanse poligrafiste dat die mense teen wie die bewerings gemaak word eerder getoets moet word – ook die skrywer se bronne, indien dit bekend is. Dit sal dan eerder ’n aanduiding gee oor die waarheid van Die seuns van Bird Island.”


Die leuenverklikkertoets word afgelê

Steyn se leuenverklikkertoets is deur Nelson, voormalige hoof van die American Polygraph Association (APA), afgeneem.

Du Toit het bevestig dat Nelson bekend is in poligrafiese kringe – veral in die opleiding en lesings oor poligrafie. Hy is tans in Denver, Colorado, waar hy lesings aanbied.

Ben Lombaard, self ’n poligrafis van LieTech-poligraaf- en forensiese dienste in Bellville, het Nelson op 1 April genader om die leuenverklikkertoets te kom afneem terwyl hy in Suid-Afrika is.

Lombaard is ook ’n direkteur van die International Polygraph Studies Centre, lid van APA en bestuurslid van die Southern African Polygraph Federation (Sapfed) en was voorheen al die president van die federasie.

Lombaard sê hy het weens die omstredenheid van die saak besluit om nie self die leuenverklikkertoets af te neem nie.

“Gelukkig was Raymond toe in die land en my gas aan huis.”

In kort: Dit sê nie vir ons dat die bewerings die waarheid is nie.

Hy sê ’n derde party het die leuenverklikkertoets versoek.

“ ’n Mandaat is verkry en ons het voortgegaan en die toets gedoen,” sê Lombaard.

“Sy (Chris Steyn) het met ’n stel voorafopgestelde vrae by ons aangekom, maar ons het dit nie gebruik nie. Ons het self besluit oor die vrae wat gevra is. Ons sal ons nie laat manipuleer nie.”

Volgens Lombaard was Steyn sowat vier uur lank in sy kantoor in Bellville, “omdat dit ’n baie ingewikkelde saak is waarmee gewerk is”.

“Sy en Raymond het eers die hele boek deurgewerk.”

Lombaard sê die toets het bevestig dat Steyn nie die inligting vervals het wat sy sê sy by bronne gehoor het nie.

“As hulle die inhoud van die boek wil toets, moet hulle die bronne toets. Ons kon nie toets of wat die bronne vir haar gesê het die waarheid is nie. Ons kon net toets op die feite wat sy vir ons gegee het.

“Ons kon bevestig dat sy, na die beste van haar wete en oortuiging, die waarheid praat rakende al die mense met wie sy onderhoude gevoer het en dat sy wél akkuraat daaroor in haar boek terugvoering gegee het.”

Charles Kemp, voorsitter van Sapfed, bevestig ook dat die uitslag van die leuenverklikkertoets nie beteken dat die inhoud van die boek die waarheid is nie.

“Die doel van die toets was nie om die inhoud te bevestig nie, dis duidelik uit die vrae wat gevra is. Ek dink sy het probeer bevestig dat sy niks in die boek opgemaak het nie. Dit los egter nie die groter probleem (oor die waarheid van die bewerings in die boek) op nie. Om dit te doen, sal hulle haar bronne moet toets.”


Die ‘derdeparty’

Barry Taylor, ’n forensiese ondersoeker wat tans in Thailand woon, het uit Thailand bevestig hy het die leuenverklikkertoets namens Steyn aangevra.

“Ek is deur ’n vriend van Chris gevra om haar by te staan met die bewerings teen haar en NB-Uitgewers. Ek het haar ’n paar keer ontmoet en met haar oor die boek gepraat. My lees van haar liggaamstaal was dat sy die waarheid praat en nie ’n storie versin het vir geld of (om) naam (te) maak nie.”

Taylor sê hy het aan Steyn voorgestel dat sy ’n leuenverklikkertoets aflê en só “bewys dat sy nie die storie opgemaak of versin het nie”.

“Ek het geweet dat ’n poligraaf vir haar baie meer geloofwaardigheid sou gee by baie mense.”

Taylor sê hy is tevrede met die uitslag, “want dit toon dat sy nie die storie opgemaak het nie”.


Die polisieondersoek

Genl.maj. Jeremy Veary, Wes-Kaapse speurhoof, het by navraag gesê die polisie kan nie kommentaar lewer op ’n ondersoek wat nog aan die gang is nie. Op ’n vraag of hulle vorder, het Veary instemmend geantwoord.

Die polisie het voorheen al bevestig dat die ondersoek waarmee hulle besig is nie volg op die vrystelling van die boek nie en veel wyer strek as die inhoud daarvan.

Pauw het aan Carte Blanche gesê die polisie kon nog geen bewyse opspoor wat die ministers aan seksuele mishandeling van seuns verbind nie.

Toe Netwerk24 Veary hieroor vra, het hy gesê enige kommentaar wat hy sal lewer, sal beduidend wees in “die een of die ander rigting”. Hy wou dit dus nie bevestig of ontken nie.

“Ons bewyslas is baie hoër as wat nodig is vir ’n boek of ’n mediaberig. Daar is statutêre bepalings en wetgewing wat ons bewyslas rig. Die prosesse wat ons volg, teenoor wat skrywers of ondersoekende joernaliste volg, is totaal verskillend. Dit verskil veral in bewyskrag en in standaarde van oortuigingskrag. Ons luister na mense, maar ons werk onafhanklik en volgens ons bepalings.”

Veary sê die polisie is besig om die hele ondersoek te “herkonstrueer”.

“Jy moet besef ons praat van beweerde voorvalle wat in die 1980’s plaasgevind het. Die bewyslasstandaarde van daardie tydvak skiet ver tekort vergeleke met vandag se tegnieke om getuienis in te win.”


’n Regskenner sê

Adv. Johan Kruger, wat 22 jaar ’n senior staatsadvokaat in die nasionale vervolgingsgesag was en tans in die private sektor werk, sê ’n leuenverklikkertoets is nie toelaatbaar in strafsake of strafondersoeke nie.

“Dit is geykte reg in sowel Suid-Afrikaanse gemenereg as jurisprudensie dat poligraafuitslae ontoelaatbaar is in ons strafhowe. Dis nog altyd so, selfs voor ons Grondwet. Sulke uitslae kan ondersoekers dalk in ’n rigting stuur, maar vorm nie deel van die dossier wat aanklaers uiteindelik moet oorweeg om te besluit oor vervolging al dan nie.”


De Swardt reageer

De Swardt sê in sy loopbaan van langer as 40 jaar het hy honderde leuenverklikkertoetse bygewoon en ondersoeke gedoen waar die toetse nodig was. Hy sê die vrae “verwys slegs na haar aantygings en bronne, niks anders nie”.

Hy het op elke vraag soos vervat in die leuenverklikkerverslag gereageer.

Het jy enige van die inligtingsbronne wat jy in jou boek, Die seuns van Bird Island, aangehaal het, gefabriseer?

De Swardt sê: “Ek dink nie Steyn het enige getuies gefabriseer nie. Terwyl ons saam in Port Elizabeth was, het sy vir my ’n lys van ‘moontlike getuies’ gewys, wat na vore gekom het in reaksie op ’n mediaversoek vir getuies om na vore te kom. Baie mense het met sogenaamde ‘bewyse’ gereageer, en nog bewerings. Steyn het selfs van die name aan my verskaf om op te volg. Niks daarvan het na bruikbare inligting gelei nie, want dit was “beweer”, “of iemand het vir my gesê” of “ek het gehoor dat . . .”.

Het jy enige van die aantygings wat jy oor daardie mense geskryf het in jou boek, Die seuns van Bird Island, vervals?

De Swardt sê: “Sy het die vraag geslaag, want ek glo sy het nié die bewerings wat aan haar deur sogenaamde getuies gegee is, vervals nie.”

Het jy enige van die vermelde bewerings oor daardie mense in jou boek, Die seuns van Bird Island, vervals?

De Swardt sê: “Dié vraag is eintlik dieselfde as die vorige vraag. Sy het die toets op die vraag geslaag, want ek glo sy het nié die bewerings oor ‘daardie mense’ vervals nie. Sy het al die bewerings van sogenaamde getuies en natuurlik van Mark Minnie self gekry.”

Het jy enige van daardie aantygings in jou boek, Die seuns van Bird Island, ingesluit sonder ’n werklike menslike bron?

De Swardt sê: “Steyn het vir die media (en vir my) oor die getuies vertel wat na vore gekom het. Dit beteken dat daar duidelik ‘werklike menslike bronne’ was, maar dit bly steeds net bewerings.”

De Swardt sê hy sou haar op die volgende vrae wou laat toets:

  • Het jy enige konkrete bewyse dat Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley by pedofilie betrokke was?
  • Weet jy vir seker dat Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley by pedofilie betrokke was?
  • Is dit waar dat Mark Minnie jou en NB-Uitgewers kort voor die vrystelling van die boek per e-pos daarvan in kennis gestel het dat hy geen bewyse het nie?
  • Kan jy enige getuie of slagoffer na vore bring wat in die hof kan getuig dat hy seksueel misbruik of verkrag is deur Magnus Malan, Barend du Plessis of John Wiley?


Tafelberg reageer

Tafelberg het by navraag gesê die uitgewer was nie vooraf bewus van die leuenverklikkerstoets nie.

“Chris Steyn het die toets in haar persoonlike hoedanigheid as skrywer afgelê. Sy het die uitslae van die verslag met Tafelberg gedeel toe sy dit ontvang het,” sê Lamprecht.

Lamprecht sê verder die uitgewer volstaan by ’n verklaring van Vrydag: “NB-Uitgewers glo dat die publikasie van die boek Die seuns van Bird Island geregverdig was en dat dit absoluut in openbare belang is dat dié storie, wat dekades lank doodgesmoor is, vertel word. Mark Minnie was direk betrokke by die polisie se ondersoek na die bewerings en het persoonlik met verskeie van die verdagtes en getuies in die saak onderhoude gevoer.”

Luidens die verklaring het Steyn gedurende haar ondersoek met “minstens 25 bronne oor verskeie aspekte van die storie gepraat”.

“Minnie en Steyn volg die storie al 30 jaar en het langer as ’n jaar, voor die publikasie van die boek, die saak opnuut ondersoek en bykomende navorsing gedoen. Met die publikasie van die boek, en tot vandag toe, beskou NB-Uitgewers die inligting wat in die boek vervat word as geloofwaardig en in openbare belang. Boonop is verskeie sleutelaspekte van die ondersoek ná publikasie bevestig deur lede van die media wat die bewerings in die boek onafhanklik ondersoek het.

’n Poligraaftoets is net so goed soos die vrae wat gevra is. Ek is nie beïndruk met die vrae nie.
Barend du Plessis

“Verskeie mense met waardevolle, nuwe inligting het ook intussen na vore gekom. Dié mense is na die polisie verwys en sommige het reeds beëdigde verklarings afgelê.”

Tafelberg sê hy was nog altyd “bewus van die uitdagings wat gepaard gaan met die feit dat die skrywers nie toegang het tot die fisieke bewyse in die dossier wat wederregtelik uit Minnie se kantoor verwyder is nie”.

“Ons was ook bewus daarvan dat dit 30 jaar later baie moeilik sou wees om onweerlegbare forensiese bewyse te vind wat die bewerings staaf. Tog was ons, en is ons vandag nog, oortuig dat die outeurs se ondersoek so deeglik moontlik was, die bewerings geloofwaardig is en die publikasie daarvan tot voordeel van die publiek strek. Ons ontken ten sterkste dat NB-Uitgewers enige inligting of feite in die boek gefabriseer het.”

Steyn sê in haar verklaring: “Dit is die kennersmening van mnr. Nelson dat ek die waarheid gepraat het toe ek ‘nee’ op die bogenoemde vrae geantwoord het oor of ek enige bewerings of inligtingsbronne in die boek gefabriseer het.”

Barend du Plessis het by navraag gesê: “ ’n Poligraaftoets is net so goed soos die vrae wat gevra is. Ek is nie beïndruk met die vrae nie.”

Hy wou homself egter nie verder daaroor uitlaat nie omdat hy nie ’n kenner op die gebied van leuenverklikkertoetse is nie.

Oudgenl.maj. Gert Opperman, wat namens die Malan-familie praat, sê die familie neem kennis van die mediaberigte.

“Die familie van wyle genl. Magnus Malan het geen behoefte om op die skrywer, Christa Steyn-Barlow, se benoude spronge te reageer om enige sweem van haar persoonlike geloofwaardigheid te probeer red nie.”

Meer oor:  Chris Steyn  |  Jacques Pauw  |  Bird Island
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.